Hou ’n romantiese piekniektroue

hou 'n romantiese piekniektroue 1
Om ’n romantiese piekniektroue in die buitelug te hou, is deesdae baie gewild. Liza de Jager van Bella Vestito verklap die moets en moenies van so ’n troutema.

Kom kuier saam met ons by Troukoors se eksklusiewe werkswinkel op 18 Junie 2016 by Morgenzon in Pretoria
en staan ’n kans om ongeveer R100 000 se pryse vir jou troue te wen!
Kaartjies kos R200 per persoon (beperkte hoeveelheid beskikbaar). Kliek hier vir meer inligting.

Werkswinkel
Foto geneem deur Adene Photography
——————————————————————————————————————

hou 'n romantiese piekniektroue 2

Wanneer dit kom by tema kies vir jou troue, en ’n bruid is wat graag bietjie buite die boks wil wees, is ’n romantiese, ontspanne en gesellige piekniektroue dalk net die regte tema vir jou. Indien julle ’n paartjie is wat van die buitelewe hou, en jy boonop ’n paar sente wil spaar, kan jy nie hiermee verkeerd gaan nie.

DIE PLEK
Die perfekte plek vir jou piekniektroue is baie belangrik. Daar is baie aspekte waaraan gedink moet word. Dit kan in jou eie tuin gehou word, mits jy genoeg spasie het, of op ’n vriend se plaas, in ’n park, of in die tuine by ’n troulokaal. Faktore wat in ag geneem moet word is:

* Het jy enige permitte nodig om jou troue daar te hou? In publieke parke mag dit dalk die geval wees en jy sal dan eers die nodige reëlings moet tref en die papierwerk in orde moet kry.
* Maak seker dis ’n plek waar julle slegs die geluide van Moeder Natuur as agtergrondmusiek sal hê. Indien dit naby ’n besiege pad, treinspoor of vliegveld geleë is, sal die gedreun van enjins defnitief ’n demper plaas op julle salige atmosfeer.
* Natuurlik sal jou gaste ook die kleedkamer wil besoek op ’n stadium, en dit is dus baie belangrik dat daar genoeg geriewe is daarvoor en dat dit skoon en netjies is.
* Reën op jou groot dag word gesien as ’n teken van geluk, maar by ’n piekniektroue is dit ’n teken van nat gaste en trash the dress-foto’s in plaas van troufoto’s. Maak seker jy het ’n plan B vir ingeval die weer nie saamspeel nie. Jy kan ’n markiestent huur, of indien jy by ’n troulokaal is dalk in een van die sale in skuif indien nodig.

WAAR SIT ALMAL?
Daar is verskeie opsies waarna jy kan kyk. Jy kan piekniektafels gebruik, een lang tafel maak, of natuurlik komberse ooral op die gras neersit. Jy moet jou gaste se gemak in ag neem, en daarom is strooikussings op elke kombers ’n goeie idee. Sit ook hier en daar ’n gemaklike bank neer vir die ouer gaste. Jy kan tog nie verwag dat jou ouma van 80 op ’n kombers moet sit nie… sy sal nie weer kan opkom nie.

DIE ETE
Gevlegde mandjies, gevul met die heerlikste, vars gebakte brode en ander tradisionele piekniekkosse kan per gesin gepak word en by elke kombers neergesit word. Indien die huur van die mandjies jou begroting ’n knou gee, kan jy ook bokse versier, of selfs die kosse in bruinpapiersakkies, of geskenksakkies pak wat pas by jou kleurskema. Dis belangrik om kosse te kies wat vooraf gemaak en gepak kan word aangesien jy nie kombuis buiderhand sal hê nie. Bedien ook eerder kosse wat by kamertempratuur geëet kan word, dit sal moeilik wees om kosse te moet koud hou of te verhit. Kies eerder kosse wat maklik is om te eet, soos vingerkosse, as wat jou gaste moet sukkel om sop te eet. Indien jy wil tyd spaar op voorbereiding, en vir jou gaste ’n meer interaktiwie eet-ervaring wil gee, is ’n doen-dit-self-toebrooidjiekroeg ’n baie pretige ervaring. Elke gas kan sy eie koelboks met drinkgoed bring, maar hou tog baie ys en water byderhand vir ingeval.

hou 'n romantiese piekniektroue 3

DEKOR
Leef jouself uit! Dit kan so ontspanne of so elegant wees soos wat jou verbeelding toelaat. ’n klein glas potjie, of ysteremmertjie met veldblomme in, by elke kombers… Gebruik ou kratte wat jy langs die kombers sit en plaas dan jou blomme op dit. Jy kan ook ’n Sitronella kers op die krat plaas wat gaste later kan aansteek indien daar enige lawwe goggas is wat wil pla. Om ’n tafeltjie te skep in die middel van elke kombers kan jy palette bo-op mekaar pak en dan jou uitleef met die versiering hiervan. Bunting of liggies kan ook tussen die bome gespan word om jou prentjiemooi omgewing te af te rond.

VERMAAK
Om jou gaste te vermaak is daar ook talle indees. Jy kan n vioolspeler of self ’n musiekgroep kry om amal se ore te prikkel. Grasperkspeletjies is ook altyd ’n treffer by die gaste. Dinge soos rolbal, pluimbal, vlugbal, tennis, skaak, en talle ander speletjies kan gespeel word.

KLEREDRAG
Dit is belangrik dat jou gaste gemaklik aangetrek is vir hierdie tipe troue. Hulle moet maklik kan gaan sit en weer opkom van die grond af in hulle kleredrag. Asook natuurlik gemaklik kan deel in die pret van jou grasperk speletjies. Neem ook in ag dat dit baie warm kan word, so lang mou hempde en dasse is nie gepas vir jou manlike gaste of bruidegom nie. Natuurlik moet jy as bruid ook jou gemak in ag neem wanneer jy jou rok kies. Kies iets sag en koel. Indien moontlik ’n rok sonder ’n sleep, en nog beter ’n korter knie lengte trourok.

Geniet elke oomblik van die beplanning. En onthou, leef jou uit, daar is nie ’n reg en verkeerd nie, omskep jou piekniektroue in jou fantasie!

Hooffoto: Candice Adelle Photography
Foto’s: Rock ’n Roll Brides; Huffington Post; Wedding Details; Platinum Party Events; Wedding Chicks; Southern Brides

 

Written by Troukoors