’n Sonnige geel liefdesfees

sonnige geel liefdesfees
Almal was mal oor die geel trou-inspirasie wat ons verlede week met julle gedeel het. Daarom het ons besluit om hierdie tendens verder te ondersoek deur Stephen en Teresa McGregor se mooiste dag onder ons rooskleurige vergrootglas te bekyk.

Sonnige geel liefdesfees 1

Stephen en Teresa se paaie het al op skool gekruis, maar omdat hulle drie jaar verskil was hulle op daardie stadium net glad nie deel van mekaar se lewens nie. Dit was eers toe hy haar tien jaar later bel, om ’n kwotasie vir sy nuwe webwerf te kry, wat hulle mekaar regtig ontdek het. Vyf maande nadat hulle verloof geraak het, is hulle by Picardi Place in Rawsonville getroud. Dit was ’n sonnige, geel liefdesfees waaroor die gaste nou nog praat.

Die troue se kleur is spesiaal gekies omdat dit vir Teresa ’n simbool is van hulle geluk. “Geel was nog altyd vir my ’n gelukkige kleur en ek wou die geluk wat ek in ons verhouding ervaar daardeur weerspieël. ’n Verhouding wat helder is en sonder pretensies. Dit het ook goed aangesluit by die gemaklike, informele atmosfeer,” sê sy. Omdat die bruidspaar wou hê dat die gaste tuis moes voel en lekker kuier, het hulle nie tafelplasings gedoen nie. Almal kon sit waar en by wie hulle wou en kos kon opgeskep word soos wat die gaste honger was.

’n Tent met gemaklike, vintage trou-dekor het die agtergrond geskep vir hierdie spesiale geleentheid en daar is allerhande interessante elemente ingeluit, soos tuisgemaakte koeldrank, gourmet ciabatta-broodjies, origami-voëltjies, ’n jukebox en sneespapierblomme. Gaan kyk gerus in ons resep-afdeling watter ander tuisgemaakte lekkernye ook goed sal werk vir ’n troue.

Sonnige geel liefdesfees dekor

Die bruidegom se trouvoertuig vir die dag, was ’n baie spesiale Yamaha XT500-motorfiets wat die bruidspaar saam herontwerp en –bou het. Teresa het op die fynere details soos die tenk en skrif op die motorfiets konsentreer, terwyl Stephen die basiese ontwerp hanteer het. “Die fiets is enig in sy soort en ons beplan om ’n familie-erfstuk daarvan te maak, wat ons kind eendag sal erf,” sê Teresa.

Teresa se raad is dat jy nie enigiets vir jou troue op skuld moet doen nie. “Bly binne jou begroting en besluit van die begin af watter tipe troue jy wil hê. Ons wou nie lang toesprake of tradisionele goed soos ruiker- en kousbandgooi en koeksny doen nie en ons gaste het dit baie waardeer om nie deur urelange toesprake te sit nie.”

Teresa het self die etikette ontwerp en laat druk wat op die tuisgebak en koeldrankbottels gekom het en sy het ook self die papiervoëltjies gevou. Die internet het baie doen-dit-self-idees wat jou baie geld kan spaar, so moenie bang wees om te google nie! Sy het alles ook self gekoördineer, wat doenbaar is as jy die tyd het en jou ook ’n paar rand sal spaar.

Sonnige geel liefdesfees3

DIENSVERSKAFFERS
Foto’s – Leo en Lize Mostert van Lilac Photography
Venue – Picardi Place
Blomme – Ilma Joubert; 083 609 7434
Dekor – Tuka by Picardi Place
Verhurings (stoele by seremonie) – Urban Tonic
Tent – Best Event Hire
Skryfbehoeftes – Prettig
Troukoek (pekanneuttertjies) – Dihana Kloppers; 082 477 3845
Musiek – Neil Dallas Jukebox Hire
Videograaf – Edward van Niekerk
Trourok – Paul-Muller de Kock
Hare en grimering – Anne-Mart Strydom Hair & Makeup
Bruidegom se uitrusting – Hilton Weiner Canal Walk

 

Written by Troukoors