Groomzilla – hoe gemaak met ’n moeilike bruidegom?

bruidegom
Die bruidegom is gewoonlik nie die moeilike een wanneer dit by troubeplanning kom nie. Alhoewel groomzillas in die minderheid is, is hierdie trou-korporale besig om al hoe meer kop uit te steek. Gina van Staden het gaan kyk na maniere om hulle te hanteer.

ERWS-BANNER-20-96x14

Dit word amper van ’n vrou verwag om in ’n kranksinnige Bridezilla te verander, maar hierdie stigma word nie net meer aan die bruid gekoppel nie, maar ook aan die bruidegom. In die ou dae moes ’n toekomstige bruid omtrent haar bruidegom aan die hare sleep na die koekproeafsprake toe. Vandag is dinge heel anders. Die bruidegom begin om meer gereeld sy stem te laat hoor. Baie bruide waardeer die belangstelling, maar as die mans in beheervrate verander wat eerder ’n rooifluweelkoek wil hê, in plaas van die sjokolade-framboos-skepping waaroor jy al so lank droom, begin die vonke spat.

KYK SAAM NA TROU-VENUES
Hierdie is seker die belangrikste besluit wat die bruid en bruidegom moet neem. Jy het dalk reeds jou kop op ’n blok gesit dat jy in die kasteeltjie buite die dorp wil trou. In plaas daarvan om net ’n aankondiging te maak – gaan wys vir jou aanstaande bruidegom hoekom die plek vir jou so spesiaal is. Moenie net na foto’s op die webblad kyk nie. Skep ’n prentjie in sy kop van hoe jy by die deur gaan instap na hom toe, waar die bruidstafel gedek gaan wees, ensovoorts. Kanse is goed dat hy sal sien hoe passievol sy toekomstige bruid daaroor is, en dit mag dalk genoeg oortuiging wees. Gun jou bruidegom egter dieselfde geleentheid as hy sy gunsteling-venue vir jou wil wys.

MAAK ’N LYS VAN JULLE GUNSTELINGKOS
Jy hou van pasta, jou bruidegom hou van steak. Hoe nou gemaak? As dit lyk of daar ’n kosgeveg aan die broei is, onderhandel dan. Hy kies die hoofgereg, jy die voorgereg, en saam kies jul die nagereg, of andersom. Daar sal altyd kompromie in ’n huwelik wees en om by die troubeplanning te begin is goeie oefening.

STEL DUIDELIKE GRENSE VIR JOU BRUIDEGOM
Kies jy die rok en laat jou bruidegom sy eie snyerspak en dié van sy strooijonkers kies. Jy kies die blomme, hy kies die verwelkomingsdrankies. Om saam te werk en elkeen ’n regverdige mate van keuse te gun, is die beste manier om stryery te voorkom. Die bruidegom is gewoonlik nie veel gepla oor kleurskemas nie, maar as dit vir hom belangrik is, kies dan saam ’n kleurskema waarvan julle altwee hou. Kyk na voorbeelde van troues wat volgens die spesifieke kleurskema gestileer is.

Julle troudag kan sóveel meer spesiaal wees as julle saam die besluite neem, maar sodra daai Groomzilla se skerp toonnaels begin uitsteek deur sy skoene, moet jy jou bruidegom herinner aan die grense wat vir beide van julle gestel is.

Foto: Pretty Geeky Photography

 

Written by Troukoors