Trourok wat jou sak pas


’n Trourok is een van die belangrikste elemente van jou mooiste dag. Yolanda Wessels gee raad oor hoe jy kan seker maak dat jou droomrok steeds jou sak pas.

’n Trourok kan jou ’n klein fortuin uit die sak jaag. In vandag se ekonomie is dit dus nie net ’n uitdaging om die rok van jou drome te vind nie, maar ook seker te maak dat jou begroting klop.

Om daardie droomrok te vind, het dikwels meer te make met ’n trourok wat jou soos ’n prinses laat voel en jou goeie punte beklemtoon, eerder as ’n spesifieke rok wat jy êrens gesien het.

’n Trourok kan jou deesdae enigiets tussen R10 000 en R20 000 (of selfs meer) uit die sak jag. Vir sommige bruide is dié prys nie noodwendig een wat hulle of hul ouers se sakke pas nie. Daar is wel ander opsies om te oorweeg, wat jou sekerlik nie ’n fortuin sal kos nie, maar steeds die moeite werd is. Dis tog ook lekker om ’n pragtige rok te dra sonder dat jy weet jy moes jouself in die skuld dompel daarvoor. Dit beteken allermins dat jy maar tevrede moet wees met tweede beste.

Volgens gewilde ontwerper, Elbeth Gillis, is die beste raad om in gedagte te hou, dat minder meer is. “Kies eerder ’n eenvoudiger trourok uit ’n goeie kwatiliteit lap. Eenvoud is altyd tydloos en meer indrukwekkend.” Sy beveel ook aan dat jy uikyk vir uitverkopings, waar jy ’n  rok teen soveel as 75% afslag kan raakloop. “Kyk na ontwerpers se pasklaarreekse, dit is baie goedkoper as om ’n iets spesiaal vir jou te laat maak.”

* Departementswinkels kan jou dalk verras met ’n trourok waarvan jy hou, so onthou om daar ook ’n draai te maak.

* Bruidswinkels bied groot uitverkopings aan ’n paar maal per jaar, maak seker dat jy deur dié rokke gaan. Wie weet, dalk is jou rok hier en pas dit gemaklik in jou begroting.

* Aanpasrokke is dié wat deur bruide aangepas is in boetieks, so hulle is skaars gedra. Aangesien bruidswinkels se rokke elke seisoen geroteer word, kan jy so ’n trourok teen ’n winskoop raakloop.

* Ondersteun plaaslik – dalk is daar iemand in jou dorp, stad of gemeenskap wat ongelooflik talentvol is en ’n rok vir jou kan maak wat jou asem wegslaan.

* Moenie onmiddellik ’n tweedehandse rok afskiet nie, jy kan dalk die allermooiste rok so raakloop. Sodoende eindig jy dalk op met ’n skepping deur ’n bekende ontwerper sonder die prysetiket wat dit jou nuut sou kos. Onthou, dit is maar een dag dat jy die rok dra, so die rok het maar ’n paar uur se dra agter die rug.

* Om ’n trourok te huur is ook ’n opsie, of om ’n rok met minder lae materiaal te laat maak en dan op te pof met ’n gehuurde onderrok is nog ’n opsie.

* Hou dit eenvoudig. Hoe eenvoudiger jou trourok is en hoe minder detail daarop is, hoe goedkoper sal jou rok wees. Onthou, niemand sê jy kan nie steeds die trourok van jou drome hê net omdat dit goedkoper is nie. Die ideaal is om nie jou getroude lewe met skuld te begin nie. So neem die besluit met jou hart én jou verstand.

Inligting: Elbeth Gillis
Foto: Fashion Mention

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

Written by Troukoors