Skoene wat perfek is vir jou troudag


Skoene wat gemaklik pas is baie belangrik op jou mooiste dag. Nie net omdat ’n mooi paar ’n statement maak nie, maar ook omdat ongemaklike skoene jou dag kan bederf.

Daar is baie elemente wat deel uitmaak van ’n bruid se prentjiemooi voorkoms op haar groot dag. Sodra die rok kies afgehandel is, is daar dinge soos haarstyl, grimering, juwele, en dan natuurlik die trouskoene.

Daar is baie aspekte verbonde aan watter skoene die perfekte keuse is vir jou. Liza de Jager gee raad wat sal help om hierdie besluit makliker te maak.

TROUROK
As jy jou keuse van skoene maak deur dit te laat pas by jou trourok, kan jy kyk na die kleur en materiaal van jou rok en dan bypassende skoene uitkies. Hierdie is ’n goeie opsie vir ’n tradisionele of baie elegante troue.

KLEURSKEMA
Baie bruide verkies deesdae om skoene te kies volgens die kleurskema van hulle troue. Hierdie opsie is baie meer speels en gepas vir ’n troue wat meer informeel en prettig is.

GEMAK
Dis baie belangrike om te onthou is dat jy ure op jou voete gaan spandeer in jou trouskoene. Jy moet kan afstap na jou toekomstige man in die kerk, vir ongeveer ’n uur in dit kan staan, ’n paar uur se foto’s neem en dan nog die aand om dans. Indien jy nie iemand is wat gereeld in hakskoene loop en gemaklik daarin kan dans nie, is dit beter om vir ’n plat skoen te gaan.

BRUIDEGOM SE LENGTE
Nog iets om in gedagte te hou, is die lengte van jou verloofde. Indien hy ’n lang man is en jy ’n kort vrou, kan hoë hakke julle beter balanseer vir foto’s. As hy net so lank, of selfs korter as jy is, sal dit beter wees om plat skoene te dra sodat jy nie bo hom uittoring nie.

TEMA
Skoene wat by die troutema pas is ook deesdae baie gewild. As jy byvoorbeeld ’n Country-tema het, kan jy in ’n paar stewels die ja-woord gee.

WEER
Jou troue is in die reënseisoen, en jy trou op ’n plaas. Met die kanse van gly in modderige grond met jou fyn hakskoentjies, is “Wellingtons” ’n baie beter keuse.

PLEK
Hierdie is seker die belangrikste faktor om in gedagte te hou. Vir ’n strandtroue gaan ’n hakskoen byvoorbeeld glad nie werk nie. Sommige bruide dra sandale, sommiges gaan kaalvoet, en ander gaan vir die linte en krale wat net deur die tone gevleg word.

Buite op ’n grasperk verkies bruide dikwels ’n plat skoene aangesien hakskoene in die gras kan wegsak. Darem is daar deesdae heelstoppers wat hierdie situasie kan voorkom en dus toelaat dat jy in hakke kan trou.

Met so baie faktore om na te kyk, bly die keuse van skoene maar een van jou eie smaak, wat by jou persoonlikheid pas, en waarin jy gemaklik en soos ’n prinses voel. Onthou dis JOU dag, en JOU keuse…

Hooffoto: Compassion Art Photography

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

Written by Troukoors