Troufotograaf 101 – Kies so die regte een!


’n Troufotograaf speel ’n belangrike rol op jou mooiste dag. Yolanda Wessels het gaan ondersoek instel oor watter eienskappe jy moet oorweeg voordat jy jou finale keuse maak.

Daar is soveel verskillende fotograwe en style om van te kies om jou spesiale dag vir altyd te verewig. Dit is daarom nie maklik om die perfekte troufotograaf te kies nie. Jy sal heel eerste moet besluit watter tipe fotografie jy verkies voordat jy ’n geskikte troufotograaf kan soek om dié styl en herinneringe vir julle vas te vang.

Kom ons fokus op die verskillende tipes fotografie wat tans gewild is, wat sal beïnvloed na watter tipe troufotograaf jy moet soek:

TRADISIONEEL/ KLASSIEK: Dié styl word gekenmerk deur ’n baie formele benadering, tipies soos jou ouma en oupa se tipe troufoto’s. Die mense in die foto’s word voorgesê deur die troufotograaf en in verskillende posisies geplaas.Die fotograaf sal by ’n tydlyn hou en dit mag soms voel of julle op ’n filmstel is, omdat daar heeltyd georganiseer word om almal in die regte groepe te kry vir die neem van tradisionele foto’s. Dié styl is al baie uit die mode, maar dis ’n gunsteling onder die ouer generasie, veral omdat hulle nie in snaakse of moeilike posisies hoef te poseer nie. Die nadeel vir baie moderne bruide, is dat die foto’s baie styf en formeel vertoon. Dus raak die emosies van geluk en pret wat gepaardgaan met moderne seremonies verlore.

ARTISTIEK: Dié styl word gelei deur die individualisme van die troufotograaf. Dit word gekenmerk deur die vermoë om ’n unieke reeks foto’s te skep. Dit is maklik vir al die foto’s om deesdae dieselfde te vertoon, maar wanneer jy ’n fotograaf het wat unieke/kunstige foto’s kan vasvang, is dit baie spesiaal. Onthou dat hierdie styl nie nét oor die fotograaf gaan nie. Wanneer die bruidspaar, familie en gevolg bereid is om iets nuuts te probeer, spontaan is en hou van prettige oomblikke, help dit om die foto’s na ’n volgende, meer artistiese vlak te neem.

MODERN: Hierdie styl word gekenmerk deur ’n veel groter mate van informaliteit en ’n ontspanne benadering. Dit kan lei tot spontaneïteit en die fotograaf kan die gees en pret van die dag vasvang, asook ’n paar van die meer formele elemente afneem. Dié styl is geneig om die uniekheid van jou groot dag vas te vang. Die fotograaf sal soek na groot agtergronde en instellings wat stylvolle foto’s as eindproduk sal hê en mag selfs lyk soos die foto’s in modetydskrifte.

DOKUMENTÊRE STYL: Die troufotograaf sal die gebeure van die dag vasvang asof hy/sy deel is van ’n dokumentêre TV-span en hoofsaaklik in die agtergrond vertoef. Daar word dus min geposeer of georganiseer om spesifieke foto’s te neem. Dis ’n baie gewilde styl onder bruide, omdat dit hulle vryheid van beweging toelaat en hulle die dag ten volle kan geniet. Dis ook geneig om ’n baie openhartige weergawe van jou troue te lewer, met ’n groot deel van die ongewone foto’s wat jy waarskynlik nie sou verwag van tradisionele of kontemporêre style nie. As jy moes poseer vir al die foto’s, sal daar nie ’n “wow-faktor” wees soos met dokumentêre tipe foto’s nie, soos wanneer jy en die bruidegom byvoorbeeld ’n onverwagse spesiale oomblik deel.

Maak seker dat julle weet wat julle wil hê, voordat julle ’n troufotograaf kies.

Inligting deur Lize du Toit van Lize du Toit Fotografie
Foto: Signature Banquet

Written by Troukoors