Groot Vraag… soos hulle dit in die flieks doen

groot vraag
Die Groot Vraag moet gevra word, maar jy het ’n bietjie inspirasie nodig om dit romanties te maak. Hier is hoe hulle dit in Hollywood doen…

Elke vaste verhouding kom die een of ander tyd op die punt waar dinge op ’n meer ernstiger noot verder moet ontwikkel. Dit behels gewoonlik ’n Groot Vraag wat gevra moet word… en as dit Skrikkeljaar is, kan selfs die dame in die verhouding inspring om dit te doen.

Maar hoe vra ’n mens daardie Groot Vraag, sodat dit ’n onvergeetlike romantiese herinnering word in die collage van julle liefdesstorie?

Ons het by van Hollywood se mooiste romantiese flieks gaan kersopsteek om vir jou ’n paar idees te gee. Hier is ons Top 11-gunsteling voorstelle vir hoe om die Groot Vraag te vra:

LEAP YEAR
Soos die naam voorstel, is dit nie altyd net die man wat die Groot Vraag hoef te vra nie… want in ’n Skrikkeljaar kan enigiets gebeur. Maar in die meeste gevalle hou die man tog maar daarvan om dit te doen… en waar mooier as op ’n bergtop met die mooiste uitsig en met die belofte dat julle vir altyd saam gaan planne maak…

groot vraag_1

THE PROPOSAL
Dit is nouwel nie altyd liefde-met-eerste-oogopslag nie, maar omstandighede kan mense wel laat besef hoe hulle regtig oor mekaar voel. As dit dan nodig is om die Groot Vraag in ’n kantoor vol kollegas te vra om te keer dat jy jou hartsgenoot verloor, kan dit baie romanties en treffend wees.

THE CHOICE
Die liefde is ’n skrikwekkende storie en ons is almal bang om seer te kry. Maar dit is die moeite werd om die kans te vat. Dit is natuurlik ook ’n bonus as haar ouers aan jou kant is en jy die vrymoedigheid het om sommer voor hulle die Groot Vraag te vra (al skop sy vas en sê sy eers NEE)… met haar Ouma se erfstukring.

groot vraag_2

A WALK TO REMEMBER
Wanneer jy lief genoeg is vir iemand om seker te maak dat hulle laaste wense waar word, maak dit nie saak hoe jy die Groot Vraag vra nie… maar as dit buite, onder die sterre, kan wees, is dit ’n bonus.

WHAT HAPPENS IN VEGAS
Wanneer jy trou, maak seker dat dit vir die regte redes is… want dan is die stryd halfpad gewen. Wanneer jy die persoon ontmoet, wat in jou glo en by wie jy jouself kan wees, vra die Groot Vraag so gou as moontlik… al is dit op die strand en op die ingewing van die oomblik.

groot vraag_3

HE’S JUST NOT THAT INTO YOU
Die verrassingselement kan die Groot Vraag baie spesiaal maak, veral wanneer dit die laaste ding is wat sy van jou verwag… en as jy woorde soos: “Ek het nodig om jou gelukkig te maak, vir my om enige kans op geluk te hê” ingooi, kan selfs die sitkamer perfek werk.

RUNAWAY BRIDE
Almal maak foute, maar die liefde vergewe alles. Maak net seker dat die Groot Vraag uit jou hart kom en ’n eerlike weerspieëling is van wat jy voel.

groot vraag_4

THE WEDDING SINGER
As jy talente het, gebruik dit om haar voete onder haar uit te slaan. Elke meisie droom daarvan dat ’n man vir haar sing… en as die liedjie oor haar gaan is dit nog beter, veral met lirieke soos: “Ek wil die man wees, wat saam met jou oud word.”

SWEET HOME ALABAMA
Diamante is nou een maal ’n meisie se beste vriendin… en as jy geld het om te spandeer, laat haar die ring self uitkies wanneer jy haar in ’n juwelierswinkel die Groot Vraag vra. Die ideale opsie as sy ’n perfeksionis is, met baie besliste idees.

groot vraag_5

WALK THE LINE
Almal soek liefde – selfs bekendes, al hou baie van hulle daardie aspek van hulle lewe privaat. As jy lief is vir iemand, dit besef en haar nie wil verloor nie… vra haar daar en dan die Groot Vraag, al is dit op ’n verhoog voor ’n see van mense.

THREE MEN AND A LITTLE LADY
Party van ons wag tot dit amper te laat is om te sê hoe ons voel… wat dan beteken dat jy dalk ’n troue moet stop om te keer dat jy die persoon verloor vir wie jy lief is en dan sommer self met haar trou. Dit is soos die tekenprent sê: “Love is… making a fool of yourself for somebody…”

groot vraag_6 
Foto’s: Geneem uit die flieks

 

Written by Troukoors