ʼn Bosveld troue saam met familie

bosveldtroue saam met familie 1
In vandag se besige bestaan kry families selde kans om saam te kuier. Daarom het Pieter en Mylene seker gemaak familie kom eerste op hulle troue.

bosveldtroue saam met familie 2

Pieter het altyd gesê dat die meisie wat hy in die dam kan gooi, sonder dat sy ontsteld raak, die vrou gaan wees met wie hy trou. Ongelukkig vir hom was Mylene die een wat hom eerste in die dam gegooi het! Dit was toe ook die oomblik wat hulle geweet het hulle is vir mekaar bedoel.

Hierdie twee mense is na aan die natuur en sonder pretensie, hulle troudag het dit weerspieël. Eendeier-blou, naaswit, pastelkleure en ryk bruine was die perfekte agtergrond vir hulle vintage bosveld tema. Boonop het hulle alles self gedoen.

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Na 2 jaar se hope pret saam het ons begin praat oor die groot dag. Op ons 3 jaar herdenking het hy my bederf met ʼn plaaspiekniek op Ysterberg. Ek het my geskenk vir ons mylpaal eerste gegee, maar voordat ek my oë kon uitvee, staan die man op sy knieë en vra of ek sy vrou sal wees. Ons het daarna op die plaas rondgery met die grootste glimlagte op ons gesigte, dit het heel onwerklik gevoel.”

bosveldtroue saam met familie 3

VERTEL ONS VAN DIE BEPLANNING?
“My ma en Pa was kinderlik opgewonde om die reëlings af te skop. Die eerste ding was die venue, fotograaf en natuurlik die rok. Alles van die troue was idees wat deur almal voorgestel was en ek en Pieter het van alles gehou. Van die rok tot die blomme op die tafel was deur albei pare ouers voorsien.”

BESKRYF JULLE TROUDAG?
“Ek was die oggend baie rustig, of dit was dalk net die hulp van my strooimeisies en die Rescue pilletjies! Daar was baie opgewondenheid in die kamer terwyl ons reggemaak het. Ek het so vinnig by die kerk ingestap en skoon vergeet my strooimeisies moet voor stap! So hulle het maar net gevolg. Na die diens was dit ʼn vreemde gevoel om te weet ek het ʼn man. Die fotosessie was ongelooflik lekker en gemaklik om te neem. Dit het mooier uitgekom as wat ons ooit verwag het. Daarna het ons die saal aangepak en onsself trommeldik geëet en baie lekker gedans! Die dag het vreeslik vinnig verbygegaan maar alles het perfek afgeloop.”

HET DAAR ENIGIETS SPESIAAL GEBEUR?
“My pa, Hennie le Roux, het ʼn kassetopname met die snaakste en hartseerste tye van my lewe, van my kinderjare tot en met die dag wat hy my aan my man oorgegee het, opgeneem. Ons almal het ʼn traan gepik. My man se suster, Minette de Weerd (in Australië) het vir ons ʼn boodskap gelos, wat by die troue voor almal voorgedra is, dit het ons almal baie emosioneel gemaak.”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?

  • Vir die manne: Moenie te veel inmeng nie, dit is jou groot dag ook, maar glo my jou bruid sal dit die perfekte dag maak.
  • Wees oopkop oor almal se idees en probeer dit uit hulle perspektief sien.
  • Doen waarvan jy hou sodat die mense jou persoonlikheid in al jou dekor kan sien.
  • As jou strooimeisies jou ware vriendinne is, dan weet jy die dag sal glad verloop.

bosveldtroue saam met familie 4

DIENSVERSKAFFERS
Venue, spyseniering en drankies: Grin Court
Koördinering, blomme en dekor: Hennie & Karina le Roux
Troukoek en Trourok: Karina le Roux
Fotograaf: Charl van der Merwe
Musiek: Johan Jansen
Vermaak: Dries Daimond
Hare: Nadine
Grimering: Angelique Wentzel
Bruidegom se uitrusting: Woolworths, Strikdasse: Auwke Jongbloed
Troukar: Danny Donavon

Artikel: Yolande van Deventer

 

Written by Troukoors