Oulike idees vir Valentynsdag

Valentynsdag

Dit is weer daardie tyd van die jaar, wanneer al die winkels in rooi getooi is… Hierdie Sondag is dit Valentynsdag en jy kan nie aan ’n enkele bederf-idee dink wat nie jou spaarvarkie gaan laat bars nie. Ons het vir jou ’n paar bekostigbare idees…

Alhoewel ’n mens elke dag vir jou geliefdes moet wys dat jy hulle liefhet, hou Valentynsdag tog ’n tikkie sprankel en romanse in vir diegene wat hopelose romantikusse is. Hierdie jaar is Valentynsdag op ’n Sondag en is dit makliker om iets spesiaal van die dag te maak.

  1. As jy nie aan ’n oulike geskenk-idee kan dink nie, maak jou eie een. Hou jou lyf Shakespeare en skryf julle liefdesverhaal in storieboekformaat en laat dit vir hom druk en bind… of brand die kante van die papier waarop jy dit gedruk / geskryf het, rol dit mooi op en sit dit in ’n bottel… hy sal hierdie unieke stuk werk en jou moeite baie waardeer en eendag kan julle dit met jul kleinkinders deel.
  2. Steek sjokolades met leidrade in die tuin weg en laat jou geliefde op ’n skattejag gaan om uit te vind wat jy vir Valentynsdag beplan het – dit kan enigiets wees van ’n piekniek tot ’n romantiese kersligete by sy gunstelingeetplek.
  3. As jy op die kersligete by sy gunstelingrestaurant besluit het, sluit die aand af met ’n fliek by kerslig en ’n rugmassering.
  4. As julle begroting dit toelaat, verras hom met ’n naweek weg en offer ’n bietjie jou eie gerief op deur te gaan kamp. Kies ’n stil plek en beplan dan ’n piekniek onder die sterre of by die rivier om die naweek op Valentynsdag af te sluit…
  5. Bestel julle gunstelingwegneemete en versier jou sitkamer met kerse en ’n piekniekkombers. Hou die sjampanje op ys en geniet mekaar se geselskap vir Valentynsdag.
  6. As jy hou van kosmaak, berei jou geliefde se gunstelingdis voor, dek ’n romantiese tafel buite op die stoep, speel strelende musiek en eet, dans en kuier die aand om.
  7. As manlief moet werk op Valentynsdag, pak vir hom ’n kosblik met hartjietoebroodjies, ’n PS-sjokolade wat sê: Ek is lief vir jou… en ’n paar uitgesoekte boodskaplekkers. Nooi hom ook amptelik vir aandete en belowe ’n romantiese en ontspannende aandjie sodat hy iets het om na uit te sien.
  8. Omdat Valentynsdag op die 14de val, is dit oulik om ’n lysie op te stel met 14 redes waarom jy oor hom mal is. Bedien vir hom ontbyt in die bed en laat die lysie op die skinkbord staan sodat jou geliefde presies kan weet hoekom jy mal is oor hom.

Met ’n bietjie moeite kan Valentynsdag hierdie jaar baie spesiaal wees.

 

Written by Troukoors