Trou 101 – wat regtig belangrik is


Trou is nie perdekoop nie en daar is heel moontlik baie dinge wat nie so belangrik is soos wat jy dink nie, en elemente waarvan jy vergeet wat baie noodsaaklik is. Christell du Preez van The Peachy Peony gee raad wat jou sal help om tussen die twee te onderskei.

Moderne troues is baie gemaklik en nie meer styf en formeel nie. Vir baie paartjies wat trou, gaan dit meer oor die kuier as die formaliteite. Hiermee saam kom daar ook elke jaar elemente by en tussen al die reëlings is dit moeilik om te weet wat jy moet doen en wat jy net moet los.

GESKENKE VIR JOU GEVOLG
Dit lyk so mooi op foto’s, maar my eerlike opinie is dat trou oor jou gaan en nie oor hulle nie. Sommige mense hou daarvan om geskenkies te gee en ander nie. As jy eerder jou strooimeisies wil bederf met ’n spa-dag en die geskenke wil los, maak so. Moenie genoodsaak voel om geskenke te gee as dit nie is wie jy is nie.

SKRYFBEHOEFTEPAKKIES
Ek moet sê dat ek self mal is oor foto’s met hierdie elemente wanneer paartjies trou. Dit is een foto met jou onthou-die-datum-kaartjie, uitnodiging, padkaart, miskien jou tafelnommers (as dit deel vorm van die skryfbehoeftes) ’n koevert ensovoorts in. Dit sal dan ander detail soos ’n blom (uit jou ruiker) en lint (van jou dekor) ook insluit en jou sluier is dalk die agtergrond waarop dit afgeneem word. Is dit regtig nodig? As jy hou van fyner detail, definitief! En as jy wil onthou hoe alles gelyk het, beslis.

’N VIDEOGRAAF
Paartjies krap dikwels kop of ’n video van hulle troue regtig die prys werd is. Om dit te beantwoord moet jy eers gaan kyk na die videograaf se pakket en dan ook verstaan dat hulle toerusting duur is en nie sommer ’n selfoon se kamera is nie. Dit vat ook ure se redigering om een video reg te kry. Gewoonlik sluit hulle pakket ’n 5 minute video in en dit sal dan tipies die video wees wat jy op Facebook laai, dit sluit gewoonlik net klein stukkies van die troue in. Dan kry jy ’n volledige video, wat minstens ’n uur lank is en dit sluit alles in en dan, afhangende van jou videograaf, sal jy ’n video kry wat die heildronke insluit en ’n ander met jou seremonie of spesiale boodskappe van jou gaste. As ’n bruid wat glad nie die nut van ’n video kon sien nie, is ek vandag baie spyt dat ons nie een laat maak het nie. Jy vergeet tog sekere elemente en ’n foto (alhoewel so noodsaaklik) vang net nie die hele atmosfeer vas van die dag wat jy trou beloof het nie.

DANKIEGESKENKE VIR JOU GASTE
Dit word deesdae die tendens om weg te beweeg van dankiegeskenke wanneer jy trou. Ek persoonlik kan nie insien hoekom nie, dankiegeskenke is so ’n oulike deel van ’n troue. Dit gee jou die kans om jou hele tafelplasingsarea mooi af te rond en jou gaste te bedank omdat hulle deel was van julle mooiste dag. Maar hoe kies jy wat om te doen? My raad is om nie vir gaste iets te gee wat hulle na die tyd kan gebruik nie. ’n Sleutelhouer is oulik, maar wil jou niggie se kêrel nou regtig julle sien elke keer as hy sy kar aanskakel? Gee eerder jou ouma se fudge as ’n geskenk. Dit is ewe uniek aan julle as ’n paartjie, maar in plaas daarvan dat hulle dit weer daarna moet gebruik, eet hulle dit daar op en kan vir dekades daarna nog praat daaroor praat. Dit kan enigiets wees, van perskekonfyt (jou ma se resep) tot kaas van jou oom se plaas af. Iets uniek, maar wat gaste vir jare sal onthou.

TRADISIES
Die bruidegom mag nie die bruid sien nie, jou pa moet jou afgee, jy moet ’n ringdrear hê… hierdie is alles aspekte van ’n troue wat sommige bruide paniekerig maak. Die bruid het dalk nie meer ’n pa nie, vertrou nie kinders met ’n ring nie en vind ’n kousband ongemaklik. My raad is om te doen wat jy wil wanneer jy trou! Dit is julle spesiale dag. Ek het een keer ’n troue bygewoon waar my vriendin so graag wou gehad het haar ma moes voor haar in die kerk instap en omdat haar bruidegom nog nie so iets gesien het nie, het hy haar afgeraai om dit te doen en sy het toe nie. Hoekom nie? As jy wil hê ’n jou ouma moet voor jou uitloop, doen dit! ’n Troue is uniek aan ’n paartjie en moet glad nie vasgevang word in tradisies en wat etiket is nie. Doen eerder wat unieke en eie is aan julle.

Foto: Hitched

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

Written by Troukoors