Troeteldiervriendelike troues vir diereliefhebbers

troeteldiervriendelike troues
Troeteldiervriendelike troues is deesdae die in ding, omdat baie bruidspare swaar kou aan die feit dat hulle beste (viervoetige) vriende soms nie welkom is nie. Hier is vyf maniere om hierdie dilemma in die tuin te begrawe…

Deesdae hoor jy al hoe meer van troeteldiervriendelike troues, omdat bekendes soos Paris Hilton aan diere sterstatus gegee het en ook omdat daar baie paartjies is wat hulle viervoetkinders graag wil deel maak van hulle spesiale dag. Hier is wat jy in gedagte moet hou as troeteldiervriendelike troues in jou kraal pas.

TROETELDIERVRIENDELIKE TROUES BY DIE REGTE VENUE
Die héél belangrikste ding om in ag te neem wanneer troeteldiervriendelike troues beplan word, is die venue. Dit mag dalk veroorsaak dat julle soektog ver en wyd gaan, maar daar is tóg venues wat dierevriendjies verwelkom.

As jy wil hê dat Wagter, met sy nat snoet, jou ringdraer moet wees, is Warthogs Bush Camp in Magaliesburg se Magalies Meander (’n uur se ry vanaf beide Johannesburg en Pretoria), die perfekte troeteldiervriendelike venue vir jou, want:

  • Nie net verwelkom hulle jou troeteldier met ope arms nie, maar loop die venue ook oor van kreatiwiteit – van hulle unieke koepel grasdak-onthaalarea wat jy kan versier na jou hart se begeertes, tot die spyseniering wat braai’s, spitbraai’s en potjiekos moontlikhede insluit.
  • Daar is 10 volledig toegeruste chalets beskikbaar vir gaste om oor te bly.
  • Buitelugaktiwiteite soos stap- en bergfietsroetes, sowel as tafeltennis en vlugbal sal jou en jou gaste die hele naweek vermaak. Besoek hulle webblad vir meer inligting.

TROETELDIERVRIENDELIKE TROUES EN SPYSENIERING
Dis algemene kennis dat troeteldiere spesiale voedingsvereistes het. Maak seker dat daar spesiale kos en waterbakke beskikbaar is vir jou troeteldiergaste.

KLEREDRAG VIR TROETELDIERVRIENDELIKE TROUES
Dit lyk oulik wanneer troeteldiere uitrustings dra, maar dit is dalk nie prakties vir Wagter nie. Toets lank voor die troudag of hy gemaklik daarin gaan wees. Soms kan dit ook help om te “oefen” met die uitrusting sodat hy teen die groot dag al gewoond is daaraan. Andersins kan jy ’n oulike strikdas om sy nek sit, of ’n mooi knippie in sy hare.

KRY ’N DIEREOPPASSER
Dit sal ’n goeie idee wees om iemand (nie ’n gas nie) vir die dag te huur om vir Wagter op te pas. Nie net gaan julle vir ’n tyd lank besig wees met foto’s nie, maar as daar ’n buffet is, sal dit wys wees dat daar iemand is wat ’n oog oor hom kan hou. Daar is ook mense wat bang of allergies is vir troeteldiere, so stel jou diereoppasser in kennis daarvan dat tannie Daleen allergies is, of dat klein Karien bang is, sodat hy vir Wagter kan weghou van daardie gaste af. Jy wil tog hê dat jou gaste die geleentheid moet geniet, en nie veroorsaak dat hulle medikasie of berading nodig het na die tyd nie.

TROETELDIERE KAN ONVOORSPELBAAR WEES
As jy beplan dat Wagter die ringdraer moet wees, kan jy hom dalk so ’n bietjie in die regte rigting aanhits deur klein stukkies hondebeskuitjies of –lekkernye in die gang af, tot by die altar, te strooi – sodat jy weet dat hy beslis by julle sal opeindig met die ringe. Julle kan ook altyd ’n ruk voor die troue by ’n diere-opleier gaan aanklop om julle troeteldier se “etiket” op te skerp, indien nodig!

So, jy hoef nie jou mees lojale vriend uit te sluit by jou troue nie. Troeteldiervriendelike troues raak ál meer gewild, en deur net ’n paar belangrike punte in ag te neem kan jou trouherinneringe ekstra spesiaal wees.

Artikel: Gina van Staden
Foto verskaf

Spaar R44.90 as jy Die Trouboek & Troukoors tydskrif nou bestel! Kliek hier vir ons bankbesonderhede.

Bestel_Troukoors
———————————————————————————————–

 

Written by Troukoors