Die perfekte kleurpasmaats vir jou troue

kleurpasmaats vir jou troue 1
Kleur, die ruggraat van jou troue se tema, is ‘n subtiele kombinasie van julle twee se persoonlikehede, die atmosfeer wat julle wil skep en die gevoel wat dit by die gaste gaan los. Kyk gerus na hierdie perfekte kleurpasmaats vir idees vir jou troue.

Jy voel dalk oorweldig met al die kleur-idees, maar die geheim is om terug te gaan na die 4 basiese kleure en daarop te bou. Blou, rooi, groen en geel klink dalk vervelig, maar die regte skakerings van elk, in kombinasie met van sy beste maatjies, kan jou troue verander van plattelands tot koningklik.

BLOU: DIE KLEUR VAN DIE ADEL, SEE EN POLO
Kombinasie-idees:
* SAGTE BLOU, VLOOTBLOU EN GEEL is ideaal vir plattelandse en plaastroues. Die geel sorg vir ʼn vrolike veld-aksent. Leer en hout rond dit mooi af.
* KORINGBLOMBLOU, POEIERBLOU EN LENTEGROEN – dit is ʼn goeie kombinasie, veral as daar materiaal met patrone op betrokke is. Dit is baie elegant en ’n bietjie meer formeel sonder om vaal te wees.
* VLOOTBLOU, SEEGROEN EN WIT- pragtig vir troues by die see en ʼn Mediterreense gevoel.
* VLOOTBLOU, EIERVRUGPERS EN GOUD- As jy ʼn bruid is wat hou van skoon lyne en ʼn tikkie drama, is hierdie die perfekte kleurkombinasie vir jou. Dit is ryk, adellik en klassiek.
 
ROOI: DIE KLEUR VAN LIEFDE, MISTERIE EN PASSIE
Kombinasie-idees:
* KERSIEROOI, AKWAMARYN EN KHAKI is ʼn heerlike speelse kombinasie, veral saam met geometriese patrone.
* BOERGONJE (ROOI-PERS), PERS EN ORANJE- is warm en lieflik vir herfs troues met ʼn woud en/of Boheemse gevoel.
* POPPIEROOI, MAGENTA PIENK EN GEEL- is vrolike, vroulike pasmaats vir ʼn somer piekniekstyl-troue.
* WYNROOI, PERSKE EN SALIEGROEN – nog ʼn vuurwarm idee vir aardse, natuurlike en boeresjiek bruide wat wil speel met kleur.

GROEN: TYDLOOS, VARS EN KALM
Kombinasie-idees:
* VETPLANTGROEN, SWART EN WIT- minimalisties en vars, ʼn wenner vir enige styl.
* SALIEGROEN, GOUD EN IVOOR- uiters klassiek en stylvol met ʼn skoon gevoel.
* LENTEGROEN, PERSKE EN GOUD- vroulik, sag en pure vintage.
* MENT EN KORAAL- uiters gewild op die oomblik, en heeltemal te verstane, die twee kleure bring die beste in mekaar uit.
 
GEEL: WARM, VROLIK EN VROULIK
Kombinasie-idees:
* HELDER GEEL, DIEP NAARTJIE-ORANJE EN LEMOEN-ORANJE hierdie kleure roep somer uit volle bors uit. Oorweeg dit as jy ʼn bruid met ʼn groot persoonlikheid is.
* GEEL, KANEELROOI EN ROOMWIT- Elegant, met net genoeg kleur om ʼn aksent te los. Saam met ʼn tikkie boergonje is dit boonop baie speels.
* GEEL, GRYS EN SILWER – hierdie is ʼn treffende keuse, maar voorkom dat dit te oorweldigend is deur die geel te beperk tot eenvoudige fokuspunte.

 

kleurpasmaats vir jou troue 2

Hierdie is maar net ʼn paar idees om die kleurwiel in jou kop aan die draai te sit. Moenie bang wees om te meng en te pas, of selfs helder en monochroom te gaan nie. Laat die natuur en jou hart jou inspireer. Dek gerus jou kombuis of eetkamertafel met verskillende idees en los dit daar vir ʼn dag om te sien hoe jy daaroor voel. Maak dit ʼn lekker kuier saam met jou strooimeisies, dan kan julle sommer verskillende spyskaarte ook probeer!

Artikel: Yolande van Deventer

Foto’s: One Fab Day, Austin Wedding Day

Written by Troukoors