Parfuum vir jou groot dag


Parfuum is ’n geurige lekkerte waarsonder geen bruid op haar mooiste dag moet wees nie. Hier is raad oor hoe jy die perfekte trougeur kan kies vir jou mooiste dag.

Dit is baie belangrik om op jou troudag nie net spoggerig te lyk nie, maar ook lekker te ruik… want niemand is lus om iemand te omhels wat ruik asof hulle dae laas gebad het nie. ’n Mens voel ook net soveel mooier as jy heeltyd omring is met ’n sagte blommegeur… wat jou bruidegom sommer nog meer verlief sal laat voel sonder dat hy dit agterkom.

Maar hoe kies ’n mense die perfekte parfuum? As jy die wenke hier onder volg, behoort jy nie hiermee te sukkel nie.

Wanneer jy jou trougeur kies, is dit ’n goeie idee om in die middag te gaan wanneer jou reuksintuig op sy beste is.
● Besluit van watter tipe geur jy hou – hou jy van vars reuke soos blomme- of vrugtegeure of eerder van warm speseryagtige geure soos muskus? As jy dit weet, sal dit makliker wees om iets te kry waarvan jy hou en waarmee jy gemaklik sal voel. Jy gaan die geur nog vir lank na jou troue gebruik en parfuum is duur, so jy sal net geld mors as jy iets kies wat glad nie jy is nie.
● Dit is nie te sê as ’n sekere geur vir jou strooimeisie werk, dit vir jou ook sal werk nie. Die manier waarop julle liggame saamgestel is, mag dalk net verskil, so kies parfuum wat vir jou werk. Vergeet van wat nuut en in die mode is.
● Moenie aan papiertjies ruik nie. Maak seker dat jy nie ander parfuum aan het wanneer jy gaan soek vir jou trougeur nie en spuit toetsspuite aan jou vel om te bepaal hoe die geur aan jou gaan ruik.
● Loop ’n bietjie daarmee rond. Die meeste parfuum neem ten minste ’n halfuur om droog te word. Tot dan sal jy nie die volle effek daarvan kan ruik nie. So gaan loop ’n draai en ruik dan hoe dit ruik voordat jy finaal besluit. Onthou om altyd jou parfuum toe te laat om natuurlik droog te word, so moenie jou polse teen mekaar vryf of aan jou nek torring nadat jy parfuum aangespuit het nie.
● Faktore soos dieet en liggaamshitte speel ook ’n belangrike rol in hoe die geur ontwikkel, so hou dit in gedagte. Dit is daarom dan ook ’n goeie idee om toetsmonsters van die geure op jou kortlys huis toe te neem en een per dag te toets om te verseker dat jy die beste besluit moontlik maak.
● Vra vir die dame by die toonbank om koffiebone gereed te hou, waaraan jy kan ruik wanneer jy verskillende geure toets. Die bone sal help om die vorige geur te neutraliseer, sodat jy tussen geure kan onderskei. As jy aan baie verskillende parfuum gaan ruik op een slag, kan jou sintuie soms oorweldig raak en gaan dit vir jou moeilik wees om te besluit.
● Kies ’n geur wat sal hou. Eau de Cologne is die ligste vorm van alle parfuum en bevat hoofsaaklik 3% tot 5% alkohol en water. Eau de Toilette is ook redelik lig en bevat tot en met 15% alkohol. Eau de Parfum is baie sterk en bevat sovat 15% tot 18% alkohol. Parfuum met ’n alkoholinhoud van tot en met 30% is die sterkste en sal ook die langste hou.

HET JY GEWEET?
As jy wil hê dat jou parfuum ’n impak moet hê en hou, wend dit aan die volgende areas aan:
1 Binnekant van jou polse
2 Agter die ore
3 Tussen jou borste
4 Agter jou knieë
Een spuit op elkeen van hierdie polspunte behoort genoeg te wees en sal lank hou.

* Parfuum hou oor die algemeen langer op ’n vel wat voor die tyd bevogtig is. Deur die geur in lae aan te wend – met ander woorde met die lyfwas te was, daarna die room te gebruik en dan die lyfsproei en parfuum van dieselfde geur – sal ook help dat die parfuum se reuk langer hou.

Die tipe parfuum wat jy op enige dag dra, is ’n persoonlike keuse wat net jy kan maak. Besluit waarvan jy hou en nooi jou kenmerkende geur saam met jou kansel toe.

Foto: Dream Wedding

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

Written by Troukoors