Wanneer jou katjie alles stukkend krap…

wanneer jou katjie krap
Die wittebrood is oor – nie net vir julle as paartjie nie – maar ook vir julle as nuwe troeteldiereienaars. Die oulike katjie, waarmee julle ’n oefengesinnetjie begin het, het in ’n duiweltjie verander en krap julle nuwe banke stukkend! Hoe nou gemaak?

Buiten vir die feit dat die getroude lewe alreeds vir julle albei ’n groot aanpassing is, het julle nuwe katkind onlangs stoute streke begin uithaal en jy voel asof jy kan weghardloop. Julle nuwe banke is vol krapmerke en rafels soos Kitty dit gekrap het en manlief dreig om haar weg te gee. Hoe nou gemaak?
Marycke Ackhurst, van Hill’s Pet Nutrition het raad om hierdie probleem op te los.

Dit is heel natuurlik vir katte om te krap. Hulle doen dit gewoonlik vir een van die volgende redes:

    • om hulle gebied te merk, visueel en sintuiglik
    • om hulle naels te versorg – die buitenste lagie van die naels word so verwyder en dis ook hoe hulle hul naels skerp maak
    • om emosie uit te druk – dit kan wissel tussen tevredenheid, woede en selfs geluk

Om te keer dat jou katjie jou besittings beskadig, is dit dalk ’n goeie idee om hom of haar kans te gee om hierdie natuurlike gedrag wel toe te pas:

  • Maak seker dat daar verskillende oppervlaktes, wat vir hierdie doeleinde geskik is en gekrap mag word, oral in die huis geplaas word.
  • Daar moet horisontale, sowel as vertikale oppervlaktes wees wat jou kat kan krap.
  • Plaas hierdie oppervlaktes veral naby plekke waar jou katjie graag speel.
  • Beskerm die areas waar jou katjie graag krap, deur ’n geskikte oppervlakte bo-op te plaas. As hy byvoorbeeld mal is daaroor om jou Persiese mat te krap, sit ’n plat krapooervlakte bo-op; of plaas ’n krappaal by jou bank se armleuning as hy graag sy naels daarin slaan.
  • Katte wat binnenshuis aangehou word se naels loop nie natuurlik af, soos katte wat buite lewe nie, so as jou kat permanent binne is, knip gereeld sy naels. As die naels ingroei kan dit baie pynlik raak en ook infeksie veroorsaak.

As jou kat een van jou kosbare besittings gebruik as sy krappaal is daar ’n paar opsies wat oorweeg kan word:

  • plaas dit buite sy bereik
  • as jy hom op heterdaad betrap is dit goed om sy aandag af te trek deur jou hande te klap, hom op die gepaste krapoppervlak te plaas en oor sy kop te streel
  • katkruid (Catnip) kan ook op die krapareas gespuit word om jou katjie aan te moedig om daar te krap
  • plastiese tips (wat beskikbaar is in verskillende kleure) wat oor jou kat se naels pas, is ook beskikbaar as jy regtig desperaat is

Jou plaaslike veearts of Vetshop behoort verskeie tipes krap oppervlaktes en krappale te koop aan te hou, asook Katkruidsproei.

wanneer jou katjie krap3

Dit is belangrik om nie uit desperaatheid jou kat se naels te laat verwyder nie. Nie net is dit baie pynlik vir die katte nie, maar dit verhoed ook dat hulle uiting aan hulle natuurlike gedrag gee en dit kan lei tot talle ander gedragsprobleme.

WEN!!

 wanneer jou katjie krap2
As jy voel jou katjie verdien ’n bederf, gaan LIKE en SHARE hierdie post op ons Facebook-blad.

Aangesien julle laas keer so mal was oor hierdie prys, kan twee lesers weer elkeen ’n oulike Hill’s Cupcake-bedjie (R300) en #hillskittytin (R85) vir hulle katjies wen. Wat ’n oulike prys!

 

Written by Troukoors