Verhouding 101 – vra mekaar hierdie vrae!


’n Verhouding is net so sterk soos die mense wat daarin staan. Christell du Preez van The Peachy Peony gee vyf belangrike vrae wat julle mekaar moet vra voordat julle die knoop deurhaak.

Of julle nou drie jaar saam was voor julle besluit het om te trou, of mekaar met die eerste oogopslag liefgekry het, is dit belangrik vir julle verhouding om te weet hoe jou aanstaande oor sekere sake voel.

Hier is ’n paar belangrike vrae wat julle mekaar moet vra, voordat julle die verhouding na die volgende stap neem.

1. WAT IS MY VERANTWOORDELIKHEID BINNE DIE VERHOUDING?
Dit is baie belangrik om te weet wat julle in ’n huishoudelike opset van mekaar verwag. Verwag hy dat daar kos op die tafel moet regstaan as hy by die huis kom? Verwag jy dat hy die karre elke naweek moet was?

2. HOE GAAN ONS GELDSAKE WERK?
Baie getroude paartjies sit hulle geld saam, betaal dan al die uitgawes en gebruik die res vir uitgawes waaraan hulle ’n behoefte het. Ander paartjies hou hulle geld apart, maar daar is sekere goed wat elkeen betaal. Wat vir een paartjie werk, werk nie noodwendig vir ’n ander nie. Dit is egter belangrik dat julle saamstem oor hoe dit gaan werk. Niks plaas soveel druk op ’n verhouding soos finansiële konflik en onsekerheid nie.

3. GAAN ONS KLEINGOED HÊ?
Weet jy hoeveel kinders jou aanstaande wil hê en wanneer hy of sy met ’n gesin wil begin? Kinders verander jou hele huishouding en verhouding. Dit is belangrik dat jy weet hoe jou maat oor hierdie saak voel en wat hy van jou verwag. Gaan jy moet ma en huisvrou speel of is dit aanvaarbaar dat jy ’n werkende ma gaan wees? Bereik ook vroegtydig ’n ooreenkoms oor wie watter ouerskapverantwoordelikhede gaan dra en hoe julle beplan om dissipline toe te pas.

4. IS GELOOF VIR JOU BELANGRIK?
Baie paartjies dink nie oor hierdie vraag wanneer hulle troue beplan nie. Die skoenlappers in jou maag kanselleer enige rasionele denke uit. Geloof speel dalk nie nou ’n groot rol nie, maar dink daaraan as julle vyftien jaar lank getroud is en hy nie voel soos wat jy voel nie? Dit het ook ’n invloed op hoe julle jul kinders gaan grootmaak. Geloof wat verskil, kan baie druk op ’n verhouding plaas.

5. HOE LOS ONS ARGUMENTE OP?
Nie almal van ons ervaar en hanteer konflik dieselfde nie. Heel moontlik omdat ons verwysingsraamwerk daaroor verskil. Dalk is geskille in sy huis met harde woorde opgelos. Jy is nie gewoond daaraan nie, so wanneer hy dit doen maak dit jou verbouereerd. Wanneer paartjies baklei, is daar dikwels nie baie logika betrokke nie, dit is meer ’n ek-sê-wat-ek-wil-sê-om-my-punt-te-stel-sessie. Soms sê jy goed waaroor jy eerder moes stilbly, maar in die hitte van die oomblik stroom dit sommer by jou mond uit. Dit kan baie skade aanrig aan julle verhouding. Al is dit makliker gesê as gedaan, is dit ’n goeie idee om ’n plan te hê wanneer julle meningsverskille uitsorteer.

SO WERK DIT:
Wanneer jy ongelukkig is oor iets wat die ander persoon gedoen het, moenie dadelik voor sy vriende of familie hom invlieg nie. Raak rustig en praat met hom wanneer die ‘hitte’ van die oomblik verby is. In hierdie meer-rasionele-oomblik gaan jy dalk jou punt beter oorbring.

Onthou om woorde te gebruik soos: “Ek voel seergemaak” in plaas van: “Jy het my seergemaak”. Dit is belangrik omdat die tweede een meer soos ’n beskuldiging klink. Iemand wat voel dat hy of sy beskuldig word, is geneig om kwaad te word en hulself te verdedig.

Wanneer jy klaar gepraat het, gee hom 10 minute om rustig oor die situasie te dink. Praat oor die opsies wat ’n soortgelyke insident in die toekoms sal voorkom en besluit op die een wat vir albei werk. Dan moet julle ’n punt daarvan maak om daaraan te werk en jy moet dieselfde doen as daar iets is waaroor hy ongelukkig is.

Ervaring het my geleer dat elke verhouding The 5 Love Languages deur Gary Chapman nodig het. As julle daardeur werk, sal jy beter verstaan hoe jou maat die lewe benader en watter liefdestaal hy of sy praat.

Foto: Lifehack

Written by Troukoors