Romantiese troue met baie blomme

romantiese-troue
Hierdie romantiese troue is met een van die natuur se mooiste versierings verfraai. Dit het die perfekte atmosfeer geskep vir hierdie twee vriende wat liefdes geword het.

romantiese-troue_1

Elanie en Warren Bell het in 2010 by die werk ontmoet, waar hul sterk vriendskap ’n jaar later in ’n verhouding ontaard het. Elanie vertel ons meer oor hoe hulle vriendskap in ’n romantiese troue ontaard het.

WANNEER HET JY GEWEET DAT JULLE BEDOEL IS VIR MEKAAR?
“Warren se humorsin, integriteit en sy menswees was onweerstaanbaar. Ek het vinnig besef dat hy my trouman is.”

HOE HET HY DIE JA-WOORD GEVRA?
“Hy het my in November 2015 weggeneem na ’n lodge in Mpumalanga se berge. Bo-op die uitkykpunt van ’n koppie het hy ’n groot juweelboksie uitgehaal wat gelyk het of daar ’n hangertjie/armband in kon wees. Hy het gesê dat dit ’n laat verjaarsdaggeskenk was en toe ek die boksie oopmaak was daar love hearts-lekkers in met die woorde ‘will you be mine for keeps?’ op. Toe ek besef wat aangaan was hy reeds op sy knieë, ring in die hand. Ons het hierna aan ons romantiese troue begin beplan.”

HOE LANK WAS JULLE VERLOOF?
“Net ses maande. Omdat die mediabedryf vol vooruitbeplande sperdatums is en Warren baie reis vir sy werk, moes ons noodgedwonge volgens ons werkskalenders en ons venue se beskikbare datums werk.”

romantiese-troue_2

VERTEL ONS VAN DIE BEPLANNING VAN JULLE ROMANTIESE TROUE?
“Ek het vooraf baie Pinterest-ideeborde versamel. My tyd was ook baie beperk, so ’n paar van die diensverskaffers het my tegemoet gekom en my na vyf in die middae gehelp. Binne die eerste twee weke was ons venue en die fotograaf bespreek.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN TEMA VAN JULLE ROMANTIESE TROUE?
“Verskeie aardse kleure met goud en roosgoud as aksentkleure. Vir ons tema het ons gegaan vir klassieke en ouwêreldse elemente.”

WATTER TIPE ATMOSFEER WOU JULLE SKEP?
“’n Onopgesmukte romantiese troue. Ons is baie onpretensieuse mense en wou net ons liefde vier. Ons het ook sommige troutradisies laat vaar.”

HET JY ENIGE RAAD VIR BRUIDE WAT SELF ’N ROMANTIESE TROUE BEPLAN?
“Doen baie navorsing – dink internet en Facebook forums.
Moet niks doen net omdat dit die ‘in-ding’ is nie.
Vat ’n paar minute om alles in te neem. Die dag gaan so gou verby.
Éét die kos wat julle so noukeurig uitgekies het!”

WATTER DOEN-DIT-SELF ITEMS HET JULLE BEHARTIG?
“Die skryfbehoeftes het ons self ontwerp en direk by die drukkers laat druk.
Die meisies het al die geskenkies gemaak.
Ons het my ouma se ou teekoppies en ketel gebruik as versierings.”

Elke bruid kan geld bespaar as sy haar kreatiwiteit inspan en haar navorsing behoorlik doen en kan beslis die romantiese troue hê wat haar hart begeer.

romantiese-troue_3

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, drankies, dekor, kos, blomme en musiek: Die Akker
Fotograaf: Howling Moon Photography
Videograaf: Andre Sonnekus
Trourok: Lubellos
Hare en Grimering: JDV Styling
Bruidegom se uitrusting: Carducci by CSquared

Artikel: Gina van Staden

mauritius_toer

 

Written by Troukoors