Konfetti – oulike idees vir moderne bruide

konfetti
Konfetti is ’n klein element van die troue, wat ’n groot invloed op sekere troufoto’s kan hê. Net soos met ander tendense, het die een ook nie gestagneer by papieruitknipsels nie. Gina van Staden het gaan loer watter neigings tans gewild is op hierdie gebied.

Deesdae word troues oorheers met ‘uit die boks’-elemente en konfetti word nie uitgesluit wanneer nuwe idees vorendag kom nie. Kyk saam met ons na ’n paar oulike idees wat sal sorg vir interessante troufoto’s:

VARS BLOMME AS KONFETTI
Roosblare is al baie gedoen, maar om klein, kleurvolle blommetjies te gebruik kan veral by ’n buitelugtroue ’n ekstra tikkie romanse verleen.

VOËLTJIESAAD
Plaastroues sal baie baat by hierdie idee, of as jou venue baie boomryk is. Nie net sal die foto’s interessant lyk nie, maar diereliefhebbers sal ook bly wees met die wete dat hulle bydra tot die versorging van die natuur wanneer hulle konfetti strooi.

BLINKERS
Dit gaan dalk nie die beste idee wees om die klein blinkers wat in botteltjies te koop is by die winkel te gebruik as konfetti nie, maar om ’n pons te gebruik en konfetti uit blink papier uit te knip, kan veral goed werk, veral by wintertroues onder die dak.

konfetti_1

KLEIN PAPIERVLIEGTUIGIES
Maak pakkies op van papier, klein penne en ’n hoe-om-’n-vliegtuigie-te-vou-lessie, en sit dit op die gaste se stoele. Hulle kan dan voor die seremonie boodskappe op die papier skryf en dit vou in vliegtuigies wat hulle na julle rigting toe kan laat vlieg soos julle by die kerk uitstap.

GEPONSDE PAPIER
Julle kan enige iets van foto’s tot glansende papier en koerantuitknipsels pons en gebruik as konfetti. Selfs blaaie uit julle gunstelingstorieboeke kan met koekkleursel gekleur en in vormpies gepons word.

VONKELSTOKKIES
Vonkelstokkies (ook sparklers genoem) is veral ’n goeie idee vir skemer/ aandtroues. Hierdie konfetti-idee verg nou wel ’n bietjie beplanning omdat dit net vir ’n paar sekondes brand, so sorg vir genoeg aansteekplek.

VLAGGIES
In plaas daarvan om konfetti te gooi, kan gaste vlaggies waai.

BALLONNE
Helium-gevulde ballonne kan tydens die fotosessie deur gaste losgelaat word.

Konfetti is tog ’n belangrike deel van troues en om die nie-tradisionele paadjie te volg sal nie net jou foto’s baat nie, maar ook aan jou gaste pret verskaf.

Hooffoto: Wedding Party App
Foto’s: Etsy; One Fab Day; Pinterest; United with Love; Yes Baby Daily

 

Written by Troukoors