Strooijonker se pligte voor die groot dag


As strooijonker is jou pligte beslis nie net beperk tot langs die kansel staan op jou vriend of broer se groot dag nie. Yolanda Wessels verklap wat jou verantwoordelikhede is voor die bruidspaar die knoop deurhaak.

Dis lekker en nogal ’n groot eer om gevra te word om strooijonker te wees. Maar dit kom nie sonder sekere pligte nie. Jy is die bruidegom se regterhand, dien een wat hy vertrou en die een wat die druk van hom moet af haal.

Nie alle bruidgegomme het egter dieselfde verwagtinge van hulle strooijonker nie, so maak van die begin af seker dat julle op dieselfde bladsy is en dat almal weet wat gaan vir wat. Jy wil tog nie op die dag besef jy moes die ringe gehad het en jou vriend se dag bederf nie.

Hier is die pligte wat die bruidegom van jou, as strooijonker, kan verwag voor die troue. Onthou dat dit mag verskil van persoon tot persoon.

  • Hulp met die keuse van die troupak asook die strooijonkers se klere, kleure en bykomstighede. Jy sal ook moet reël dat die strooijonkers hulle pakke pas, sodat alles perfek is vir die groot dag.
  • Jy mag dalk gevra word om akkommodasie te reël vir die strooijonkers wat van ver af kom.
  • Dis ook heeltemal aanvaarbaar dat jy, as strooijonker, voortou sal vat met die reël van die rampartytjie. Hou tred met wie genooi is en wie die plegtigheid bywoon, waar almal tuisgaan en watter aktiwiteite gaan plaasvind. Jy kan ook reel vir ’n geskenk wat julle as ’n groep aan hom gaan oorhandig.
  • Hou die strooijonkers op hoogte van enige veranderinge wat mag plaasvind, asook elkeen se funksie by die plegtigheid.
  • Indien die bruidegom dit verlang, kan die strooijonker die wittebroodreëlings nagaan en bevestig
  • Doen jou huiswerk, besoek die venue waar die onthaal gaan plaasvind sodat jy bekend is met die omgewing. Sorg dat jy die belangrikste telefoonnommers het, soos die spysenier, koördineerder, strooimeisies, seremoniemeester, ensovoorts.
  • ’n Goeie strooijonker sal ook help met die reël van proeflopies en sorg om te sorg dat die bruidegom betyds is op die dag.

Wees ’n betrokke en goeie strooijonker, maar ook ’n vriend waarop die bruidegom kan staatmaak.

Foto: You and Your Wedding

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

Written by Troukoors