Geldfoute wat pasgetroudes moet vermy

Trou_begroting

As pasgetroudes wil julle graag jul nuwe lewe saam op die regte manier begin en dit sluit ook julle geldsake in. Hier is ’n paar slaggate wat julle liewer moet vermy as julle daardie spaarvarkie vet wil hou.

Geldsake is nooit maklik om oor te gesels nie, maar dit is baie belangrik om dit wel te doen aangesien liefde alleen nie genoeg is om julle in die werklike lewe aan die gang te hou nie. Dit is noodsaaklik om van die begin af so min as moontlik onnodige skuld te hê en om stewige beheer van geldsake te neem. Hier is ’n paar slaggate waarin baie pasgetroudes gereeld trap, en wat julle liefs moet vermy.

ONS HET NIE ’N BEGROTING NODIG NIE. Dit is seker moontlik om sonder ’n begroting klaar te kom, maar dis nie noodwendig ’n slim ding om te doen nie. As julle nie ’n behoorlike begroting het nie, is dit moeilik om tred te hou van hoeveel geld julle elke maand uitgee en inkry – dit kan selfs maak dat julle rekeninge in die rooi gaan sonder dat julle dit besef. Om vir die eerste keer saam ’n begroting op te stel, kan moeilik wees, veral as nie een van julle gewoond is daaraan om een te hê nie. As julle van die begin af ’n behoorlike begroting het, sal dit vir julle in die toekoms makliker wees om julle finansiële doelwitte te bereik.

ONS KAN NIE NOU SPAAR VIR ONS OUDAG NIE. Sommige pasgetroudes voel dat hulle huis hulle spaarplan vir die toekoms is, want dit gaan mos baie werd wees wanneer hulle dit eendag moet verkoop. Maar ongelukkig is die huismark baie onstabiel en daarom kan dit nie die enigste ‘spaarplan’ wees wat julle in plek moet hê nie. ’n Afrteefonds, spaarplan en selfs ’n spaarrekening vir krisissituasies is ’n moet – al gaan dit nou effens broekskeur deur die maand, is dit beter as wat julle moet werk tot die dag wat julle doodgaan.

ONS SPANDEER MEER AS WAT ONS KAN BEKOSTIG. Jong paartjies, met ’n goeie kredietgeskiedenis, is vir finansiële instansies ’n groot aantrekkingskrag en daardie paartjies word gewoonlik oorval met geleenthede om geld te kan leen… en voordat hulle hul oë uitvee, het hulle meer skuld aangegaan as wat hulle kan bekostig. Maak seker dat julle regtig daardie boot, nuwe kar en sitkamer vol meubels op een slag nodig het voor julle dit koop met geleende geld.

Die belangrikste ding om te onthou, is om eerlik met mekaar te wees oor geldsake. Stel ’n begroting op en hou daarby en sit spaarplanne in plek. Solank as wat julle by hierdie eenvoudige reëls hou, sal julle nuwe huweliksbootjie se skatkis oor die jare groei – net soos julle liefde vir mekaar.

 

Written by Troukoors