Blou inspirasie in die bos

ietsie blou 1
Die span agter hierdie secret shoot het dit reggekry om met die mooiste blou en ander pastelskakerings ’n woudagtige towerwêreld te skep, wat perfek sou werk vir ’n sprokiesmooi troue.

ietsie blou 2
Pieter en Anneri Carinus is in 2013 as SARIE se Bruidspaar van die Jaar aangewys, en toe hulle besluit om byna ’n jaar later ’n secret shoot te doen, was die diensverskaffers wat hulle gekies het om hiermee te help sommer baie opgewonde.

Anli Wahl van Anli Wahl Flower & Event Styling het die stilering van die fotosessie behartig en vertel meer van wat die idee was agter hierdie pragtige pastelblou-sukses.

“Ons was baie opgewonde toe Anneri en Pieter ons bespreek het vir hulle eie secret shoot. Ons het dadelik aan die werk gespring en besluit om kleurskemas te gebruik wat, volgens tendense, gewild gaan wees gedurende 2014 se lente- en somermaande. Die kleurskema het bestaan uit ’n kombinasie van Hemlock, Placid Blue, Sand en ’n bietjie Blush (volgens die kleurkaarte se kleure). Al hierdie kleure is baie aanpasbare pastelle en kan op ’n kreatiewe manier gekombineer word met nog ander kleure in hierdie spektrum.

Alana van Heerden, wat op ’n vorige geleentheid rokke gemaak het vir secret shoots waarop ons gewerk het, was weer deel van die span. Sy het ’n prettige, romantiese skepping opgetower uit blou kant, wat Anneri onweerstaanbaar laat lyk het.

ietsie blou 3

Ons het ook Tulbach veearts se donkie, Dusty, probeer gebruik in die fotosessie om ’n lekker plaas- / landelike atmosfeer te skep en het hom met ’n blommekrans laat inskakel by die res van die sessie. Maar hy het nie lank gebly nie, al die eetgoed opgeëet en in die woud verdwyn. Daarom het sy blommekrans op die ou einde op Anneri se kop beland.

Ons het ook ’n waterkleurige troukoek, deur Nelle Cakes, gebruik en handgeverfde skryfbehoeftes, deur Susan Brand Design, is gebruik om die sessie af te rond. Anneri se grimering en hare is gedoen deur Sanmarie.

Nog ’n oulike item wat vir die fotosessie gebruik is, is die pragtige geel Isabella Borgward-kar, wat al die pad van Ceres af gekom het, en ons almal se harte onmiddellik gesteel het.”

Hierdie elemente sal moeiteloos ingewerk kan word by ’n piekniektroue. So moenie skaam wees om van hierdie idees vir jou eie troue te gebruik nie.

ietsie blou 4

DIENSVERSKAFFERS
Fotograaf: Adene Photography
Assistent-fotograaf: Liesl Basson Photography
Blomme en stilering: Anli Wahl Flowers & Event Styling
Assistent-stilis: Bea Hanekom
Isabella Borgward-kar: Anton Grobbelaar
Hare en grimering: Sanmarie
Troukoek: Nelle Cakes
Trourok: Alana van Heerden fashion & Bridal Design
Skryfbehoeftes: Susan Brand Design
Dusty se eienaar: Nicole du Toit

 

Written by Troukoors