Huweliksbeloftes – vir beter én slegter

huweliksbeloftes
Huweliksbeloftes word baie maklik gemaak, met sterre in die oë en pragtige dekor in die agtergrond… maar die realiteit is dat die huwelik nie so maklik is nie. Gina van Staden verduidelik waarom huweliksbeloftes so belangrik is en wat jy moet weet voor jy jouself daarvoor inlaat.

ERWS-BANNER-20-96x14

 

HUWELIKSBELOFTES IS JOU HOOGSTE EER
Wanneer jy iets aan iemand belowe, is dit die hoogste vorm van waarborg wat jy kan bied. En wanneer dit aan jou maat gemaak word, voor albei julle families en vriende, moet jy soveel meer bedóél wat jy sê. Jy mag dalk vinnig vergeet wat jy belowe het as die storms van die lewe begin woed, maar huweliksbeloftes het nie ’n vervaldatum nie.

VIR BETER OF SLEGTER
Dink aan wat hierdie stelling beteken voordat jy dit sê. Almal is tevrede met die “vir beter” deel, maar wat van die “slegter” deel? Is jy bereid om saam met jou maat te staan as hy afgedank word by die werk en julle swig onder finansiële druk? Wat van as hy in ’n ongeluk kom en hy raak verslaaf aan pynmedikasie? Of selfs een van sy ouers sterf en hy begin sy sorge weg drink? As jy aan al die worst case scenario’s kan dink, en steeds oortuig is dat jy by jou maat sal bly, dan kan jy jou huweliksbeloftes maak met vrymoedigheid.

SIEKTE OF BETERSKAP
Baie mense dink aan hierdie stelling in terme van kanker of ander siektestoestande. Maar wat van geestestoestande? As ’n mens vleeslik siek is kan jy medikasie en behandeling kry, maar dinge is soveel anders met geestesongesteldheid. As jou maat vir watter rede ookal depressie of skisofrenie (onder andere) moes ontwikkel, sal jy steeds getrou bly? Sal jy hare op jou tande groei, indien nodig, en kans sien vir die eindelose uitdagings wat met sulke ernsitge toestande ontaard? Indien wel, kan jy daardie deel van jou huweliksbeloftes ook maak.

JY, EN JY ALLEEN
Daar is ’n gesegde: moenie deure oopmaak wat moet toe bly nie. Baie mense se verskoning vir rondloer is “voordat ek myself kon keer was dit reeds te laat.” Die realiteit is dat verhoudings nie binne ’n oogwink plaasvind nie. Elke persoon weet tog wat aanvaarbare perke is, maar party mense is sorgeloos. Herken die rooi ligte – en HARDLOOP! Moenie jouself flous deur te dink dat jy opgewasse kan wees teen oomblike van swakheid nie. As jy wéét dat jy alles in jou vermoë sal doen om nie oor vasgestelde perke te trap nie, kan jy hierdie belofte maak.

TOT DIE DOOD ONS SKEI
Hierdie belofte seël net al die ander huweliksbeloftes. Die betekenis kan omskryf word in: “maak nie saak watter suurlemoene die lewe vir ons gooi nie, ons sal saam oud word.”

Niemand is perfek nie, en om te val is deel van menswees. Maar maak seker dat jou willekeurige huweliksbeloftes net so langdurend sal wees soos die diamant aan jou linkerhand.

 

Written by Troukoors