Troue in romantiese skakerings van blospienk en groenigheid


’n Troue het gevolg nadat hierdie oulike paartjie deur middel van hulle ma’s ontmoet het. Gina van Staden vertel meer oor hierdie pragtige droomdag, in sagte romantiese kleure.

Schalk en Marquerite Muller het ontmoet nadat hulle ma’s bevriend geraak het tydens ʼn oorsese reis. Marquerite het van Potchefstoom af Kaapstad toe getrek, waar Schalk haar onder sy vlerk geneem het. Marquerite vertel ons hoe ʼn paar koffie afsprake uiteindelik in hulle romantiese troue ontaard het.

WAT TREK JOU AAN VAN SCHALK, WAT GELEI HET TOT JULLE TROUE?
“Hy is ʼn baie sterk en onafhanklike persoon. Hy het die tyd geneem om my dieptes te leer ken en is baie sjarmant. Hy is ʼn sosiale vlinder wat elke gesprek moeiteloos inkleur.”

HET HY IETS SPESIFIEK GEDOEN OM JOU HART TE VEROWER?
“Tydens my tienerjare het ek ʼn velproduk gebruik wat baie skade aangerig het. Die gevolg daarvan was dat my vel letsels opgedoen het. Nadat ek die boekreeks, Mark of the Lion van Francine Rivers, gelees het, het die hartsbegeerte na ʼn man wat my letsels vier, opgevlam. Schalk het eendag op die strand vir my gesê dat hy mal is daaroor. Toe weet ek hy is die een.”

HOE HET HY DIE JA-WOORD GEVRA?
“Ons was op ʼn wynplaas en tydens die wyn-proe het hy my gevra om ʼn foto saam met hom te gaan neem in die wingerd. Ek het ʼn foto van ʼn ring ontvang op my selfoon, en toe ek omdraai staan hy op sy knieë met die ring. Ons was sewe maande verloof voor ons troue.”


VERTEL ONS MEER VAN JOU TROUE SE BEPLANNING?
“Ek het begin met die venue en het daarna my kleurskema gekies. Toe konsulteer ek met die dame wat my skryfbehoeftes gedoen het en besluit ek terselftetyd op my tema. JC Events het my idees gevat en ʼn sprokiesverhaal troue in realiteit omskep. Laastens het ek die soektog na die perfekte rok begin. Die perfekte juwele moes dit komplementeer, dus het ek myne laat invoer. Dit was redelik stresvol, maar ek het dit gemaak werk.”

WATTER RAAD KAN JY AAN TOEKOMSTIGE BRUIDE GEE?
“Gaan eerder met digitale uitnodigings. Gedruktes wakker wel nostalgie aan, maar is nie altyd prakties nie. Delegeer take. Omdat so baie bruide self ook werkende vroue is, is tyd soms ʼn probleem. Ek het baie op my diensverskaffers, ma en gevolg se knoppies gedruk.”

Marquerite sê dat die orkes ʼn wonderlike atmosfeer geskep het by hulle troue en meen dat dit die maklikste manier is om ʼn stywe atmosfeer by julle mooiste dag te voorkom.

DIENSVERSKAFFERS
Venue, spyseniering, drankies en troukoek: Nooitgedacht Estate
Koördineerder, blomme, dekor en verhurings: Jade Customised Events
Skryfbehoeftes: Lezanne’s Designs
Fotograaf: Marinell Photography
Videograaf: 25 Weddings
Musiek en vermaak: Lugverfrisser (orkes)
Trourok: Cindy Bam Couture
Hare en grimering: Sanmarie Botha
Bruidegom se pak: David Jones by Woolworths

Written by Troukoors