Troue met ’n feestelike, tydlose elegansie


’n Troue met ’n vry, feestelike gevoel, was wat Pieter en Michelle graag wou hê op hulle groot dag. Lees verder om hulle pragtige foto’s te sien.

Pieter en Michelle het een aand heel toevallig ontmoet, maar dit was eers nadat hy in die hoësorgeenheid beland het – na ’n ernstige ongeluk – wat hulle besef het dat hulle vir mekaar bedoel is. Ons het meer gaan uitvind oor die paartjie se troue.

HOE HET JULLE ONTMOET VOOR DIE TROUE?
“Ek het van die Kaap na Port Shepstone verhuis, omdat ek my mediese internskap vir die staat daar moes doen. Ons het een aand deur vriende ontmoet en hy het my uitgevra. Dit was eers nadat hy in die hospitaal beland het, na ’n ernstige ongeluk, wat ons besef het dat ons vir altyd by mekaar wil wees.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Hy het my op ’n reënerige dag gebel en gesê dat hy my die oorstromings wil gaan wys by St. Michael’s-brug in Shelly Beach. Dit was nie vir my vreemd nie, want ons het gereeld met die kus langs gery en plekke besoek. Ek was glad nie voorbereid op wat kom nie, my hare was net in ’n bolla en ek het geen grimering aangehad nie. Hy het toe by ’n paar plekkies gestop waar ons spesiale herinneringe gedeel het. Hy het my toe na die afdakkie by Ramsgate geneem waar ons vir die eerste keer ons liefde vir mekaar verklaar het en ons het gesit en na die see gestaar. Toe ek weer sien, was hy op sy knie en het hy gevra of ek met hom sal trou. Daarna is ons na ons gunsteling-seekosrestaurant, waar ’n spesiaal-gedekte tafel en sjampanje op ons gewag het. Kort daarna het ons begin troue beplan.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN TEMA VAN JULLE TROUE?
“Ons wou ’n Boho-styl troue met ’n gypsy gevoel hê, wat die vrye gees en feestelikheid van ons dag komplementeer, maar steeds tydloos en elegant is. Ons het daarom op donker, ryk kleure besluit soos Marsala, Vlootblou, Eiervrug, Smaraggroen en Goud.”

WATTER RAAD HET JY VIR BRUIDE WAT TROUE BEPLAN?
“Die belangrikste is om te doen waarvan jy hou en nie bekommerd te wees oor wat ander mense sal dink of sê nie, want dis jou dag.
* Goeie kos, musiek en wyn is meer as genoeg om jou gaste gelukkig te hou;
* Nooi net mense wat deel is van julle lewens en nie mense wat julle nooit sien nie:
* Iets gaan altyd skeefloop, moenie dat dit jou dag bederf nie;
* Spandeer vyftien minute alleen saam met jou nuwe man om die atmosfeer in te neem;
* Jy betaal baie vir die kos by jou troue, maak seker jy eet en geniet dit; en
* Probeer om direk na die troue op jou wittebrood te vertrek om die ervaring te vervolmaak.”

ONS WAS MAL OOR DIE VOLGENDE ELEMENTE BY HIERDIE TROUE:
– 120 spesiale droomvangers wat die bruidspaar en haar sussie self gemaak het;
– Die prmitiewe boskerk wat die tema van die troue gekomplementeer het;
– Die tuisgemaakte gemmerbier en vrugtewater wat die mense tydens die seremonie kon geniet;
– Die feit dat hulle gaste gevra het om blomme in hulle hare te sit; en
– Fotorame in die bos, waarmee gaste kon foto’s neem met Poloroid-kameras.

Pieter en Michelle se troue was alles wat hulle wou hê en meer en hulle het elke oomblik geniet.

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, spyseniering en vervoer: Florence Guest Farm
Blomme, dekor en verhurings: Anrule
Skryfbehoeftes en blomme meisie en hofknapie se uitrustings: Moments with Mom
Troukoek: Kwinkel Creations
Foto’s: JCclick
Video: White Motion Films
Music: Musique Romantica
Vermaak: Jorietha en Raytrice
Hare en grimering: UBELLA
Bruidegom se uitrusting: B.Gangaram Tailors
Trourok: Mengouchi Haute Couture
Aanplaktatoes en doelgemaakte hangers: JCclick se aanlynwinkel

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

Written by Troukoors