Tuisgemaakte lekkernye – vir Vadersdag of jou troue


Tuisgemaakte lekkernye, is altyd ’n treffer. Dis die ideale manier om jou pa, skoonpa of nuwe man op Vadersdag te bederf en sal ook pragtig lyk op jou troue se lekkergoedtafel en buffet.  Trouvrou deel hierdie twee heerlike resepte met ons.

Hierdie naweek is Vadersdag en as jy nie weet wat om vir jou pa of nuwe skoonpa te kry nie, is dit dalk ’n goeie idee om in te spring en vir elkeen tuisgemaakte lekkernye te maak in jou eie kombuis. Nie net sal jy dit kan voorsit op die dag nie, maar jy sal ook met ’n klomp regmerkies van goedkeuring uit die stryd tree. Want die pad na ’n  man se hart, is mos immers deur sy maag.

Tuisgemaakte lekkernye is boonop ook veel meer werd as iets wat by die winkel gekoop het, omdat dit wys hoeveel spesiale moeite jy gedoen het om die pa’s in jou lewe te bederf. Probeer gerus een of albei van hierdie lekker resepte.

BEGIN DIE DAG MET GEMMERBIER
Hierdie is een van die tuisgemaakte lekkernye wat die beste welkomdrankies maak op troues en spoggerige onthaalgeleenthede by die huis. Probeer dit gerus.

BESTANDDELE
9 liter water
7-8k suiker
20ml jamaika gemmer (Lennon)
10ml kitssuurdeeg (1 koevertjie)
Rosyntjies

METODE
1. Meng alles behalwe die rosyntjies in ’n emmer saam.
2. Roer totdat die suiker opgelos is.
3. Gooi 5 rosyntjies in elke leë Coke-bottel en vul dit ¾ met die gemmerbier.
4. Draai die bottels se doppies losweg op.
5. Laat bier 12-14 uur staan.
6. Draai dan styf toe en plaas in yskas.

WILDSPASTEI VIR HOOFGEREG
Dis een van daai tuisgemaakte lekkernye wat lank vat, maar die moeite werd is om die manne in jou lewe se asems mee weg te slaan. Dit sal ook goed pas by ’n plaasstyl troue.

BESTANDDELE
1,5kg wildsblad of wildsboud
375 – 500ml karringmelk
125g spek gekap
30ml botter
Olie, opsioneel
1 groot ui, gekap
3 vet knoffelhuisies, gekneus
500g skaapskenkels
30ml koekmeelblom
5ml sout
Vars gemaalde swartpeper
1 heel ui, geskil met 5 naeltjies daarin gesteek
2 lourierblare
10ml fyn koljander
Sowat 500ml aftreksel
250ml rooiwyn
400g skilferkorsdeeg
1 eier, geklits

METODE
1. Marineer die wildsvleis in karringmelk. Bedek vleis met kleefplastiek en plaas vir 1 dag in die yskas.
2. Druk vleis droog (karringmelk word uitgegooi en nie verder gebruik nie). Sny dit in blokkies van 25mm.
3. Braai spek in verhitte botter, skep uit en hou eenkant.
4. Braai gekapte ui in dieselfde kastrol tot sag en deurskynend, roerbraai knoffel by.
5. Voeg spek by.
6. Voeg ’n bietjie olie by en braai lamskenkels in dieselfde kastrol tot goudbruin.
7. Rol wildsvleis in koekmeelblom, en braai ’n paar stukkies op ’n keer tot goudbruin.
8. Voeg lamskenkels, spek en uie by wildsvleis in kastrol.
9. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper, en voeg die heel ui met naeljies by. Voeg ook lourierblare en koljander gevolg deur verhitte aftreksel en rooiwyn by.
10. Verhit tot kookpunt, verlaag dan temperatuur en bedek met styfpassende deksels. Prut vir 3 – 4 uur of tot die vleis sag is en van die bene afval. Vul vloeistof aan, indien nodig, met aftreksel of rooiwyn.
11. Laat afkoel en verwyder bene en heel ui. Vlok die vleis.
12. Prut tot sous lekker dik is en die meeste van die vloeistof afgekook het. Geur, en laat afkoel tot koud.
13. Voorverhit oond tot 230⁰C.
14. Skep vleis in ’n groot pastei bak. Bedek met ’n laag skilferkorsdeeg en versier met deegrepies of motiewe.
15. Prik die deeg met ’n vurk om stoom te laat ontsnap.
16. Verf die deeg met geklitste eier en bak vir 15 minute.
17. Verlaag temperatuur tot 180⁰C, en bak vir nog 30 – 35 minute.
18. Vleis kan in die prutpot ook sag gekook word.

Die Trouvrou Resepteboek is propvol oulike tuisgemaakte lekkernye, en is ’n moet-hê-item vir elke vrou se kombuis… en nie net op Vadersdag of jou troue nie! Gaan volg hulle gerus op Facebook vir meer inligting.

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

Written by Troukoors