Sop vir jou wintertroue

sop
Sop kan ’n heerlike voorgereg wees vir ’n wintertroue. Dit is nie net geurig en bekostigbaar nie, maar sal ook die ergste koue uit jou gaste se lywe verdryf. Melkkos & Merlot het ’n paar heerlike resepte vir sop, ons deel hierdie drie.

ERWS-BANNER-20-96x14

Sop kan ’n aanwins wees vir ’n wintertroue en as voorgereg, of selfs as hoofgereg bedien word. Dit is ook die ideale manier om jou skoonma te beïndruk wanneer sy op ’n koue wintersdag na die troue kom kuier.

Hier is ’n paar lekker resepte vir sop, wat maklik en bekostigbaar is en enige doen-dit-self-bruid sal laat glimlag.

sop_2

BLOMKOOL-EN-KAAS SOP MET CIABATTA CROUTONS
Genoeg vir 4
Reg in 40 minute

BESTANDDELE
VIR DIE SOP
2E botter
1 groot ui, fyngekap
600g blomkool, gewas en opgekap in klein stukkies
2½ koppies water
½ koppie melk
2 sakkies Woolworths ‘liquid chicken stock concentrate’ (as jy ander hoenderaftreksel gebruik sal jy moet proe en die sout aanpas)
½t sout
¼t witpeper
¼t fyn neusmuskaat
1 loerierblaar
1 knoffelhuisie, fyngekap
½ koppie goeie parmesaan (of grana padano of pecorino)
8E room
VIR DIE CROUTONS
4 dik snye ciabatta, in groot blokke gesny
Olyfolie
Parmesaan

METODE
Braai die ui in die botter oor lae hitte tot sag. Voeg die res van die sop bestanddele by behalwe die kaas en room. Bedek en kook oor lae hitte tot die blomkool sag is. Verwyder die loerierblaar en blits die sop in jou versapper tot roomglad. Plaas terug op die hitte en roer die kaas en room by.
Maak die croutons terwyl die sop kook. Besprinkel eenvoudig die broodblokkies met goeie olyfolie en rasper kaas oor. Meng liggies deur met jou vingers. Tuimel op ’n bakplaat gevoer met bakpapier en bak teen 120C tot bros.
Sit die sop voor met die croutons, bietjie ekstra parmesaan en ’n knippie neusmuskaat.
 
KERRIE-SOETPATAT SOP MET POPPADOM LINTE
Genoeg vir 4
Reg in 30 minute
BESTANDDELE
VIR DIE SOP
1 medium ui (so 1 koppie), fyngekap
2t gewone kookolie of, my nuwe gunsteling, kokosolie
1E vars gemmer, fyngekap
1 vet knoffelhuisie, fyngekap
1-2t kerriepasta
800g oranje soetpatats, geskil en in blokkies gesny
3k kookwater
1 blokkie hoenderaftreksel
4E klappermelk
sap van een klein lemmetjie
swartpeper en sout na smaak
6 poppadoms, in 4mm-wye linte gesny gewone kookolie vir diepbraai
VIR BIEDIEN
lemmetjies
vars klapper
koljanderblare

METODE
Braai die uit in 2t olie tot sag. Voeg die knoffel, gemmer en kerrie by en braai vir twee minute. Voeg die soetpatats, water en hoenderaftreksel by. Bedek, draai hitte laer en kook vir so 20 minute tot patats sag is. Blits dit in jou voedselverwerker tot romerig (of druk dit deur ’n sif). As die sop te dik is, voeg klein bietjie water by. Roer die klappermelk by en sit eenkant.
Verhit kookolie (jy’t ten minste 2cm olie nodig) en braai die poppadom linte ’n paar op ’n slag. Hulle kook letterlik in 2-3 sekondes, so hou hulle dop! Dreineer op kombuispapier. Verhit sop en roer die sap van een lemmetjie by. Proe vir sout en voeg ’n paar draaie swartpeper by. Bedien met die poppadom linte, lemmetjies vir gaste om nog so skooitjie varsheid aan die sop te gee, koljander en klapper.
 
ROKERIGE SPEK EN ERTJIESOP
Genoeg vir 6
Reg in 3 ure en 10 minute

BESTANDDELE
1 groot gerookte Eisbein
1 groot wit ui, geskil en rof gekap
1 pakkie droë ertjies
growwe swartpeper

METODE
Sit die vleis, ui en ’n kwart teelepel peper in ’n groot dikbodempot en bedek die vleis met louwarm water. Sit die deksel op en kook hom baie stadig totdat die vleis van die been afval. (Dit vat minstens twee en ’n half, miskien drie, ure so hierdie is definitief ’n lui Saterdagmiddag resep.) Loer so af en toe of nog water nodig is, maar wees maar spaarsamig. Sit jy te veel by, eindig jy op met ’n dun, waterige gemors. As die vleis so halfpad bedek bly solank as wat jy hom kook, is jy veilig.
As die vleis val-van-die-been-af sag is, verwyder en laat dit afkoel. Gooi nou die hele pakkie ertjies in die vleiswater en kook stadig tot hulle sag is en begin opbreek – dit vat so 50 to 60 minute. Roer af en toe, want die ertjies is geneig om vas te sit. Terwyl die ertjies kook, trek die vetlaag van die vark af sodat jy net met die vleis sit. Skeur die vleis in repies. Sodra die ertjies gekook is kan jy die vleis terugsit in die pot en deurverhit (hou ’n bietjie opsy sodat jy opskeptyd ’n ekstra hompie vleis bo-op kan sit – sommer net vir die ekstra lekkerte). Roer en bekyk jou sop. As dit vir jou ’n bietjie te dik is, is nóu die tyd om ’n laaste bietjie ekstra kookwater by te gooi. Die gerookte vark is souterig, so proe eers voor jy enige sout bygooi. ’n Goeie skoot vars gemaalde swartpeper en hy’s reg.

Resepte en foto’s: Melkkos & Merlot

———————————————————————————–

Bestel nou jou Troukoors tydskrif (mooi regte troues, doen-dit-self idees, ens) en
Die Trouboek (beplan jou troue in 52 weke + verhoudingsadvies deur Gretha Wiid).
Betaal slegs R170 vir beide (posgeld ingesluit), SPAAR R39.90!

Kliek hier vir ons bankbesonderhede, of as jy die tydskrif of boek afsonderlik wil bestel (ook teen spesiale afslag).

TroukoorsTroukoors_inhoud

 

 

Written by Troukoors