Waar kom hierdie 8 troutradisies vandaan?

waar kom hierdie 9 troutradisies vandaan 1
Daar is baie formaliteite wanneer dit by troues kom, maar waar het al hierdie troutradisies ontstaan en hoekom. Liza de Jager van Bella Vestito het gaan uitvind.

waar kom hierdie 9 troutradisies vandaan 2

Jy is smoorverlief en beplan die troue van jou drome. Gewapen met ’n lys van alles wat jy moet onthou, spring jy in en beplan elke stap haarfyn. Maar terwyl jy aftiek dat jy jou blomme, strooimeisies, kousband, rok ensovoorts het, het jy al ooit gewonder waar kom hierdie tradisies vandaan?

Vandag is ’n troue ’n romantiese geleentheid, maar dit was nie altyd waar vir bruide uit ons voorgeslagte nie. Party het getrou met hulle groot liefdes, terwyl ander meer soos beeste was – ’n besitting wat net verkoop of weggee kon word soos wat hulle pa’s dit goedgedink het.

Hier is agt troutradisies en waar hulle vandaan kom:

DIE HANDRUIKER
Vandag kies ’n bruid die blomme in haar handruiker deur haar gunstellingblomme te gebruik, en deur dit te laat inpas by die kleurskema van die troue. Gedurende die vyftiende eeu is die handruiker gebruik vir ’n ander rede. In daardie tyd het mense slegs een keer per jaar behoorlik gebad. Ja, jy het reg gehoor, net een keer per jaar. Dit was gewoontlik in Mei-maand en daarom was dit baie gewild om in Junie te trou. Dan was almal darem nog “redelik” vars. Net om veilig te speel, het bruide handruikers gedra om enige reukies, wat dalk al opgebou het, te verdoesel. Nog ’n gewilde rede vir die handruiker, was om bose geeste weg te hou. Hierdie handruikers is normaalweg gemaak van sterkruikende kruie, speserye en knoffel. Dink nou net hoe jy sou voel om met knoffel in jou hande in die kerk in te stap.

STROOIMEISIES
Gedink dis ’n eer wanneer die bruid jou vra om haar strooimeisie te wees? Miskien vandag, maar in die vroeër eeue sou jy nie een wou wees nie. ’n Strooimeisie was meer soos ’n lokmiddel. Omdat daar baie bygelowigheid was in daardie dae, is die strooimeisies presies soos die bruid aangetrek, sodat enige bose geeste wat dalk hulle verskyning wou maak op die groot dag, nie sou weet watter een van die jong dames die bruid is nie.

Omdat bruide in vroeër dae saam met groot bruidskate, soos geld of land gekom het, is daar baie bruide ontvoer voor die troue. Sy sou dan gedwing word om met haar ontvoerder te trou en die huwelik te voltrek. Daarna moes die pa van die bruid die bruidskat oorhandig aan die dogter se nuwe “man”. Daarom is dieselfde geklede strooimeisies ook ’n goeie lokmiddel om die bruid teen ontvoerders te beskerm.

waar kom hierdie 9 troutradisies vandaan 3

STROOIJONKERS
Deesdae is die strooijonkers verantwoordelik vir die rampartytjie en om ’n fles drank byderhand te hê op die groot dag, vir ingeval die bruidegom se senuwees begin knaag.

Die tradisie van strooijonkers kom ook uit die dae van bruide wat ontvoer is. Die strooijonkers was in daardie dae bruidsridders. Hulle was aan die bruidegom se sy om enige moontlike ontvoerders van die bruid te beveg.

Indien die bruid se famlie nie ’n huwelik wou goedkeur nie was die strooijonker deel van die bruidegom se bende van ontvoerders om te help om die bruid met mag by haar familie weg te vat. Die hoofstrooijonker is gekies omdat hy die vaardigste met ’n swaard was, en dus die bruidegom die beste sou kon help in ’n geveg.

WEGGEE VAN DIE BRUID
Die meeste bruide droom daarvan om aan haar pa se sy met die paadjie af te stap en dan aan die man van haar drome oorhandig te word. Die weggee van die bruid. Die bewoording sê alles. Vandag sien ons dit as ’n spesiale oomblik tussen pa en dogter, maar die oorsprong daarvan was glad nie so spesiaal nie. Dogters is op ’n tyd basies verkoop aan wie ookal die meeste geld of aansien gehad het, en wie vir die pa kon deure oopmaak, hetsy in besigheid of sosiaal. Die weggee van die bruid was die oomblik waarop hierdie besigheidstransaksie voltrek is. Die oorhandiging van eiendom vanaf die ou eienaar na die nuwe eienaar.

waar kom hierdie 9 troutradisies vandaan 5
DIE WIT TROUROK
Glo dit of nie, wit was nie altyd die gewensde kleur vir ’n trourok nie. Dames het meestal net getrou in die beste rok in hulle kas. Indien hulle wel iets spesiaal gemaak het, was dit steeds nie wit nie. Die koninklikes het in silwer getrou, die aristokrate in pers en die meeste ander vrouens het in blou getrou. Blou het getrouheid gesimboliseer.

Koningin Victoria het die hele wit trourokmodegier begin toe sy in die 1800’s in ’n witrok getrou het. Maar die witrok is nooit bedoel om die teken van maagdelikheid te wees nie, dit was die werk van die sluier.

waar kom hierdie 9 troutradisies vandaan 6

DIE SLUIER
’n Sluier oor die bruid se gesig was ’n teken van maagdelikheid. Die sluier simboliseer kuisheid. Eeue terug was sluiers nie wit nie. Dit was gekleur in kleure soos rooi en geel. Hierdie sluiers is ook gebruik om bose geeste om die bos te lei sodat hul nie kon sien wie die bruid is nie.

IETSIE OUD, NUUT, GELEEN, BLOU… EN SIKSPENS IN JOU SKOEN
Elke bruid weet jy kort iets oud, iets nuut, iets geleen en iets blou op die troudag. Min bruide weet van die sikspens in jou skoen, wat hierdie rympie voltooi. Hierdie ritueel van geluk het ontstaan uit die mens se geneigdheid om bygelowig te wees. Waarvoor staan elkeen van hierdie rituele?
Iets oud: Die iets oud was normaalweg van die bruid se ouma afkomstig, en is bedoel om die bruid te bind met haar ou familie.
Iets nuut: Die iets nuut is daar om die bruid met haar nuwe familie te verbind.
Iets geleen: Normaalweg sou die bruid iets leen by ’n vriendin of familielid wat reeds vir ’n hele paar jaar suksesvol getroud is. Dit word gedra met die hoop dat dit ’n bietjie van die goeie geluk na die bruidspaar se huwelik sou oordra.
Iets blou: Die kleur blou staan vir getrouheid en reinheid.
Sikspen in jou skoen: Hierdie ritueel is begin met die hoop dat dit vir die bruid en bruidegom letterlike rykdom sou bring.

waar kom hierdie 9 troutradisies vandaan 7

DIE TROUKOEK
Troukoek kan ontsaglik duur wees. Hoekom spandeer ons so baie op ’n koek?
Dit het alles begin by brood! Dit was tradisie vir die bruidegom om na die seremonie aan ’n stukkie brood te peusel en dan die res van die brood te breek en te verkrummel bo-oor die bruid se kop. Die trougaste sou dan haas om die krummels op te tel vir… Ja, jy het reg geraai… geluk! Later het dit verander in koek, wat darem nie oor die bruid se kop verkrummel is nie. Die bruid het dan klein stukkies koek deur haar trouring gedruk en vir elke gas ’n stukkie gegee vir geluk. Gelukkig hoef jy, as bruid, nie vandag meer vir twee ure lank koek deur jou ring te druk nie. Gee sommer net vir elkeen ’n sny op ’n bordjie om tyd te spaar.

Daar het julle dit nou. Baie vreemde oorspronge, maar nogal interessant… Ai, die ou dae darem.

Hooffoto: Wedding Elation
Foto’s: Jessica Frey Photography, Moncheri Bridals, Wedding Inspirasi, Wedding Pictures, Weddings by Lilly

 

Written by Troukoors