Troustres hoef nie jou dag te bederf nie


Troustres kan jou baie negatief maak voor en op die dag. Yolanda Wessels gee raad oor hoe om te keer dat julle spesiale dag in die wiele gery word.

Alhoewel dit beloof om een van die spesiaal en mooiste dae in jul lewens te wees, is daar baie spanning wat daarmee gepaard gaan om die beplanning in plek te kry. Dis baie maklik om oorweldig te voel met al die reëlings en konflik wat voor die tyd afspeel. Die belangrikste is om nie toe te laat dat troustres tussen julle kom of julle troue te bederf nie. Dit is uiters belangrik om fokus te behou, haal diep asem en skep so nou en dan asem sodat alles jou nie onderkry nie.

Die laaste ding wat jul wil hê, is herinneringe aan troustres wat gelei het tot konflik tussen julle twee.

HIER IS MANIERE OM TROUSTRES TE VERLIG:

TYD: Maak ’n spesifieke afspraak om troureëlings te bespreek en skei dit van julle gewone lewe. Dit sal help om seker te maak dat troustres nie julle lewe en verhouding oorneem nie en dat julle ook op mekaar kan fokus.

KORREKTE BEPLANNING: Die heel belangrikste is om dit dag-vir-dag, stap-vir-stap te vat. Gun jouself genoeg tyd om alles te beplan en te reël en moet nooit uit die oog verloor dat julle saamwerk aan jul mooiste dag nie. Sorg dat jul voldoende kwaliteittyd saam spandeer waar jul nié die troue bespreek of troustres het nie.

RESPEK: Respekteer mekaar se voorkeure, afkeure en liefdes. Behou die elemente en wat vir julle altwee belangrik is. Indien julle te veel oor iets verskil, gee ’n tree terug om dit soos volwassenes te bespreek en te hanteer. Dis heel moontlik dat iemand sal moet ingee of julle altwee sal moet toegewings maak, maar dit is immers die begin van julle huwelikspad.

VERWAGTING: Deel julle verwagtings van die troue met mekaar. Dit is ook belangrik dat julle bepaal wie vir wat verantwoordelik is, voordat troustres julle versmoor. Moet ook nie bang wees om hulp te vra nie, maar moenie toelaat dat iemand oorvat nie. Beskerm mekaar!

FINANSIES: Finansies kan baie troustres veroorsaak en speel ’n belangrike rol, want julel kan net ’n troue beplan wat in die begroting pas. Wees realisties, oopkop en eerlik en doen die beste met wat julle het.

ONDERSTEUNING: Steun op mekaar en deel julle bekommernisse wanneer daar iets opduik. Onthou julle is ’n eenheid en moet saamwerk, nie teen mekaar nie. Kommunikasie en ondersteuning is belangrike bestanddele in enige verhouding. Moenie mekaar as vanselfsprekend aanvaar nie. Kom mekaar tegemoet en werk saam om troustres te verminder.

KRITIEK: Moenie mekaar of mekaar se families kritiseer nie, dis nou ’n tyd vir opbou, nie afbreek nie. Besef ook dat iets mag verkeerd loop op jul groot dag, wees voorbereid hierop en moenie dat troustres verhoudings beskadig nie.

ONTSPANNING: Doen wat vir julle lekker is. Gaan fliek, eet uit, stap langs die strand, kuier saam met vriende en verf die dorp rooi as dit moet! Met een reël, niemand praat oor troureëlings nie! Stokperdjies is ook ’n goeie manier om julle aandag van troustres af te lei.

OEFENING: Oefening is ’n wonderlike manier om van troustres ontslae te raak en stel endorfiene vry wat wondere verrig. Oorweeg ook meditasie of dansklasse – solank jy dit net geniet!

Onthou om na die groter prentjie te kyk. Hierdie is julle spesiale dag, moenie dat troureëlings en troustres enige verhouding versuur nie. Laat dit eerder julle bande, as ’n eenheid versterk.

Foto: Love Media

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

Written by Troukoors