Oefen- en dieetfoute wat bruide maak

oefen en dieetfoute wat bruide maak
Jy wil graag mooi maer wees op jou troudag, maar vir die meeste bruide is hierdie ’n groot stresfaktor omdat hulle dit verkeerd benader. Hier is wat nie nie moet doen nie!

Jy het baie hooi op jou vurk wanneer jy moet troue reël, maar tog wil jy op jou mooiste lyk wanneer jy jou bruidegom tegemoet stap. Hier is ’n paar oefen- en dieetfoute wat die meeste bruide maak, wat jy liewer moet vermy om te verseker dat jou gewig nie nog iets is waaroor jy hoef te stres op jou groot dag nie.

ONHAALBARE DOELWITTE
Dit is doodnormaal vir bruide om vir hulleself onrealistiese doelwitte te stel wat doelgewig op hulle troudag aanbetref. Moenie dieselfde fout maak nie, want dit gaan jou net onnodig emosioneel en mismoedig maak. Gesels met ’n kenner oor wat realisties haalbaar is en besluit op die eindresultaat wat jy graag wil bereik. Wees streng en hou by jou plan van aksie – maar moet jouself nie te veel kasty as jy soms swak is nie – troubeplanning moet darem lekker wees ook!

LAASTE MINUUT
Begin vroegtydig oefen en gesond eet sodra jy besluit het wat jou doelgewig vir jou troue is. Daar is nie vinnige en maklike maniere om gewig te verloor of spiere te bou nie. As daar was, sou ons almal plankdun en super sexy gebou gewees het. Dit vat harde werk en ’n gesonde leefstylverandering, want jy wil tog ook op jou beste voel wanneer jy voor die kansel staan. Moenie jou oefen- en eetplan uitstel en dan op die laaste minuut resultate verwag nie. Dit gaan nie werk nie en is ook ’n ongesonde benadering. Jou rok moet ook verstel word volgens jou lyf, so dit is beter om dinge van die begin af reg te doen.

TE VEEL VAN EEN SOORT OEFENING
Doen ’n mengsel van spierbou- en kardiovaskulêre oefening as jy die beste resultate wil behaal. Weerstandsoefeninge is net so nodig soos kardio en help eintlik om jou metabolisme te verhoog. Dit sal ook help om jou spiere te definieer sodat jy nie pap arms het in jou moulose rok nie.

OEFENGEMAKSONES
As jy resultate wil hê, kan jy nie die heeltyd op dieselfde vlak oefen nie. Jy moet jouself uit jou gemaksone druk sodat jy kan aanhou vet verbrand en spiere bou. Jou liggaam raak baie vinnig gewoond aan ’n sekere program, so pas dit aan sodat jou liggaam ook moet aanpas.

EK-KAN-EET-WAT-EK-WIL-WANT-EK-OEFEN-MOS
Al die oefening in die wêreld sal nie help as jy nie gesond eet ook nie. Oefening en dieet gaan hand-aan-hand en is nodig as jy gesond wil wees en gewig wil verloor.

MAALTYE OORSLAAN
Jou liggaam het die vitamines en minerale nodig in die kos wat jy eet. Alhoewel jy nie moet peusel nie, moet jy ook nie maaltye oorslaan nie. Gereelde maaltye sal jou metabolisme aan die gang hou en jou energievlakke en bloedsuikervlakke konstant hou.

SKAALBEHEPTHEID
Hoe jy gaan lyk op jou troudag, gaan nie afhang van hoe swaar jy is nie, maar eerder van hoeveel sentimeter jy om jou middel het. Gebruik eerder ’n maatband, as ’n maatstaf van jou vordering as die skaal, want dit wys werklike resultate en sal wees wat die mense sien. Jy kan jouself steeds weeg, maar moenie mismoedig raak as jy nie die resultate sien wat jy graag wil hê nie, want soms weeg spiermassa meer as vet.

Hoe jy gaan lyk op jou mooiste dag, is in jou hande. So begin vroegtydig werk aan die lyf en gesondheid wat jy graag op die dag wil hê.

 

Written by Troukoors