Top 5 trou-tendense vir 2015

tendense 1
Is jy besig om te beplan aan julle troue wat in 2015 gaan plaasvind? Ons het in die kristalbal van die internasionale trou-wêreld gaan kyk en vir julle die nuutste trou-tendense gaan uitsnuffel. Kom loer gerus wat is in en wat is uit.

tendense 2

Ons het die laaste jaar baie rustieke en informele troues, met veral pastelkleure en plaastemas gesien. Alhoewel hierdie tendens steeds ʼn rol gaan speel in 2015, is daar ook ʼn paar verrassende vars elemente wat wêreldwyd ʼn verskyning maak. Ons het ʼn top 5 vir julle gekies.

1. KLEUR, KLEUR, KLEUR
Pastelle is besig om van die lywe af te skuif na die blomme toe. Diep, ryk kleure soos pienk, vlootblou, smarraggroen, perse en goud het hulle opwagting op ʼn groot manier gemaak. Bruidsmeisies gaan weer ʼn kleurafdruk maak langs hulle bruide, en tafels gaan die oog vang met helder spatsels kleur. Materiale bly steeds sag en baie romanties.
Selfs die troukoeke het hulle beskeie effekleurige baadjies en minimalistiese versiering in die kas gaan bêre. Dink koeke met verskillende kleure lae, wat sê: “Kyk vir my ek is ook hier!”
Trouringe wou ook nie agterbly nie en Roosgoud en Brons het weer deel van die keuses geword. Dit word herhaal in die dekoritems van die onthaalareas.

2. DRAMA IN DRIE BEDRYWE
Glans en drama op jou troudag is beslis terug. Dit begin al by die uitnodigings. Dit is nie meer net mooi koeverte en indrukwekkende papier nie. Nee, dis byna soos ʼn verrassingspakkie. Boksies wat ryklik versier is met krale en kristalle, helder kleur sellofaan en linte help om die uitnodiging dramaties te maak. Kyk ook uit vir kombinasies van goud en silwer.
Trourokke is ʼn drama in drie bedrywe. Lang slepe wat afhaal is terug en al hoe meer bruide het nou drie uitrustings. Die dramatiese trourok vir die seremonie, dan ʼn tweede speelse rok vir die onthaal en ʼn derde sexy nommertjie vir die partytjie na die partytjie, saam met die bittereinders van die troue (en natuurlik die huweliksnag.)
Troukoeke het versiering met baie tekstuur soos kantpatrone. Ideaal as jy nie helder kleur wil inbring nie.

tendense 3

3. ROMANTIESE BLOMME
Romantiese massas blomme van Engelse rose, Krismisrose en veldblomme hang heel indrukwekkend bo die tafels en pryk in groot handruikers in die bruid se hand. Meer is beslis meer in die blom afdeling.

4. PROE-HOEKIES EN KOS-LORRIES
Huidige tendense wys reeds dat paartjies hulle gaste wil blootstel aan die kossmake en -voorkeure wat uit hulle agtergrond kom. In 2015 word hierdie tendens nog verder beklemtoon in die vorm van proe-stalletjies en om buite te eet.
Verskeie stalletjies soos ʼn oester en sjampanje stalletjie (waar self ʼn sjampanje glastoring weer welkom is), ʼn fynproewerbier-of skemerkelkie-stalletjie of ʼn stalletjie wat die paartjie se gunstelingkosse in klein happies aanbied is ʼn opwindende nuwe element. Jy kan selfs ʼn oulike slaaimuur maak, waar elkeen sy eie vars slaaitjie in ʼn houertjie kan gaan afhaal. Dit skep ʼn welkom-in-ons-wêreld gevoel en is ʼn vermaak-voorgereg tydens die fotosessies.
Seisoenale vars van-die-plaas-na-die-tafel etes, wat uit versierde koslorries bedien word, is ʼn groot nuwe neiging. Gaste eet dan ook Al Fresco as die weer en die seisoen dit toelaat. Dit dra by tot die romantiese gevoel wat so sterk weer deurkom die jaar.
Een groot troukoek is ook besig om meer op die agtergrond te skuif. Kolwyntjies is in verskillende geure en kleure steek nou hand op. Gaste kan dan happie-grootte koek geniet en dit maak ʼn maklike wegneem-nagereg wat jy in oulike wegneem houertjies kan pak.
Laataand happies is weer in. Net voor die gaste se energie min raak word heerlike laataand happies bedien. Dis dan nou hier waar jou derde uitrusting sy verskyning maak.

tendense 4

5. UNIEKE TROUVENUES
Die neiging om nie meer in ʼn formele kerk te trou nie is steeds groot, maar beweeg effe weg van net plaas- en plattelandtemas. Unieke venues soos biblioteke, museums, hoë geboue of plekke wat oor afgronde uitkyk is baie gewild onder ons oorsese bruide. Laat jou verbeelding dus los as dit by die keuse van ʼn venue kom.

tendense 5
Artikel: Yolande van Deventer
Foto’s: Blue Bouquet Bride; Elegant Wedding Invites; The Simplifiers; Southern Bride; Henderson Best; It’s a Bride’s Life; Quintessentially Weddings

 

Written by Troukoors