Eksklusief: Voormalige mnr SA gaan trou!

Voormalige Mnr SA gaan trou 1
Mnr SA 2013/14, John Owens, gaan trou! Ouer tannies pik al ʼn traan en die jonges is heimlik jaloers op sy beeldskone toekomstige bruid, Chantelle. Hulle deel met ons hulle pragtige verlowings fotosessie.

voormalige mnr Sa gaan trou 2

Mooi bly maar mooi, en mooi is die paartjie beslis. Jy kan sommer sien hoe hulle van verliefdheid gloei in die fotosessie saam met Monna’s Photography. Ons het hulle meer oor hulle verhouding en verlowing uitgevra.

HOE HET JULLE ONTMOET EN WAT HET JULLE GEDINK TOE JULLE MEKAAR VIR DIE EERSTE KEER SIEN?
“Ek sal dit nooit vergeet nie. Ons het op ʼn Sondag, spesifiek 2 November 2014, ontmoet. Ek het aan ʼn kompetisie waar John ʼn beoordelaar was deelgeneem. Ek het hom dadelik raakgesien (en nie net omdat hy ʼn beoordelaar was nie). Daar was iets aan hom wat my aangetrek het. Daardie dag het ek skoene gedra wat te groot was vir my – en dit was die ysbreker, want hy kon nie ophou om my uit te haal daaroor nie. Dit was die beste dag van my lewe!”
John sê: “Ek was nie op die uitkyk vir iemand nie, maar toe ek Chantelle sien toe was my asem weggeslaan. Sy was definitief besonders en anders. Toe ons eers begin gesels, toe is die koeël deur die kerk.”

HOE LANK IS JULLE AL SAAM?
“Haha – hierdie is ʼn lekker vraag, want John het my nog nooit amptelik uitgevra nie. Alles was van die begin af go-with-the-flow. Ons het toe maar ʼn datum gekies waarvan ons hou (23 November) so ons is nou meer as 8 maande saam en het verloof geraak op Sondag, 12 Julie 2015.”

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR VERLIEF GEMAAK?
Chantelle: “Definitief sy sin vir humor! Hy maak my elke dag lag. Ons het albei dieselfde belangstellinge so daar is nooit ʼn vervelige oomblik nie. John maak ook die lekkerste kos en is beslis die kok in die huis. (Maar dit maak hom nie baas nie!). Die feit dat ons so gemaklik saam met mekaar was van die begin af, was verseker ʼn teken.”
John: “Chantelle se sagtheid en skoonheid het my na haar laat kyk, maar die feit dat sy so slim is en dat sy vir my die volmaakte vrou is (mooi, slim, skerp, baie hoë EQ en ook presies dieselfde belangstellings as ek het) het my laat val en dit was ʼn goeie val.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Ons het begin praat oor verloof raak en gekyk na ringe. John het toe gesê dit is te duur om te trou en dat ons eers ʼn moet huis koop en dinge om my van sy spoor af te gooi, sodat ek dit nie verwag nie. Díe Sondag was ons by ʼn kamp vir minder bevoorregte kinders (The Work For Jesus Camp) in Hartbeespoort, en na dit ry ons toe verby ‘Harties Cableway’ waar John kastig ʼn onbeplande kabelkarretjie rit wou doen. Min wetende dat hy my die groot vraag bo op die berg sou vra, in sweetpak broek en al. Dit was die mooiste uitsig en dag. Alles was perfek.”

HOEKOM HET JULLE BESLUIT OM ’N VERLOWINGSFOTOSESSIE TE DOEN EN HOEKOM DINK JULLE IS DIT BELANGRIK DAT PAARTJIES DIT OORWEEG?
Chantelle: “Interessant genoeg was dit ons heel eerste paartjie-fotosessie en toe sommer ons verlowingsfotosessie ook! Ons dink dit is belangrik want dit is so ʼn opwindende tyd in jou lewe, en ʼn mens moet daardie oomblikke vasvang. Dit is kosbare herinneringe.”
John: “Herinneringe kan nooit weggevat word nie en ons wou ons liefde vir mekaar vir die wêreld wys. Te veel mense het al opgegee op liefde en ek weet dat ek en Chantelle het ook. As ons mekaar kon vind dan is daar hoop. En ook omdat ons die tyd saam met mekaar geniet. Ons kwaliteittyd sal ons vir niks in die wêreld ruil nie.”

voormalige mnr SA gaan trou 3

WAT IS DIE BESTE RAAD WAT JULLE AL OOR VERHOUDINGS GEKRY HET, WAT JULLE ELKE DAG OP JULLE S’N TOEPAS?
Chantelle: “Plaas God altyd eerste in jou verhouding en waardeer mekaar elke dag. Vergewe mekaar gedurig en moet nooit probeer om jou beter helfte te verander nie.”
John: “Stel jou maat eerste en sê elke dag vir mekaar jy is lief vir mekaar en wys uit wat vir jou die goeie eienskappe in die ander persoon is. Moet nooit kwaad gaan slaap nie.”

WAT DINK JULLE IS DIE GROOTSTE UITDAGING VAN TROUBEPLANNING EN HOEKOM?
“Ons dink die grootste uitdaging is om nog tyd vir mekaar te maak. Mens raak so besig met al die beplanning dat jy nie regtig meer kwaliteittyd saam het nie. Ook om te verstaan dat trou gaan oor die paartjie en nie die duisende familielede wat jy jare laas gesien het nie. Ook nie die venue of die geld nie. Dit gaan oor twee mense wat die ewige belofte voor God maak en die dag wil vier saam met mense. Maak besluite oor wat JULLE wil hê nie wat julle dink ander wil hê nie.”
 
VAN WATTER MODERNE TROUSTYLE / -TEMAS HOU JULLE EN HOEKOM?
“Albei van ons is baie stylvol en hou van dinge wat anders en uniek is. John se gunstelingkleur is groen en myne is Turquoise so ons tema gaan klassiek wees met see kleure. Ons wil ook die natuur in bring en hou van hout teksture. Ons gaan buite trou tussen swane en wilgerbome op Valentynsdag, 14 Februarie 2016.”

Artikel: Yolande van Deventer

 

Written by Troukoors