’n Liefdesfliek op Valentynsdag

'n liefdesfliek op Valentynsdag
Bederf die liefde van jou lewe hierdie Valentynsdag met ’n liefdesverhaal wat julle verhouding kan verander. Ivan Botha en Donnalee Roberts is terug met ’n splinternuwe hartsfliek oor liefde wat Vir Altyd kan hou.

Daar is darem niks so lekker as om op Valentynsdag saam met die man in jou lewe te gaan fliek nie… en as dit ’n goeie gehalte liefdesfliek is wat julle gaan kyk is dit nog soveel beter! Daarom moet julle sommer nou al kaartjies bespreek om die langverwagte fliek, Vir Altyd, te gaan kyk.

Vir Altyd vertel die verhaal van Hugo (Ivan) en Nina (Donnalee) se vriendskap wat in liefde verander… maar as gevolg van omstandighede uitmekaar geskeur word. Jare later loop hulle mekaar weer raak by Nina se troue en wanneer die sprokiesdag skeefloop… neem ’n sameloop van omstandighede hulle op ’n liefdesavontuur in Mauritius. Daar kruis hulle paaie met twee ander paartjies – in verskillende ouderdomsgroepe en met verskillende omstandighede – en saam leer die drie paartjies die lesse wat die lewe hulle al so baie wou leer oor ware liefde – die tipe liefde wat vir altyd hou.

As jy ’n aanhanger was van Pad na jou Hart, is hierdie beslis nie iets wat jy wil mis nie. Die toneelspel, storielyn en pragtige ligging van die fliek sal jou beslis nie teleurstel nie. Flieks soos hierdie laat ’n mens nie net weer glo aan liefde nie, maar maak ’n mens positief oor die toekoms van Afrikaanse films in ons land. Dit is ook lekker om gesoute akteurs soos Ilse Roos, Dirk Stoltz, Elize Cawood, Wilson Dunster en Hélène Truter in aksie te sien.

Die boek, Vir Altyd deur Francois Bloemhof, is ook beskikbaar by jou naaste boekwinkel of aanlyn by Tafelberg Uitgewers.

Bespreek julle sitplekke, kry springmielies en sjokolade en geniet Valentyns-Sondag met ’n fliek waaruit julle iets kan leer. Dit begin landswyd op vandag, 12 Februarie 2016, wys. Hier is die lokprent.

 

Written by Troukoors