Mooiste halslyne vir somerbruide

mooiste halslyne vir somerbruide1
Alexa Swart verklap watter halslyne hierdie seisoen gewild gaan wees onder somerbruide, asook watter voordele dit vir jou figuur inhou.

Na maande van trourokke aanpas het jy al in byna elke ontwerp voor die spieël gestaan. Rokke van satyn, kant en tulle, balrokke, meerminrokke, A-lyn rokke. Die keuses is eindeloos, maar het jy al gedink hoe jou halslyn jou keuse beïnvloed?

Statig, koninklik, romanties of modern. Die halslyn raam die bruid se gesig en weerspieël haar persoonlike styl en karakter. Daar is ontwerpe wat enige figuur kan vlei en dit verseker dat elke bruid haar beste lyk voor die kansel. Troukoors wys jou nege van ons gunsteling halslyne vir somerbruide.

  1. Die vierkantige halslyn

Die vierkantige hals vlei alle figure, maar is veral gepas vir bruide met groter borste omdat dit genoeg ondersteuning bied en ’n gesofistikeerde voorkoms skep. ’n Petit bruid kan dit ook dra om ’n kort nek of smal skouers te verleng.

mooiste halslyne vir somerbruide2

  1. Die hartjie halslyn of lieflinghals

Die lieflinghals kan alle figure vlei. Dit balanseer die bruid se silhoeët en verleng haar halslyn terwyl dit genoeg ondersteuning bied vir bruide met ’n groter borsmaat, maar ook die illusie skep van groter borste vir bruide met ’n klein borsmaat.

mooiste halslyne vir somerbruide3

  1. Die Bateau- of boothalslyn

Die horisontale lyn van die boothals is treffend en dit vergroot smal skouers en is ideaal vir bruide met kleiner borsmates.

mooiste halslyne vir somerbruide4

  1. Die ronde halslyn

Hierdie hals staan ook bekend as die U-hals en dit skep nie net die illusie van ’n groter borsmaat nie, maar verleng ook die bolyf. Bruide met klein borste en smal skouers kan die halslyn gebruik om hul figuur te balanseer.

  1. Die V-halslyn

Die V-hals is verslankend en vleiend vir meeste figure omdat dit die oog opwaarts lei na die gesig en ’n gebalanseerde voorkoms skep. Die neklyn verleng die silhoeët van die bruid deur die nek te beklemtoon en pas by petit en groter figure.

mooiste halslyne vir somerbruide6

  1. Die reguithalslyn

Die halslyn pas goed by bruide met kleiner borste en ’n petit liggaamsbou. Dit is eenvoudig en ontbloot die skouers en die hele neklyn van die bruid. So as dit jou beste bate is, is hierdie die een vir jou. Kombineer dit met ’n groot halssnoer vir ’n romantiese of glansryke effek.

  1. Die assimmetriese hals

Kies die hals vir ’n dramatiese en unieke voorkoms. Die neklyn gee meer volume en detail rondom die skouers en nek en is perfek vir petit bruide met ’n klein borsmaat.

mooiste halslyne vir somerbruide5

  1. Die halternek

Hierdie hals skep ’n sensuele en verslankende neklyn en is vleiend vir bruide wat lank is met breë skouers. Dit werk ook goed by ’n uurglasfiguur en die diepte van die hals sal afhang van jou borsmaat.

  1. Die gedrapeerde of monnikshals

Petit bruide met klein borste sal die meeste by die halslyn baat, omdat dit die illusie van kurwes skep. ’n Bruid met ’n peervorminge figuur kan die neklyn dra om haar silhoeët te balanseer.

Daar is min dinge so verleidelik en sensueel soos ’n vrou in ’n pragtige trourok met die perfekte halslyn. Kies ’n halslyn wat jou figuur vlei, kombineer dit met bypassende bykomstighede en ’n haarstyl wat jou neklyn beklemtoon en glimlag want jy lyk asemrowend.

Foto’s: Enzoani

 

Written by Troukoors