Beplan jou troue betyds

beplan

Beplan jou troue van die begin af volgens die regte mylpale om ekstra spanning voor en op jou spesiale dag te voorkom. Gina van Staden verklap wat jy moet weet.

PTA SHOW BANNER

Daar is nie ʼn definitiewe reg of verkeerde antwoord nie – sommige bruide beplan hul troue in drie weke, terwyl ander twee jaar vat. Lees hier om uit te vind hoeveel tyd die beste is:

WAT IS DIE IDEALE TYDPERK OM JOU TROUE TE BEPLAN?
Volgens verskeie bekende troubeplanners is die gemaklikste tyd twaalf maande.

MAAND TWAALF TOT TIEN
Besluit watter kleurskema en tema julle gaan gebruik. Dis ook die perfekte tyd om na venues te gaan kyk en so gou as moontlik die regte een te bespreek. Nadat julle uitgevind het hoeveel die venue-kostes is, kan julle die begroting uitwerk. As julle dít eers beplan het, kan die soeke na die trourok begin!

MAAND TIEN
Nou kan die trouroksoek met alle mag en krag voortgesit word. Die soeke mag dalk lank vat, so moet dit nie uitstel tot later nie. Die pas-proses, sowel as verstellings, kan baie tyd in beslag neem vir die ontwerpers en die kleremakers. (Probeer ook om jou gewig nie teveel te laat vermeerder of verminder nie.)

MAAND NEGE
Begin die gastelys beplan. Teen hierdie tyd behoort julle ook al te weet hoe ver julle by die begroting gehou het – wat ook die gastelys se grootte sal beïnvloed.
Kry ook julle diensverskaffers in lyn – dekor, spyseniering, ensovoorts.

MAAND AGT
Bespreek die fotograaf, videograaf, platejoggie en bloemis.

MAAND SEWE
Die tyd het aangebreek om die strooi- en blommemeisierokke te soek!

MAAND SES
Begin die wittebrood beplan. Dit laat ook genoeg tyd om paspoorte en visums te kry, indien nodig.

MAAND VYF
Nou moet julle die troukoek beplan. Gaan julle dit by ʼn koek boetiek of privaat bakster laat maak, of dalk ʼn kreatiewe familielid?
Indien julle nie van privaat vervoer gebruik gaan maak nie, is nou ook die regte tyd om vervoer reëlings aan te pak.

MAAND VIER
Trouringe, hare en grimering. Begin ʼn paar oefenlopies by verkskeie haarkappers en grimeer konsultante. Maak ook seker dat die trouringe pas en gereed is vir die groot dag.

MAAND DRIE
Stuur die uitnodigings uit.

MAAND TWEE
Kry die RSVP’s en begin die tafelplasings beplan.

MAAND EEN
Maak seker dat die trourok, troupak en gevolg se kleredrag gereed is. Bevestig ook met diensverskaffers vir die troue. Neem hierdie tyd om te probeer ontspan – boek in by ʼn spa!

Neem hierdie raad om julle troue te beplan en jul dag sal seepglad verloop.

Foto: Starboard Press

 

Written by Troukoors