Oulike idees vir dankiegeskenkies

dankiegeskenkies1
Dis ’n ou tradisie om klein dankiegeskenkies vir jou gaste te gee om hulle te bedank omdat hulle daar was en sodat hulle jou mooiste dag altyd sal onthou. Marilo van Bella Fiore vertel watter geskenkies tans gewild is.

Deesdae is daar baie oulike idees en jy kan maar net jou verbeeldings lekker gebruik om iets interessant op te tower. Dink aan kreatiewe items wat nie net by die styl en tema van die onthaal pas nie, maar ook julle persoonlikhede weergee. Dit kan dekoratief of prakties wees, ietsie klein of iets wat meer luuks en buitengewoon is.

Gewoonlik word die geskenkies op die gastetafels geplaas. ’n Geskenkie wat pragtig verpak is kan ook gebruik word as ’n naamkaartjie en so deel uitmaak van die tafeldekor. ’n Ander opsie is om die geskenkies op een tafel naby die uitgang te plaas, sodat gaste dit na die onthaal kan huis toe neem.

Dis noodsaaklik om bietjie aandag aan detail te gee met geskenkies, aangesien elke gas of paartjie een gaan ontvang. Hou dit eenvoudig en dit sal stylvol lyk. Hier is ’n paar praktiese idees vir geskenkies wat gekoop of gemaak kan word, onthou dat geskenkies met ’n persoonlike aanslag altyd oorsrponklik en prettig is.

– Vir somertroues kan jy sonbrille met ’n kaartjie: “laat ons liefde jou nie verblind nie” of pragtige waaiertjies uitgee. sitronellakerse is ook ’n gunsteling.
– Vir ’n wintertroue sal pakkies warmsjokolademet ’n kaartjie: “jy maak ons hartjies warm” of ’n pashmina met ’n kaartjie: “to have and to hold, don’t get cold” goed werk.
– Dalk wil jy ’n tuintroue hê: Saadjies in ’n pragtige sakkie of ’n vetplantjie in oulike houertjie met ’n kaartjie: “kyk hoe groei ons liefde” of “seeds of love” werk oulik en gaste kan dit by die huis uitplant.
– As julle van musiek hou kan julle jul gunstelingliedjies op ’n CD of iPod Mini’s laai en mooi verpak.
– Tuisgemaakte items is ietsie meer persoonliks: koekies wat op ’n stapeltjie gepak is en met ’n mooi lintjie verbind is, ’n botteltjie konfyt met ’n kaartjie wat sê: “spread the love” of oulike botteltjies met plaaslike heuning is altyd goeie idees.
– Lekkergoed- of koekietafels is baie gewild op die oomblik. Dit kan in die kleurskema van jou troue wees en elke gas kan ’n sakkie vol lekkergoed of koekies saam huis toe neem.
– Pragtige gehekelde sakkies met kruie of lekkerruik seep vir dames en ’n lekker botteljie likeur vir die mans is altyd ’n gunsteling onder gaste.
– Vir ’n Suid-Afrikaanse geur kan jy enigietsie met ’n Protea of Springbokkie gebruik, dalk ’n oulike borsspeldjie of selfgemaakte kaartjies.
– As julle nie regtig ’n geskenkie wil gee nie, kan julle dalk ’n liefdadigheidsorganisasie ondersteun en ’n mooi notatjie en boodskap vir elke gas gee.
– Al het jy nie ’n begroting vir geskenkies nie, sal ’n klein persoonlike boodskappie op ’n mooi klein kaartjie vir elke gas baie spesiaal wees.

dankiegeskenkies2

Voordat julle besluit wat om te gee, hou maar die volgende in gedagte:
– wil julle dit self maak of eerder koop
– wat julle begroting toelaat
– die aantal en tipe gaste
– hoeveel tyd dit gaan neem om dit te maak of te koop
– hoe lank dit gaan hou

Probeer ook om plaaslike verskaffers te ondersteun. Onthou om te gee is immers net so lekker as om te ontvang.

 

Written by Troukoors