Laat troustres jou wakker lê?

hou troustres jou wakker
Jou groot dag is om die draai, en al die troustres laat jou vir ure rondrol wanneer jy eintlik veronderstel is om jou skoonheidslaap in te kry. Wat nou?

’n Bruid moet sprankelend lyk op haar troudag en nie pofferige oë hê wat moeg lyk nie. So as jy nie kan slaap nie, omdat troustres jou laat rondrol, sal jy beslis ’n plan moet maak. Want onthou, as jy moeg is, sal jy beslis ook nie jou mooiste dag kan geniet nie.

Alhoewel daar altyd klein dingetjies is wat skeef loop, is dit nie die ergste nie en gewoonlik sal niemand, behalwe jy, dit in elk geval eers agterkom nie. So hou op om oor die klein dingetjies te stres, sodat jy die groter prentjie kan geniet.

Dit sal egter help as jy jou slaapkamer omskep in ’n veilige slaaphawe, waar jy kan afsluit van die buitewêreld met al sy trouprobleme. Doen dit so:

RUSTIGE KLANKE
Baie mense glo dat as jy jou kamer vul met rustige klanke, jy vinniger sal kan afskakel en beter sal slaap. Veral ook omdat dit geluide soos die bure se hond wat blaf, of ’n alarm wat skree sal demp. Kry vir jou ’n klankmasjien wat spesiaal toegerus is met rustige klanke of koop vir jou ’n CD met kalmerende geluide om in jou kamer te speel. ’n Lugsyweraar, wat met water werk, is ook ’n goeie idee. Dit sal nie net jou lug skoonmaak nie, maar die klank van skommelende water sal jou ook meer ontspanne laat voel. Jy kry ook spesiale druppels om in die water te gooi, wat jou ook sal help om beter te slaap.

KALMERENDE KLEURE
As jy na die troue nie meer dieselfde slaapkamer gaan hê nie, sal dit nie werk om jou mure te verf nie, maar as jy kan sal dit regtig baie help. Kleure soos room, wit, ligblou en liggroen het ’n rustige en kalmerende effek op jou gemoed. Verf dus een van jou mure met hierdie kleur of kies bykomstighede soos gordyne ensovoorts in een van hierdie kleure. As jy rustig voel, sal jy ook beter slaap. Verwyder ook enige onnodige items uit jou kamer, sodat dit oop en ruim is, en dit nie voel asof jy vasgekeer word nie.

BLOK DIE BUITELIG
Navorsing het bewys dat ’n mens beter en makliker slaap wanneer dit pikdonker is rondom jou. Dit is daarom ’n goeie idee (vir voor en na die troue) om in ’n stel digte gordyne en / of blindings te belê. Maak ook seker dat daar nie ander onnodige liggies flikker en skyn in jou kamer nie.

HOU DIE TEMPERATUUR REG
Jy het seker al agtergekom dat as jy te koud of warm kry, jy sukkel om te slaap. Maak dus seker dat die temperatuur in jou kamer reg is, sodat jy rustig kan slaap. Gebruik snoesige beddegoed en ’n elektriese kombers in die winter en skakel die verwarmer aan. Gebruik dun beddegoed en ’n waaier of waterverkoeler in die somer om jou koel en rustig te hou. Dit sal dit vir jou sommer baie makliker maak om aan die slaap te raak.

Hierdie wenke sal ook handig te pas kom na die troue, wanneer julle nou weer moet aanpas om saam in een bed en kamer te slaap.

Elke bruid verdien dit om fris en vars te wees op die dag van haar troue. So maak seker jy kry genoeg skoonheidslaap!

 

Written by Troukoors