Verlowingsfoto’s by die see


Verlowingsfoto’s, met die see as agtergrond, is wat Neil graag wou hê op die dag wat hy vir Sanri die ‘groot vraag’ gevra het. Lees verder om meer te sien van hierdie spesiale geleentheid.

Neil en Sanri se verlowingsfoto’s is tydens ’n verrassingssessie by die Mosselbaai-ligtoring geneem. Die see beteken vir die paartjie baie en dit was dus die ideale plek vir hierdie mooi dag in hulle lewens.

DIE PAARTJIE VERTEL…
“Ons het op sosialemedia ontmoet en het van die eerste geselsie af geweet dat daar iets baie spesiaal tussen ons kan wees. Alhoewel ons vier maande saam uitgegaan het, voordat ons amptelik ’n paartjie geword het, was ons van dag een af verlief op mekaar en hierdie liefde het aanhou groei.”

HOE HET JULLE OP ’N FOTOGRAAG BESLUIT VIR JULLE VERLOWINGSFOTO’S?
“Marinell is vir ons soos familie en ons het al in die verlede foto’s geneem by haar. Sy laat ons baie gemaklik voel voor die kamera, en dit is vir ons baie belangrik. Daar was dus vir ons geen ander keuse as dat sy die foto’s moes neem vir hierdie spesiale oomblik nie.”

DIE VERLOWINGSFOTO’S IS GENEEM, MAAR HOE LYK JULLE DROOMDAG?
Neil: “Ek kan in my verbeelding sien hoe my pragtige verloofde op ons troudag, in ’n elegante wit rok, met die paadjies afgestap kom in ’n klein kerkie en hoe ons daarna die aand om dans.”
Sanri: “Wanneer ek dink aan ons troudag, dink ek aan die oomblik wat ek na my verloofde toe stap om vir ewig aan hom trou te belowe, met ons geliefdes as getuies van hierdie spesiale oomblik. Ek sien ook uit om die hele aand met my nuwe man te dans.”

DIE FOTOGRAAF SÊ…
“Die verlowingsfoto’s was ’n verrassing en dit was wonderlik om die oomblik vas te vang en te sien hoe mooi hierdie paartjie by mekaar pas. Ek het hulle al vantevore afgeneem, maar hierdie was vir my ekstra-spesiaal omdat ek kon deel wees van die geleentheid.”

HOEKOM IS VERLOWINGSFOTO’S ’N GOEIE IDEE?
“Dis eerstens baie pret. Tweedens is dit, veral wanneer jy op trou staan, baie goed om voor die troue ’n sessie te doen om gewoond te raak aan hoe dit werk, om jou fotograaf te leer ken, en om sommer net gemaklik te raak voor die kamera. Dit is baie belangrik dat julle gemaklik voel met mekaar en lekker saam kan werk, want dit maak die  mooi natuurlike foto’s.”

WATTER RAAD HET JY VIR PAARTJIES WAT ’N FOTOGRAAF MOET KIES VIR HULLE VERLOWINGSFOTO’S?
“Besluit watter tipe styl elke keer jou aandag trek wanneer jy na foto’s kyk. Elke fotograaf se styl verskil, en dit is baie belangrik dat jy van die fotograaf wat jy op die ou end kies, se styl hou, want dit is die tipe eindproduk wat jy gaan kry. Kies iemand met wie jy gemaklik voel. Dit is belangrik dat jy jou fotograaf vertrou.”

Foto’s: Marinell Photography

Written by Troukoors