Bykos waaroor jou trougaste sal mal wees


Bykos is ’n noodsaaklike deel van jou groot dag. Dit vul nie net die vleisgedeelte van jou buffet of aansitete aan nie, maar is ook iets wat kreatief moet wees. Trouvrou deel hierdie twee heerlike resepte met ons om jou bykosse meer interessant te maak.

Jou troue is nou daardie een geleentheid waar jy uit-die-boks kan dink en kan voorsit wat jy goeddink. Baie selfdoen-bruide spring deesdae self in om seker te maak dat daar heerlike bykos voorgesit word op hulle mooiste dag of vra hulle ma’s of oumas om hiermee te help.

Bykos wat self voorberei word, kan help om kostes te bespaar en ook om die vleisgeregte te komplementeer. Probeer gerus hierdie twee heerlike resepte vir jou troue. Dit sal ook heerlik wys vir Sondagmiddagetes na die troue en sal julle altyd aan jul troudag herinner.

BROCCOLI-GEREG
’n Heerlike en gesonde bykos vir jou troue. Probeer dit gerus.

BESTANDDELE
1kg broccoli, sag, maar nie pap gekook.
50ml kookolie
1 medium ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
300g sampioene, in skywe gesny.
1 blik (400g) sampioenroomsop
1 klein botteltjie (250g) cheddar-smeerkaas
5ml worcestersous

METODE
1. Soteer die uie en knoffel in verhitte kookolie.
2. Voeg die sampioene by en soteer.
3. Voeg broccoli by en meng liggies.
4. Skep in opdienbak en hou eenkant.
5. Gooi sampioenroomsop, smeerkaas en worcestersous in ‘n kastrol.
6. Laat dit stadig prut tot goed warm.
7. Giet oor warm broccoli en bedien.

BOTTERSKORSIETERT
Een van daai bykosse waaroor gaste nog lank sal praat.

BESTANDDELE
500g pakkie botterskorsies klaar gesny of heel.
3e olyfolie
1e gerookte paprika
1 ui, in ringe gesny
Sout en growwe swartpeper
2 wiele Deense feta
10ml egiptiese dukkah
2e pampoensade (opsioneel)
250ml room
2 eiers
1 rol blaardeeg

METODE
1. Voorverhit die oond tot 200⁰C.
2. Verwyder die sade van die botterskorsie en sny in blokkies. Gooi in ’n bak saam met die uie.
3. Sprinkel die olyfolie en gerookte paprika oor. Meng deeglik en plaas dan op ’n gesmeerde bakplaat. Rooster vir 30 minute of tot sag.
4. Voer ’n tertpan met blaardeeg uit en plaas in die yskas vir 10 – 15 minute.
5. Klits die room en eiers saam.
6. Plaas die botterskorsie en uie in die tertdop tesame met gebreekte stukke feta.
7. Besprinkel met Dukkah en pampoensade.
8. Gooi die room en eiermengsel bo-oor en bak vir 45 minute teen 180⁰C
9. Maak 2 terte in 35 x 12cm tertbakke.

Die Trouvrou Resepteboek is propvol oulike bykosse, en is ’n moet-hê-item vir elke vrou se kombuis… en nie net vir jou troue nie! Gaan volg hulle gerus op Facebook vir meer inligting.

Written by Troukoors