Tafeldek 101 – doen dit so reg


Tafeldek kan jou nogal laat kopkrap, veral as jy alles self gaan doen en nie die raad en bystand van ’n kenner het nie. Hier is die basiese dinge wat jy moet weet.

Suid-Afrikaners hou van braaivleis, piekniek en potjiekos, maar sommige geleenthede – soos jou troudag – is meer formeel en daarom moet jou tafels ook reg gedek word vir die geleentheid. Maar dit is nogal maklik om soos Julia Roberts in Pretty Woman te voel wanneer die gange, en eetgerei, al hoe meer raak.

Hier is ’n paar basiese riglyne, wat jou sal help om tafeldek te vergemaklik en jou sommer ook verleentheid (van nie-weet-wat-word-wanneer-gebruik-nie) sal spaar wanneer jy ’n formele ete saam met jou aanstaande skoonma moet bywoon.

TAFELDOEK EN SERVIETTE
Een belangrike geheim van tafeldek, is om te onthou dat minder altyd meer is. Kies ’n tafeldoek wat eenvoudig en sonder patrone en helderkleure is. Wit, skoon tafellinne lyk altyd elegant saam met enige tipe gedekte tafel en sal by die meeste kleure overlays en eetgerei pas. As jy egter wit breekware gaan gebruik, is dit beter om ’n tafeldoek te kies in ’n ligte en neutrale kleur. Vir jou tafeldoek om netjies te lyk, is dit nodig dat dit ten minste 15cm aan elke kant oorhang om ’n gebalanseerde voorkoms te gee.

Wenk: Vir plaastroues is dit deesdae nogal in die mode om nie tafeldoeke te gebruik nie, maar eerder op die tekstuur van houttafels en miskien ’n runner in die middel, staat te maak.

Vir ’n formele geleentheid soos jou troue, is dit noodsaaklik om lapserviette te gebruik. Papierserviette gaan nie vir hierdie geleentheid werk nie. Kies ook serviette wat effekleurig is en by jou kleurskema pas en vermy te veel detail en patrone. Die servet word dan netjies opgevou en in die middel van die bord of langs die vurke geplaas, afhangende van watter styl jy in gedagte het.

Wenk: Oulike servetringe of ’n lint met ’n dankie-kaartjie aan, is deesdae nogal ’n gewilde tendens om serviette mee te versier wanneer ’n mens tafeldek.

GLASE
Die wyn- en waterglas word aan die regterkant, net bo die hoofbord, bokant die punt van die tafelmes gedek – met die witwynglas naaste aan die eetgerei, gevolg deur die rooiwyn- en waterglase. Kies kristalglase vir ’n elegante tafel en hou die glase in die volgorder waarin drankies bedien gaan word. Die Sjampanjeglas vervang soms die witwynglas wanneer jy tafeldek en sal dan direk na die koeldrankglas geplaas word.

Die koppie en piering word langs die soplepel, aan die regterkant geplaas.

Wenk: Maak seker dat die glase op jou tafel blink gevryf en skoon is.

  • Die hoeveelheid glase wat op die tafel geplaas word, sal afhang van watter drankies bedien gaan word. Baie mense verkies om die koppies byvoorbeeld op ’n aparte tafel in die lekkergoed- of nagereghoekie uit te stal om meer spasie op die tafel te hê.

MESSE EN VURKE
Hierdie elemente is nie net die moeilikste wanneer dit by tafeldek kom nie, dit is ook wat die meeste mense oorweldig wanneer hulle moet aansit vir ete, omdat niemand ooit seker is watter mes en vurk vir watter gang gebruik moet word nie. Die beste raad is om van buite af, binne toe te werk soos wat die gange bedien word.

– Die messe en soplepel kom aan die regterkant en die vurke aan die linkerkant.
– Die nagereg-eetgerei word horisontaal bokant die borde geplaas, met die nagereglepel die naaste aan die borde (dit wys links).
– Die eetgerei wat gebruik word, sal afhang van die hoeveelheid gange wat bedien word. Laat die eetgerei uit wat onnodig is wanneer jy tafeldek.
– Die slaaivurk en (of) visvurk kom aan die heel buitekant, links van die borde, met die tafelvurk aan die binnekant.
– Die soplepel kom aan heel buitekant, regs van die borde, gevolg deur die slaaimes en (of vismes) en dan die tafelmes (heel aan die binnekant).

  • Die lemme van die messe word altyd na die binnekant geplaas (dit moet na die borde se kant toe wys) wanneer jy tafeldek.

Wenke om jou eetgerei blink te hou:
– Was dit vooraf in warm seepwater, spoel dan in warm water af en droog dit dadelik af. Moet dit nooit laat week of laat staan ok droog te word nie, want dit maak merke.
– Gebruik slegs seep met ’n neutrale pH wanneer jy jou eetgerei was.
– As jy van ’n skottelgoedwasser gebruik maak, moenie vlekvrye staal en silwer eetgerei saam was nie; en moet ook nie eetgerei laat staan nadat die wassiklus voltooi is nie. Verwyder dit dadelik uit die masjien en vryf blink.

BORDE
Die borde kom in die middel, tussen die messe en vurke. Die onderbord kom onder, gevolg deur die hoofbord, met die sopbakkie bo-op. Die kleinbordjie kom aan die linkerkant, bo-kant die vurke. ’n Bottermes word dan in die kleinbordjie geplaas.

Wenk: Kies effekleurige borde en laat jou onderborde inskakel by die tema en kleurskema van jou troue.

Onthou ook om van sout- en peperpotjies wanneer jy tafeldek, aangesien die meeste mense eers daarvan onthou nadat hulle klaar gaan sit het.

Foto: Pinterest

SOEK JY IETS OM JOU GASTE MEE TE VERMAAK BY JOU TROUE?

Written by Troukoors