Kies die perfekte lipstiffie vir jou troudag

perfekte lipstiffie vir jou troudag1
Elke bruid wil graag hê dat haar lippe perfek moet lyk vir die soen wat van haar ’n mevrou gaan maak. Hier is ’n paar wenke om die perfekte lipstiffie vir jou groot dag te kies.

Om die regte lipstiffie te kies vir jou troudag, kan nogal ’n uitdaging wees, want daar is meer faktore om in ag te neem as net die kleur. Hierdie raad sal die takie vir jou dalk bietjie makliker maak.

KIES IETS WAARVAN JY HOU
Dit is belangrik om altyd ’n kleur te kies, wat nie net by jou gelaat pas nie, maar waarvan jy hou en waarmee jy gemaklik voel. As jy nie normaalweg rooi lipstiffie sou gebruik het nie, moet dit ook nie nou doen nie, al dink jou grimeerkunstenaar dit sal pragtig lyk. Onthou, jy moet baie foto’s neem en voor mense verskyn op die dag, so jy moet gemaklik voel in jou eie vel. Wees so ver as moontlik die REGTE JY, want dit sal jou net nog mooier laat lyk op die dag.

VOGTIG, MAAR NIE TAAI NIE
’n Lipstiffie wat jou lippe sag en vogtig laat vertoon, is die beste keuse vir jou troudag. Die geheim is om so natuurlik as moontlik te lyk en iets te kies wat lank sal hou. ’n Lipstiffie met te veel glans sal weer te taai wees en op alles af smeer. Dieselfde geld vir lipglans. So kies iets met ’n natuurlike glans, wat nie taai is nie.

KIES IETS WAT HOU
Jy gaan nie op jou troudag kans hê om jou grimering heeltyd op te knap nie… en daar gaan die heeltyd foto’s geneem word. So maak seker dat jy op jou beste vertoon, deur ’n lipstiffie te kies wat lank sal hou en nie op elke wang en mond wat jy soen sal agterbly nie. Toets dit voor die tyd en maak seker dat jy, op die dag wat jy dit toets, baie koeldrank drink en jou aanstaande so ’n paar keer soen, sodat jy seker is jou keuse hou soos wat dit moet. Deur jou lipstiffie in verskeie dun lagies aan te wend, sal ook help dat dit langer hou.

MAAK SEKER JY BESIT DIE KLEUR
Alhoewel jy nie baie tyd gaan hê vir opknap nie, moet jy voorsiening maak vir noodgevalle. So maak seker dat jy die kleur en tipe lipstiffie besit wat die grimeerkunstenaar gebruik, sodat jy weer kan aanwend as dit nodig is.

MOENIE DAT JOU LIPPE VERDWYN NIE
’n Mens hoef nie uitspattige rooi lippe te hê om jou voorkoms op jou troudag te komplementeer nie, maar die teendeel is ook waar – jy wil darem ook nie bleek lyk omdat jou lippe by jou gelaat inskakel nie. As jy ’n ligte, neutrale kleur verkies, kies iets wat van jou gelaatskleur verskil om die nodige effek te kry.

OORWEEG JOU OPSIES
Probeer ’n paar opsies lipkleur saam met jou grimering wanneer jy vir jou proef gaan en kies die een wat die beste saam met jou algehele voorkoms werk – en waarin jy gemaklik voel. Moenie tot die groot dag wag om hierdie besluit te neem nie.

KYK NA DIE NUUTSTE KLEURE EN PRODUKTE
Ja, jy moet kies waarvan jy hou en waarmee jy gemaklik voel, maar die kleur en tipe lipstiffie hoef darem nie uit die 90’s te dateer nie. Kies ’n moderne produk en kleur, want hierdie produkte is spesiaal ontwerp vir die huidige klimaat en ander faktore en sal langer hou as ’n ouer produk.

REVLON HET ’N PAAR OULIKE OPSIES
Revlon® Colorstay Soft & Smooth™
Hierdie reeks is nie net beskikbaar in die mooiste skakering nie, maar sal ook jou lippe vir ’n lang tyd glad en perfek laat vertoon. Die lipstiffie se ryk en romerige tekstuur is baie modern, maar tog ook sjiek. Ideaal vir iemand wat hou van sagte lippe met genoeg vog.

Revlon® Colorstay Overtime™
Hierdie lipstiffie sal jou lippe nie net glad en vogtig laat vertoon nie, maar sal ook vir 16 ure hou, wat oorgenoeg is vir jou Groot Dag. Beskikbaar in pragtige skakerings.

Revlon® Colorstay Ultimate™
As jy hou van die lipglasvoorkoms, sal jy baie van hierdie produk hou. Dit is beskikbaar in mooi kleure en sal jou lippe vogtig en verleidelik laat lyk. Hierdie produk kan tot 24 uur hou en sal nie af gaan as jy eet en drink nie.

perfekte lipstiffie vir jou troudag2

 

Written by Troukoors