Kleurryke inspirasie vir jou groot dag

Kleurryke, eklektiese troues gaan oor die volgende paar maande koning kraai onder verloofde paartjies. Bella Fiore en Pistachio Photography deel inspirasie vir hierdie tema.

Warm, kleurryke dekor en blomme is gekies vir hierdie gestileerde fotosessie, waaroor die moderne bruid mal sal wees. Ons het gaan uitvind wat die idee en beplanning was agter die pragtige eindresultaat.

WAT WAS DIE TEMA VAN HIERDIE KLEURRYKE FOTOSESSIE?
“Ons wou ’n ryk, dramatiese, gevoelvolle atmosfeer skep. Iets wat luukse elemente met speelsheid kombineer.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA?
“Ons het skakerings van rooi gebruik (wat wissel tussen oranje-rooi, tot pruim en eiervrug) en dit gekombineer met skakerings van pers. Donker kleure skep altyd ’n dramatiese effek en ’n gevoel van geheimsinnigheid, terwyl ligter kleure kontras bied.”

HOEKOM HET JULLE OP HIERDIE TEMA BESLUIT?
“Die eklektiese styl van hierdie kleurryke fotosessie het ons meer vryheid gegee en nie gebind aan iets spesifiek nie. Dit gee jou die geleentheid om iets uniek te skep. Bruide wat hulle persoonlike stempel op hul troue wil afdruk, sal hiervan hou.”

WATTER KLEURE IS TANS GEWILD EN IS INGESLUIT IN HIERDIE KLEURRYKE FOTO’S?
“Pruim, Marsala en groen. Groenigheid is ingesluit om die algehele gevoel te versag.”

WATTER BLOMME IS GEBRUIK EN HOEKOM?
“Ons het die blomme gekies oor die spesifieke vorms waarin dit voorkom. Tulpe Arum-lelies, Rose, Snowdon-stingels of -stamme, Sierkool en Leeubekkies is gebruik. Die groenigheid is gebruik omdat selfs ’n dramatiese, kleurryke tema, steeds warm en uitnodigend moet wees.”

WATTER DANKIEGESKENKE SAL GOED WERK SAAM MET HIERDIE KLEURRYKE TEMA?
“Iets wat met kos te doen het, soos olyftapenade, gebottelde olywe, konfyt of selfs olyfolie. Sulke geskenke kan baie persoonlik en prakties wees.”

HET JULLE ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Die keuses wat jy maak vir jou troudag, moet gebaseer wees op julle eie styl en voorkeure en nie net op wat in die mode is nie. Mode verander, maar as jy iets kies waarvan julle regtig hou, sal jy nooit spyt wees nie. Moenie bang wees om raad te vra nie, want daar is steeds basiese stylreëls wat gevolg moet word. Onthou ook dat alhoewel groot handruikers mooi is, dit nogal swaar is om te dra.”

As ’n kleurryke troue iets is waarvan julle hou, sal hierdie fotosessie julle beslis help met die beplanning van jul mooiste dag.

DIENSVERSKAFFERS
Venue: 012Central
Stilering, blomme, dekor: Bella Fiore
Skryfbehoeftes: Pistachio Designs
Foto’s: Pistachio Photography
Trourok: Timeless Bridal Couture
Hare en grimering: Tash Make-Up Artist

 

Written by Troukoors