’n Fliek wat jou hart sal raak

'n fliek wat jou hart sal raak
Uitvlucht is ’n baie inspirerende fliek en begin vandag by fliekteaters regoor die land wys. Gaan kyk dit gerus, jy sal nie spyt wees nie.

Daar word deesdae baie flieks in Afrikaans gemaak, party met minder trefkrag as ander, maar Uitvlucht is ’n fliek met hart en siel, wat jou beslis sal verstom en jou hart diep sal raak. Dit is ’n inspirerende liefdesverhaal, wat selfs die hardste manshart sal laat vermurwe – as jy hom net kan oorreed om saam te gaan fliek toe!

Dit vertel die verhaal van Anna (Clara Joubert van den Bergh) wat die stukkies van haar lewe moet optel wanneer ’n buite-egtelike verhouding haar huwelik verwoes en sy alles verloor wat vir haar saak maak. Sy is ’n juffrou en kry werk by ’n plaasskool met die naam Uitvlucht en dit is hier, tussen opregte en warm mense, waar sy haar keuses van die verlede en alles wat gebeur het kan begin verwerk en genesing stadig-maar-seker begin plaasvind. Die stukkies van haar lewe begin stadigaan weer in plek val soos wat sy leer om haarself te vergewe, en die ondersteuning van ander onderwysers en Dok (Stian Bam), ’n goedhartige plaasboer, haar die moed gee om haar lewe te herbou.

Uitvlucht is ’n storie van hoop, genade, moeilike situasies en liefde wat alles oorwin. Regardt van den Bergh, wat onder andere verantwoordelik was vir die trefferfliek Faith like Potatoes, is die regisseur van die fliek en oortref homself beslis. Hy en sy vrou Clara, wat die hoofrol speel en bekend is vir haar rol as Hes in Orkney Snork Nie, het saam die draaiboek geskryf.

Ander akteurs wat ook in die fliek te sien is, is Clyde Berning wie se bekende akteursvrou mede-vervaardiger is, asook Albert Maritz, Margot Luyt en vele meer.

Uitvlucht begin vandag draai, so kry kaartjies en springmielies en ondersteun hierdie inspirerende storie. Jy sal nie spyt wees nie.

Hier is die lokprent. Gaan LIKE ook die fliek se Facebook-blad.

 

Written by Troukoors