ʼn Blomryke troue in die Laeveld

blomryke troue in die laeveld 1
Amy hou besonders baie van blomme en het dit in elke aspek van haar en John se troue ingewerk. Dit het beslis gesorg vir ʼn vars en romantiese atmosfeer.

blomryke troue in die laeveld 2

Amy en John het by die kerk ontmoet en al het dit vir John bietjie langer as vir Amy gevat, het die liefde tog oor die jare begin blom. (Met geduld en effe minder subtiele hupstootjies van Amy se kant af.) John het die groot vraag op die 122ste vloer van die Empire State gebou, in New York, gevra. Ewe intiem in ʼn sag verligte hoekie weg van die ander toeriste af. (Sleepless in Seatle spring kom in mens se gedagtes op).

DIE BELANGRIKSTE VAN HULLE BEPLANNING
Amy het meeste van die beplanning gedoen. “John was baie ondersteunend met die beplanning, maar nie baie betrokke nie. Ek sou wel verandering in planne met hom bespreek.” Die uitkies van die venue was vir hulle belangrik om saam te doen, want dit moes hulle karakter weerspieël. Hulle albei kom van die Laeveld af en het dit hulle dus na aan die hart gelê om daar te trou.

Nadat hulle van Stroopsoet fotografie deur ʼn werkskollega gehoor het, was hulle besluit finaal. “Ons trouherinneringe moes vasgevang word op ʼn tydlose en egte manier, Stroopsoet kon dit vir ons bied.”

’N SPANPOGING VAN FAMILIE EN VRIENDE
Amy het nie geskroom om so veel as moontlik familie en vriende te betrek by die troue nie. Tannies, vriendinne, ma’s, oumas, oupas en selfs werknemers van haar man (wat darem vriende ook is) is ingespan om hulle mooi dag die stralende geleentheid te maak wat dit was. “Dit het die dag en die elemente van die troue net soveel meer spesiaal gemaak en ons gehelp om geld te spaar”, sê Amy. “Ons het ook soveel as moontlik van die plaaslike besighede ondersteun.”

blomryke troue in die laeveld 3
’N INTIEME DAG VAN LIEFDE
“Ons wou ʼn intieme troue saam met familie en nabye vriende hê en meer as enige iets, ʼn dag gevul met liefde en geluk. Dit is juis ook die een ding wat in besonder uitstaan van ons troudag, die omgee en warmte wat ons gaste na ons toe uitgestraal het. ʼn Mens kry daardie atmosfeer moeilik beskryf.”
Die enigste uitdaging was om die gastelys klein te hou sonder om iemand ongelukkig te laat voel.

IETSIE OUD EN IETSIE NUUT VAT HANDE
Tradisies en moderne elemente het soos ou vriende gemaklik langs mekaar ingeval by die twee se huweliksfees. Daar was die tradisionele troumars, vrugte troukoek en die ruiker en kousband is gegooi. Gaste kon ook lawwe goedjies aantrek by die fotohoekie vir prettige foto’s en hulle duimafdrukke maak op ʼn gasteboom. Rustiek en elegant het ook soomloos saamgesmelt, rou baksteen mure en verroeste staalplafonne, met pragtige kandelare, het in hulle mooiste baadjies gepronk. Sagte neutrale kleure van room, wit, vlootblou en grys met spatsels sagte pienk en pers was die sement wat alles bymekaar gebring het.

GLASIE VONKELWYN OM ALLES IN TE NEEM
Amy en John het vroeg klaar gemaak met hulle paartjie-foto’s en het ʼn spesiale alleen oomblik in die kapel gehad, waar hulle ʼn glasie vonkelwyn kon drink en net alles kon inneem, terwyl hulle wag vir die gaste om by die onthaalsaal in te gaan. ʼn Stukkie terugsit en asemhaal is baie belangrik op hierdie pragtige dag waar alles in ʼn oogwink verby is.

blomryke troue in die laeveld 4

DIENSVERSKAFFERS

Venue: Whispering Thorns

Drankies: Merry Pebbles Liquor store

Bloemis: Aster Garden (Barbara Scrooby)

Skryfbehoeftes: Robot Dwarf (Caroline Terblanche)

Troukoek: Irma

Fotograaf en videograaf: Stroopsoet Fotografie

Musiek: DJ Sean

Trourok: Marina Williams

Hare: MRG Hair Desgin (Marica Greyvenstein)

Grimering: QueenB Professional Make-up Artistry (Cassandra McLaren)

Artikel: Yolande van Deventer

Written by Troukoors