Lokprent van Vir die Voëls bekendgestel

lokprent
Die lokprent van die splinternuwe troufliek, Vir die Voëls, is gisteraand eksklusief op Bravo! bekendgestel. Ons het met regisseur Quentin Krog gaan gesels om meer uit te vind oor hierdie liefdesverhaal.

 

Troukoors_tydskrif_en_Die_Trouboek

Spaar R44.90 as jy Die Trouboek & Troukoors tydskrif nou bestel! Betroubare posdiens word gebruik.
STAP 1 – Betaal R170 in ons bankrekening in:
Naam van rekeninghouer: MonCheri Events and Productions CC | Rekeningnommer: 189 103 463 4 | Takkode: 189 137
Bank: Nedbank Vaal Mall | Tipe rekening: Tjek | Verwysing: Jou naam, van en selfoonnommer
STAP 2 – E-pos jou naam, van en posadres saam met die betalingsbewys na info@troukoors.co.za
Kliek hier vir meer informasie oor Die Trouboek en Troukoors se tydskrif.

————————————————————————————

Almal wag nou al maande lank vir die amptelike lokprent van The Film Factory, kykNET en Huisgenoot se fliek, Vir die Voëls, wat deel vorm van dié tydskrif se eeufeesvieringe. Die storie speel in die laat 1970’s af en gaan die nostalgiese hartsnare roer. Dit is ’n fliek oor ’n sterk vrou (Simoné Nortmann) wat haar tyd vooruit was en ’n man (Francois Jacobs) met so ’n sterk identiteit dat hy ’n vrou kan respekteer en vir haar liefde veg. Dit is ’n storie oor die stryd teen jouself en hoe om te keer dat eksterne omstandighede en emosionele bagasie jou kans op geluk verongeluk.

Ons het met regisseur, Quentin Krog, gesels oor wat die lokprent nie verklap nie…
HOE HET JY BETROKKE GERAAK BY DIE FLIEK?
“Danie Bester, die vervaardiger, het my aan die einde van 2015 genader met die idee en ek was dadelik aangetrokke tot die oorspronklike kortverhaal, Slim vang sy baas, deur Irma Humpel. Haar stem en karakter was so sterk dat ek dadelik haar storie wou vertel.”

VERTEL ONS WAAROOR DIE FLIEK GAAN?
“Die fliek is ’n mengsel van romanse, drama en komedie. Die beste manier om dit op te som, sonder om te veel weg te gee, is om Irma self aan te haal uit die lokprent: ‘Julle dink seker ek’s mal? Ek’s die woeste, rabbedoe meisiekind vir wie die tannies hulle oë rol. Die ding is, ek’s nie seker of ek my lewe met daardie man wil spandeer nie. Ek’s nie seker of ek my lewe met enige man wil spandeer nie. So hoe op dees aarde het ek hier gekom? Kom kyk’.

WAT WAS DIE INSPIRASIE AGTER DIE DRAAIBOEK EN WIE HET DIT GESKRYF?
“Die fliek is geïnspireer deur die kortverhaal deur Irma Humpel. Ek, Sean Daniels en Tina Kruger het saam die draaiboek geskep.”

DIE LOKPRENT VERKLAP NIE BAIE NIE – WAT MAAK DIE FLIEK ANDERS AS DIE GEWONE?
“Die fliek sal kykers laat lag en huil… maar hulle ook vermaak. Die klankbaan is ook ongelooflik goed en baie retro.”

WAT IS DIE BOODSKAP WAT JULLE WIL OORDRA?
“Liefde is mooi en as jy die regte persoon ontmoet, hoef jy nie te verander wie jy is om dit te laat werk nie.”

IN DIE LOKPRENT LYK DIT ASOF JULLE TERUGGEGAAN HET IN TYD. WAT WAS DIE GROOTSTE UITDAGING VERBONDE AAN DIE VERFILMING VAN DIE FLIEK?
“Die grootste uitdaging was om plekke te kry wat by die era pas waarin die fliek afspeel. Vandag se huise is omring met mure of palisades, so dit was moeilik om plekke te kry wat ’n oop atmosfeer het.”

WAAR HET JULLE DIE FLIEK GESKIET?
“Ons het ’n straat langs ’n mynhoop in Krugersdorp gebruik en ook ’n klein dorpie, suid van Johannesburg met die naam Kragbron. Ek het toevallig ook dele van Ballade vir ’n Enkeling daar geskiet. Ons het sowat 25 dae geneem om Vir die Voëls te voltooi.”

MET DIE LUSMAKER LOKPRENT WAS DIE TROU-TONEEL NOGAL PROMINENT, VERTEL ONS MEER VAN HIERDIE TONEEL?
“Ons het die troutoneel by ’n ou NG Kerk (wat in die 1960’s gebou is) in Kragbron verfilm. Die kerk self het die perfekte kleindorpie-gevoel, met geen moderne invloede of elemente nie. Dit was ook klein genoeg om dit te laat voel soos ’n intieme troue. Die trourok is deur Nerine Pienaar ontwerp wat inspirasie geput het uit ou familiealbums uit daardie era. Die dekor was minimaal en perfek vir ’n klein, intieme troue.”

WAS DIT ’N UITDAGING OM DIE HOOFROLLE TE VUL OF HET JULLE REEDS AKTEURS IN GEDAGTE GEHAD TOE JULLE MET DIE OUDISIES BEGIN HET?
“Die meeste van die akteurs is gekies op grond van hulle oudisies. Elkeen het kop en skouers uitgestaan bo die res en was perfek vir hulle onderskeie rolle.”

Vir die Voëls begin 25 November 2016 landswyd wys en word uitgereik deur Ster-Kinekor Entertainment. Gaan kyk gerus die lokprent en LIKE die fliek se blad op Facebook.

 

Written by Troukoors