’n Kaapse troue vir ’n Namibsroos

kaapse troue vir namibsroos1 (1)
Charlene het op ’n plaas in Namibië grootgeword en dit is hier, reg voor hulle plaashek, waar Wessel haar gevra het om te trou.

kaapse troue vir namibsroos1 (2)

Die twee het mekaar raak gebraai en ’n warmgebelde telefoonlyn het ’n maand later tot ’n verhouding gelei. Wessel is ’n man met ’n klein hartjie vir wie sy vriende en familie belangrik is. Charlene het geweet hy is die man vir haar nadat sy sy familie vir die eerste keer ontmoet het en gesien het hoe hy sy ma behandel (en hy nie weggehol het nadat sy vir hom kits pasta in ’n mikrogolf bak gegee het nie!). ’n Desembervakansie by haar ouers op die plaas het uitgedraai in ’n verlowing. Wessel het saam met die hele familie gekonkel om die groot oomblik perfek te maak.

WINDPOMPE, ROSE EN KERSE
Hulle kleurskema was pastel pienk en grys waarby hulle gunsteling elemente soos windpompe, rose en proteas ingevleg was. Hulle dag was perfek, vol lag en vreugdetrane. Alles het seepglad verloop omdat elkeen presies geweet het wat om te doen en dit reg gedoen het.
Sy vertel ons meer van hulle sprokiesdag…

kaapse troue vir namibsroos1 (3)

HOE HET JULLE TE WERK GEGAAN MET DIE BEPLANNING?
“Ons het eerste met die begroting begin en daarna ’n hele klomp venues besoek. Nadat ons die ideale plek gevind het was dit maklik, want hulle het byna alles vir ons gedoen. Om geld te spaar het ons ook ’n hele klompie goed self gemaak.”
 
WATTER ATMOSFEER WOU JULLE SKEP?
“Dit was vir ons belangrik dat gaste die dag saam met ons kon geniet en net hulself kon wees. Daarom wou ons ’n kalm en ontspanne atmosfeer skep.”
 
HET DAAR ENIGIETS SNAAKS OF SPESIAAL OP JULLE TROUDAG GEBEUR?
“Met die gooi van my kousband het Wessel se beste vriend vir hom ’n streep getrek. Hy het ’n tafeldoek om hom gedraai en op die stoel, in my plek, geklim. Arme Wessel was geblinddoek en sy hande was agter sy rug vas. Nodeloos om te sê het hy nie die kousband gekry nie. Almal het vreeslik begin lag en hulle het sy blinddoek afgehaal. Dit was skreeusnaaks om Wessel se reaksie op die hele petalje te sien!”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?

  • Geniet elke oomblik van die beplanning.
  • Maak jou verloofde deel van die beplanning, julle leer so baie van mekaar ken en dit is bo alles tog ook sy spesiale dag.
  • Moenie dat enigiets of iemand jou op jou troudag ontstel nie, onthou dit is net jy wat presies weet hoe alles moet lyk.
  • Wees net jouself en geniet elke oomblik!

kaapse troue vir namibsroos1 (4)

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördineerder, spyseniering en drankies: Kronenburg Estate
Blomme: Blomme verskaf deur Mint and Magnolia, gestileer deur Veronica Wentzel van The Lifestyle store in die Paarl
Dekor: Self
Skryfbehoeftes: Paper paradise
Troukoek: The Purple cupcake
Fotograaf: Matthew Carr Photography
Videograaf: Vriende (Gert van Lill and Pierre Grundling)
Musiek: A-HA Live band
Trourok: Meylea Bridal
Hare: Hair we go
Grimering: Skoonlief
Bruidegom se uitrusting: Stanwill Bloemfontein
Vervoer: Paarl Motors

Artikel: Yolande van Deventer

 

Written by Troukoors