Wenke om jou troukoek te kies

wenke om jou troukoek te kies
Troukoek is een van die duur items op jou troubegrotingslysie. As jy ’n beperkte begroting het, is dit goed om te weet presies wat nodig is om die ideale troukoek te kies.
Hier is ’n paar wenke van Bang-vir-Bak.

Daar is iets spesiaal en persoonlik daaraan om sekere goed – soos jou troukoek – self te maak vir jou troue… of dit nou uit noodsaak is, of die behoefte om iets self te maak. Soms is dit egter nie moontlik nie en moet jy maar opdok en een kies wat steeds in julle smaak én begroting val. Lorraine Swanepoel (Kokkedoor deelnemer en die eienaar van Bang vir Bak) gee nuttige wenke oor hoe jy te werk moet gaan wanneer jy hierdie taak op jou skouers neem:

  • Moenie vir ’n familielid vra om jou troukoek te bak nie. As jy nie daarmee tevrede is nie, gaan jy te sleg voel om dit vir hulle te sê en veroorsaak dit ongelukkigheid.
  • Wees realisties met die begroting. Kry kwotasies by ’n paar verskaffers en begroot dan daarvolgens, nie andersom nie. R3 500 tot R5 000 is ’n realistiese bedrag vir ’n koek wat redelik standaard is. As jy kolwyntjies bedien, sal jy baie geld spaar.
  • Vra jou verskaffer vir ’n koek-proe dag om seker te maak dat die koek lekker proe. Soms lyk ’n koek pragtig, maar smaak nie altyd so lekker soos wat dit lyk nie.
  • Vermy troukoeke wat met sjokolade versier is in die somer. Dit is ’n groot risiko en kan jou onnodige spanning op die hals haal.
  • Beplan die eetgoed van die dag mooi. Jou gaste kan nie ’n kaasbord na die seromonie, ‘n driegang maaltyd, nagereg, troukoek en ’n lekkergoedtafel alles verorber nie. Minder is meer. Fokus meer op goeie kwaliteit, in plaas van kwantiteit.
  • Die troukoek kan in mooi houertjies verpak word en as geskenkies gegee word. Reël met die venue om dit vir jou te doen. So spaar jy baie geld en jou gaste kan die volgende dag die troukoek geniet sonder dat dit mors by die troue.
  • Moenie probeer om ’n geur te kies waarvan jou gaste sal hou nie (almal se smaak is verskillend). Kies ’n troukoek waarvan jy en jou verloofde hou.
  • Met ’n klein begroting kan jy ’n fopkoek – koek waar twee van die drie lae uit polisterene is en die boonste laag regte koek is – oorweeg. Dit is al wat jy nodig het vir ’n foto of twee.
  • Wees waaghalsig – jy kan iets meer modern doen soos ’n koektafel met vyf of ses verskillende eenlaag-koeke. Die gaste kan dan self vir hulle sny en na hartelus die geure kies waarvan hulle die meeste hou. Dit kan ook direk na die seremonie bedien terwyl julle foto’s neem!

Vir meer inligting of nuttige wenke, besoek gerus Bang-vir-Bak se webblad.

Foto: Wedding Wonderland

 

Written by Troukoors