Maak leer deel van jou troue

maak leer deel van jou troue 1
Eden&Co het ’n wye verskeidenheid van die mooiste leer-items wat jy kan deel maak van jou troue. Leer is duursaam en is ideaal vir enige vintage– of plaasstyltroue. Dit is ook die ideale geskenk vir die manlike lede van die gevolg.

Het jy al ooit daardie oomblik beleef waar jy in die winkel staan en dagdroom oor hoe mooi ’n leerhandsak oor jou skouer sal lyk? Of hoe sag en gemaklik jou eie leerbank sal wees? Of was jy sommer net lus vir egte leerskoene om jouself ’n bietjie te bederf? Het jy al ooit daaraan gedink om leer deel van jou sprokiesdag te maak?

 Liefde en leer het baie dinge in gemeen: dis klassiek, altyd in die mode, dit kry meer karakter soos wat tyd verloop en as jy dit mooi oppas kan dit ’n hele leeftyd hou. Daar is natuurlik ’n paar maniere om leer tydens jou troue te gebruik. Nie net pas die gevoel van leer perfek by veral vintage troues nie, maar dit skep ook ’n gevoel van duursaamheid, kwaliteit en vertroue.  Die gebruike hiervan is eindeloos!

GEBRUIK LEER IN JOU BRUIDEGOM (OF JOU EIE!) UITRUSTING
Verbeel jouself: jy kom uitgestap in die gangetjie, gereed om ewig trou aan die man van jou drome te beloof. Hy staan in ’n kraakwit hemp en ’n paar handgemaakte leerkruisbande. Wat ’n aantreklike prentjie skep dit nie! Kruisbande is nie net klassiek nie, dit is ook uiters stylvol en ’n bietjie meer uniek as die gewone das en onderbaadjie. Leerkruisbande lyk natuurlik pragtig saam met ’n strikdas – en hier kan jy variasie inbring deur óf ’n materiaal-, óf ’n leerstrikdas te gebruik, afhangende van die styl van jou troue. Anders as met baie modegiere bly ’n man in kruisbande en ’n strikdas tydloos en sal jy definitief nie jou troufoto’s oor twintig jaar wil wegsteek omdat die klerestyl al lankal uit die mode is nie.

maak leer deel van jou troue 2
Leer is definitief nie slegs vir die manne nie – ’n stylvolle beltjie van egte leer beklemtoon nie net jou middeltjie nie, dit pas ook pragtig by die gevoel van ’n vintage– of plaastroue en kan die regte tipe trourok pragtig afrond. Dit is ook altyd goed om een element in die bruid en bruidegom se uitrusting te herhaal – vergeet van ’n pienk lint in die bruid se hare en ’n pienk das vir die manne en kies byvoorbeeld eerder ’n strikdas en smal beltjie uit dieselfde kleur leer!

Moet ook nie vergeet van die ringdraertjies of hofknapies nie… wat is dan nou ouliker as so ’n klein knapie, kordaat in sy kruisbande en strikdassie?

GESKENKE VIR DIE MENSE WAT JOU DAG LAAT GLAD VERLOOP
As dit nie vir jou strooimeisies was nie, sal jou troue heel moontlik baie minder glad verloop. Hulle is daar deur dik en dun, hulle help jou deur die moeilikste en spanningsvolste tye en is daar vir ondersteuning wanneer jy dit die nodigste het. Daarom is dit so moeilik om ’n dankie-sê-geskenk te kry waarmee jy hulle regtig genoeg kan bedank vir die spesiale rol wat hulle in jou lewe en dag speel. Het jy al ooit gedink aan ’n gerieflike dra-sak, handgemaak uit duursame leer? Nie net sal dit hulle help om al hulle goedjies op jou groot dag gemaklik rond te dra nie, maar sal dit hulle vir jare na die troue nog baie handig te pas kom en – soos julle vriendskap – net al hoe beter raak soos wat die tyd aanstap.

’N DUURSAME GESKENK VIR DIE MAN IN JOU LEWE
Dieselfde geld natuurlik vir jou toekomstige bruidegom. Wat is dan ’n beter geskenk as iets wat hy vir baie jare lank, elke dag, saam met hom sal kan dra sodat hy telkens aan julle spesiale dag herinner word? Oorweeg gerus ’n duursame, handgemaakte leersak. Jy kan kies uit verskillende ontwerpe, of self ’n sak ontwerp wat perfek by hom pas.

Jy kan natuurlik jouself ook ’n bietjie bederf met ’n leernotaboekie waarin jy jou beplanning kan doen, of sommer jou gedagtes elke dag kan neerpen soos wat jou groot dag naderkom – sodat jy dit vir altyd kan bewaar. Hierby kan jy natuurlik ook belê in ’n sonbril- penne-, selfoon-, of iPad-sakkie… die moontlikhede is eindeloos!

Belê gerus in iets wat jou vir jare en jare gaan hou, iets wat jou troufoto’s daardie ekstra ietsie gaan gee, iets wat jou telkens met ’n glimlag aan julle troudag gaan laat terugdink – en iets wat julle kleinkinders heel moontlik sal kan erf. Watter beter manier is daar dan nou om julle huwelik mee af te skop?

Kontak Eden&Co by edenleatherco@gmail.com of 083 557 1316 vir meer inligting of bestellings. Gaan loer ook op hulle Facebook-blad vir oulike idees!

Artikel: Conrad van Eden&Co
Foto’s: Verskaf

 

Written by Troukoors