Hou jouself gesond vir jou troudag

hou jou gesond voor jou troudag 1
Die laaste ding wat jy op jou troudag wil wees, is siek. Yolande van Deventer, apteker aan die Universiteit van die Witwatersrand, gee vir jou raad om jou liggaam in ’n tip-top kondisie te hou.

Stres is ongelukkig deel van die pakket wanneer dit kom by troubeplanning en is ʼn groot sondebok in die verlaging van jou immuunstelsel. Dit is daarom ’n goeie idee om jou immuunstelsel ook so ’n bietjie ekstra oefm en ondersteuning te gee gedurende hierdie tyd, veral as jy gedurende of net na die winter trou.

Hier is 5 maniere om gesond te bly voor en op die dag van jou troue:

1. HOU DIE VYAND BUITE
Voorkoming is beter as genesing. Hou die kieme buite en maak seker dat jy gesond bly. Maak so:

  • Dra ʼn alkoholbasis-handreiniger saam in jou handsak: Smeer dit aan jou hande as jy klaar inkopies gedoen het. Inkopietrollies, hysbaknoppies, toonbanke en roltrapreëlings is oortrek met ongewensde organismes. Die alkohol vernietig baie van hierdie kieme.
  • Was jou hande: Hierdie eenvoudige gebaar kan jou baie siekword spaar. Dettol het ’n oulike batteryaangedrewe seephouer, wat hierdie takie sommer baie maklik maak.
  • Moenie mense op die mond soen nie: Hou jou lyf Europees en soen op die wange of in die lug. Boonste lugwegsiektes word deur druppels en direkte kontak oorgedra. ʼn Mens se mond is soos ʼn hoofweg vir organismes.
  • Was onsuiwerhede uit met water: Wanneer jy jou twee liter water inkry vir die dag, hidreer jy nie net nie, maar jy help jou lyf om toksiene (wat jou immuunstelsel vertraag) uit te was.

hou jou gesond voor jou troudag

2. GEE JOU WEERMAG DOEPA
Versterk die soldaatjies in jou lyf met hierdie natuurlike middels:

      • Echinaforce druppels van A.Vogel- Echinacea het verhoog jou weerstand teen bakteriële en virale infeksies. Drink 20 druppels een keer per dag as voorkoming, of vyf keer per dag as jy voel daar kom ʼn snuffel aan. Dit stop die storie in sy spore.
      • Linctagon bruistablette – As jy voel jou neus begin brand, drink 1 bruistablet drie keer per dag.
      • Knoffel, brandrissies en gemmer is absolute staatmakers as dit kom by kos wat kieme uitklop. Winterbredies, roerbraai en kerrie is juis winterstaakmakers en ʼn maklike manier om hierdie wenners in te sluit.

hou jou gesond voor jou troudag - b

3. KRY JOU ABC
A – Antioksidante werk veroudering en verwering in jou lyf tee. Dink daaraan as jou lyf se anti-roes produk. Kry jou dosis met Groentee en Rooibostee in.
B – B vitamiene is die pantserdrag vir jou senuweesisteem. Nie net gaan dit jou ʼn huppel in jou stap gee nie, maar dit gaan jou senuwees help kalmeer en uitbranding help voorkom. My gunsteling- sakpasproduk is Vital se Maxi B
C- Vitamien C is ʼn ou bekende, maar dit maak hom nie minder effektief nie. Dit sit jou immuunsisteem in sy top rat. Mik om so 1000mg ʼn dag in te kry. ʼn Waarde vir geld kopie bly ʼn produk soos Scorbex 500mg. Drink elke dag twee tablette vir jou dosis.

Winterkossoorte wat ook gepak is met vitamiene C sluit koejawels, broccoli, rissies, ertjies en papaja in.

hou jou gesond voor jou troudag 4

4. RAAK ONTSLAE VAN OORTOLLIGE KORTISOL
Kortisol is jou lyf sy plaaslik vervaardigde kortisoon en dis ʼn bewese feit dat langdurige kortisoon jou immuunstelsel verlaag. Oormatige en langdurige stres stel ’n oormaat kortisol vry en het dus hierdie effek. Oefening verlaag stres hormone soos Kortisol en Adrenalien en verhoog “goedvoel-hormone” (endorfiene).

  • Kalmerende oefeninge soos Joga en Pilates wat fokus op liggaamsbalans is veral effektief teen stres. Doen 1 uur, 3 keer per week.
  • Dans is ook uitstekend, want dit laat jou lag en jy kry oefening in. Twee dinge wat immuniteit die hoogte laat inskiet. En ’n dansles of twee saam met jou geliefde, om voor te berei vir die troue, is glad nie te versmaai nie.        Foto’s: Holistic Healing News en The Bridal Circle

hou jou gesond voor jou troudag 5
5. SLAAP
Jy doen tog nie herstelwerk aan jou kar terwyl jy ry nie. Net so kan jou liggaam nie herstel as hy nie afsluit (slaap) nie. Uitputting laat jou liggaam se weermag weerloos en dan kom die vyand makliker in.

  • Mik vir 6-8 ure.
  • Knip ʼn uiltjie as jy moeg is. Hierdie kragslapie doen meer wondere as wat jy dink.
  • Gebruik ʼn natuurlike middel soos Dormeasan van A.Vogel of Rescue van Natura as jy sukkel om af te skakel.
    hou jou gesond voor jou troudag 6
    Foto: Sleep Better, Live Better

Written by Troukoors