Oulike idees vir nagereg

oulike idees vir nagereg
As jy lus is om iets uniek en ander voor te sit vir nagereg by jou troue of wanneer skoonma weer by julle kom eet, sal jy mal wees oor hierdie oulike resepte van Melkkos & Merlot. Probeer dit!

Kos word deesdae beskou as ’n kuns en daar is baie mede-kunstenaars wat beslis gaan oordeel as jy nie die lekkerste kos voorsit by jou troue of volgende familie-ete nie. Een van die beste maniere om gaste se voete onder hulle uit te slaan, is om die beste te los vir laaste – want dit is wat hulle na die tyd gaan onthou.

Hier is twee liplekker idees vir nagereg, wat jy nie net by jou troue kan voorsit nie, maar ook wanneer die skoonfamilie kom kuier…

SUURLEMOEN-POEDING
Tyd: 1 minuut
Genoeg vir 8-10

BESTANDDELE
Dubbel-room Griekse joghurt
’n Bottel suurlemoenbotter (‘lemon curd’ – kyk in die bakafdeling van supermarkte)
Pak koekies (Nuttikrust, Tennisbeskuitjies, gemmerkoekies of hawermoutkoekies)
Pak skuimpies

METODE
1 Sit die koekies in ’n plastiek toebroodjiesakkie.
2 Gryp jou koekroller en raak van jou dag se frustrasies ontslae deur hulle te slat tot hulle bes gee. Dis vinniger om die koekies in jou voedselverwerker fyn te maak, maar nie naastenby so bevredigend nie.
3 Skep ’n lagie van die koekiekrummels in ’n bak.
4 Meng die joghurt en suurlemoenbotter – ek verkies ’n 50/50 mengsel, maar besluit maar self wat vir jou lekker is.
5 Skep die joghurt-suurlemoen mengsel bo-op die koekie laag. Pak hom vol skuimpies en bedien onmiddellik. Jy kan ’n groot een maak, maar ek verkies om individuele klein poedings te maak. Ek het dit al selfs in skootglasies bedien – perfek vir onverwagse partytjie hordes!

Maak jou eie skuimpies: Klits eenvoudig vier eierwitte met ’n knippie sout tot dit styf en droog is (keer die bak versigtig onderstebo, as die eierwitte aan die bak kleef, is hy reg). Klits nou stadig een koppie strooisuiker by – bietjies op ’n slag. Hou aan klits tot die mengsel dik en blink is. Skep nou skuimpies op ’n bakplaat gevoer met bakpapier. Bak teen 120C tot droog – dit vat ’n uur en ’n half tot twee ure. Skakel die oond af en laat die skuimpies in die oond afkoel. Bêre in ’n lugdigte houer.

CADBURY SJOKOLADE-MOUSSE
Genoeg vir 8
Tyd: 4 ure, 30 minute

BESTANDDELE
375ml vars room
4 eiergele
2 x 80g blokke Cadbury-melksjokolade
2 eierwitte
3e kakao
6e suiker
2t goeie brandewyn
3e stérk espresso

METODE
1 Breek die sjokolade in klein blokkies en smelt. Die maklikste manier om dit te doen, is om die sjokolade vir 20 sekondes op ’n keer in die mikro te blits. Roer dit na elke 20 sekondes, selfs al lyk dit nog solied. Hou aan met die 20-sekonde/roer storie tot die sjokolade gesmelt is.
2 Plaas 175ml van die room, die eiergele, suiker en kakao in ’n hittevaste bak oor ’n pot kokende water. (Maak seker die bodem van die bak raak nie aan die water nie.) Verhit die mengsel stadig terwyl jy deurentyd klits. Dit van ’n hele rukkie so, tensy jy bultende armspiere het of wil hê, beveel ek aan jy gebruik ’n elektriese klitser. Hou aan klits tot die eier genoeg gekook het om die sous te verdik (so 7 minute).
3 Verwyder van die hitte en roer die koffie, brandewyn en gesmelte sjokolade by.
4 Laat die mengsel afkoel. Jy kan dit sommer blitsvinnig doen deur die bak in ’n groter bak gevul met yswater en ysblokkies te sit. Klits of roer dit om te verseker die hele mengsel word aan die koue blootgestel en binne minute sal die mengsel yskoud wees. (Of jy kan die mengsel laat staan tot dit kamertemperatuur bereik het en dan in die yskas sit vir ’n uur.)
5 Klop die oorblywende room styf.
Wenk: Proe die sjokolade mengsel vóór jy die room klop. As dit nie soet genoeg is na jou smaak nie, kan jy strooisuiker na smaak by die room voeg wanneer jy dit klop.
6 Klop ook die eierwitte tot styf. Vou ’n derde van die geklopte room in die sjokolademengsel in om dit bietjie losser te maak. Vou dan versigtig die orige room en eierwitte by om soveel as moontlik van die lug in te hou.
7 Skep die mengsel in individuele bakkies en verkoel in die yskas vir ten minste vier ure voor jy bedien. Hierdie mousse sal vir 2-3 dae in die yskas hou. Sif kakao oor net voor jy bedien.
 
Nog idees vir hierdie resep:

1) Laat die koffie en brandewyn uit en vervang met ’n paar druppels peperment-essens. Krummel ’n ‘Peppermint Crisp’ bo-oor net voor jy bedien.

2) Laat die koffie uit en vervang die brandewyn met kersie schnapps. Week kersies of ’n mengsel van kersies en bessies in twee eetlepels kersie schnapps en twee eetlepels suiker. Skep oor die mousse net voor jy bedien.

3) Maak die resep net so en krummel ’n ‘Crunchie’ oor.

 

Written by Troukoors