Verlowingsfotosessie met Proteas


’n Verlowingsfotosessie met Proteas by Harmonie Proteas was wat Mart-Mari graag wou hê vir haar en Andrew se eerste paartjiesessie saam.

Simoné Venter is die fotograaf wat Andrew en Mart-Mari se verlowingsfotosessie moontlik gemaak het. Sy meen dat die paartjie baie gemaklik was met mekaar voor die kamera en dat hulle liefde vir mekaar duidelik op die foto’s te sien is. Ons het meer gaan uitvind oor die inspirasie agter hierdie verlowingsfotosessie.

WAT WAS DIE TEMA VAN DIE VERLOWINGSFOTOSESSIE?
“Daar was nie ’n spesifieke tema nie. Mart-Mari is mal oor Proteas, so dit was die eerste keuse. Ons het besluit om die foto’s by Harmonie Proteas te neem. Dit was bitter vroeg die ogggend. Ons het verkluim!”

HOEKOM IS ’N VERLOWINGSFOTOSESSIE ’N GOEIE IDEE?
“Nie almal is baie lief daarvoor om voor die kamera te wees nie. Dit is die beste manier om te sien of jy van jou troufotograaf gaan hou en of hy/sy jou gemaklik laat voel. Dit is vir my die belangrikste ding dat kliënte gemaklik moet voel. Volgens my, is jou troudag veronderstel om ’n dag vol liefde, geluk en pret te wees. Ons lag die hele dag…”

WATTER RAAD HET JY VIR PAARTJIES WAT ’N FOTOGRAAF VIR ’N VERLOWINGSFOTOSESSIE OF TROUE MOET KIES?
“Vat iemand met hope ondervinding. Jy kan eerder ’n duur fotograaf se goedkoopste pakket vat en later worry oor die album en die ander ekstras.”

WAT IS DIE LEKKERSTE DEEL VAN JOU WERK?
“Om mense se uitdrukkings te sien as hulle van hulle foto’s hou. Dit maak my so gelukkig, dit laat my tone krul. En oor die kos by die troues gaan ek ook nie kla nie. Ek is mal oor troues! Daar is nie vir my ’n beter werk op aarde nie. As ek die Lottery wen, sal ek dit nogsteeds doen!”

DIE PAARTJIE SÊ…
HOE HET JULLE ONTMOET VOOR HIERDIE VERLOWINGSFOTOSESSIE?
“Ons het in 2013 ontmoet by Sondela Natuurreservaat waarby ons saam gewerk en studeer het. Ons was beste vriende wat verlief geraak het op mekaar.”

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR VERLIEF GEMAAK?
Andrew: “Haar liefde vir diere… as ’n mens nie keer nie, was elke weesdiertjie op ons erf.
Ek waardeer ook die manier waarop sy my besluite ondersteun, al is dit nie altyd die bestes nie. Sy het ook die lekkerste dag, wat enigiemand se dag kan beter maak.”
Mart-Mari: “Hy het ’n hart so groot soos die hemel, waar daar altyd plek is vir almal. Hy is ongelooflik lief vir sy familie en sien altyd die positiewe in alles raak.”

HOEKOM HET JULLE BESLUIT OM ’N VERLOWINGSFOTOSESSIE TE DOEN EN HOE HET JULLE DIE FOTOGRAAF GEKIES?
“Die verlowingsfotosessie was ons eerste fotosessie saam. Ons het op Simoné Venter Photography besluit oor haar sprankelende persoonlikheid, wat by ons pas en ons het elke oomblik saam geniet.”

Die paartjie droom van ’n piekniektroue onder die sterre en hierdie verlowingsfotosessie sal beslis pragtig lyk op skryfbehoeftes vir so ’n tema.

Written by Troukoors