Oorleef só die eerste maande as ’n ma

oorleef ma-wees
Jy was so opgewonde om ’n ma te word en kon nie wag om julle bondeltjie vreugde in jou arms vas te hou nie. Maar nou het hierdie mensie jou hele wêreld op sy kop kom draai. Hier is raad oor hoe om hierdie uitdagende tyd te oorleef.

Om ’n baba te hê is ’n wonderlike ervaring, maar ook een wat jou lewe (soos wat jy dit ken) vir altyd gaan verander. Tydens jou swangerskap, is jy en manlief baie opgewonde en droom julle die mooiste drome van julle pragtige gesinnetjie, maar die realiteit van die saak is dat hierdie nuwe lewetjie beslis julle lewe gaan omver gooi. Niks gaan ooit weer wees soos wat dit was nie en daar gaan baie uitdagings wees, wat jou veral gedurende die eerste paar maande gaan onderkry. Hier is ’n paar wenke om heel aan die anderkant uit te kom:

JY GAAN MOEG WEES, SO SLAAP TERWYL JY KAN. Babas is uitputtend al is hulle oulik, omdat hulle totaal en al van hulle nuwe ouers afhanklik wees. Oormoegheid lei dikwels tot depressie en kan jou eerste paar maande as ma bederf. Maak dus seker dat jy genoeg slaap inkry. Manlief kan help as julle in skofte opstaan vir die kleinding en Ouma kan ’n bietjie kinderoppasser kom speel as Mamma vir dae lank nie kon slaap nie. Vra vir en aanvaar hulp, want dis al hoe jy aan die anderkant gaan uitkom. Maak vooraf ’n lysie van mense op wie se knoppie jy kan druk wanneer jy vasbrand.

VERANDER JOU PRIORITEITE. Voor baba se koms, het jou prioriteite tien-teen-een ’n bietjie anders gelyk as wat dit nou behoort te wees, so daarom moet jy dalk vroegtydig jou lysie van moet-doens en wil-doens ’n bietjie aanpas deur baba se behoeftes ook in ag te neem. As jy meer van jouself verwag as wat jy op die ou einde sal kan gee, kan dit tot baie frustrasie lei wat onnodig is. Onthou ook om jou verhouding een van die prioriteite te maak. ’n Baba is ’n groot skok vir die huwelik – so as jy gelukkig getroud wil bly, sal jy nie jou man kan afskeep nie. Sit sommer van die begin af date night in plek – al hou julle net piekniek in die sitkamer. Dit is ’n goeie gewoonte om julle huwelik sterk en gelukkig te hou.

MOENIE PERSPEKTIEF VERLOOR NIE. Dit gaan soms voel asof die kleinding jou hele lewe kom oorvat het en dat daar nie meer plek is vir jou drome en toekomsideale nie. Dit lei ook dikwels tot depressie. Onthou, dat hierdie tydperk ook verbygaan, en dat julle binnekort ’n nuwe normaal sal vestig. Daar is miljoene ander ouers daar buite en hulle maak steeds ’n sukses van hulle lewens, al het hulle kinders. Wees geduldig en geniet jou kleinding, hulle word so gou groot. Die ander dinge sal self uitwerk en in plek val.

LAG SAL DIE SITUASIE VERLIG. Om laf te wees, grappies te maak en te lag sal help om die ys te breek gedurende die moeilike tye. Sing vir jou kleinding oulike liedjies, dink snaakse troetelnaampies uit en maak ’n speletjie daarvan om in die aand op te staan. Dit sal die spanning verlig en julle sommer almal nader aan mekaar laat voel.

PASOP VIR NAGEBOORTE DEPRESSIE. Baie vroue – en selfs mans – kry nageboorte depressie. Gaan lees oor die onderwerp en maak seker dat jy en jou maat weet wat die simptome is. Sodra een van julle onraad vermoed, kry hulp voordat dit hand uitruk. Dit is heeltemal hanteerbaar as dit vroegtydig behandel word.

DIT IS MOONTLIK DAT JY NIE VAN DIE BEGIN AF MAL GAAN WEES OOR BABA NIE. Almal is nie altyd dadelik dolverlief op hulle babas nie. Dit kan weke of maande wees voordat jy regtig so voel – so as jy nie dadelik in die wolke is nie, moenie bekommerd wees nie want dit is normaal. Dit het niks met jou en jou ma-wees te doen nie. Jy mag dalk heel moontlik net oorweldig voel deur die kleinding wat heeltyd knieserig is. Wees geduldig en kyk so goed as wat jy kan na jou baba, en voor jy weet sal julle onafskeidbaar wees.

WEES BUIGBAAR EN PRAKTIES. Ons het almal vooropgestelde idees van watter tipe ouers ons wil wees en hoe ons sekere situasies wil hanteer, maar meestal verander dit mettertyd heeltemal as gevolg van omstandighede en realiteit – want ongelukkig verloop die lewe selde volgens die boek. Moenie vasskop as dinge nie heeltemal verloop soos jy beplan het nie. Pas aan waar jy moet en doen alles wat jy kan om jou nuwe gesin te beskerm en die aanpassing so maklik as moontlik te maak. Anders gaan dit net lei tot konflik en frustrasie.

JOU GESIN IS NIE ’N DOELWIT WAT JY MOET BEREIK NIE. Om ’n gesin te hê is ’n voorreg en nie ’n doelwit, wat opsy geskuif kan word sodra dit bereik is nie. Geniet jou kleinding en waardeer elke oomblik wat julle gesinnetjie saam spandeer.

JOU EMOSIES GAAN SOMS BUITE BEHEER WEES. Dit is normaal en verskillende situasies sal verskillende emosies by jou ontlok. Verwag dit en vind maniere om deur dit te werk en aan te gaan. Dit help nie jy tob daaroor of ontstel jouself elke keer wanneer dit gebeur nie. Jou hormoonvlakke sal wel weer terugkeer na normaal, maar tot dan moet jy uithou.

JY MOET JOUSELF MOED INPRAAT. Dit help nie jy is jou grootste vyand en veroordeel en kritiseer jouself totdat daar niks van jou selfbeeld oorbly nie. Ma-wees is ’n aanpassing en daarom moet jy glo dat jy dit kan doen en nie te krities wees wanneer jy iets nie die eerste keer regkry nie. Jy leer nog en sal wel regkom. Glo in jouself en weet dat jy instinktief sal doen wat die beste is vir jou baba en jou gesin.

Ma-wees is darem ook nie altyd moeilik en vol probleme nie. Dit is die spesiaalste taak wat ooit op jou skouers sal rus en die oomblikke en herinnering tussen jou en jou kind is kosbaar. So onthou om soveel as moontlik daarvan in te neem, al gaan dit met tye vreeslik rof.

 

Written by Troukoors